Logo
Slim Billboard Desktop 1600x160
web uni tv guide

Nêrens, Noord-Kaap

144Drama

Shana Mans: Alles behalwe ’n poppie – Nêrens, Noord-Kaap

Nuus
29 Oktober 2021
Dit was ’n paar dae voor die tonele verfilm sou word. Sy het die aand in die gastehuis in Nieuwoudville gesit en skielik besef sy weet nie hoe om ’n skaap te vang nie.
Shana BB – Nerens Noord Kaap

“Wat kon ek maak? Ek het ge-Google: ‘How to catch a sheep’. Later ‘how to catch a big sheep’, ‘how to humanely catch a sheep’, ‘how to catch a baby sheep’. Maar toe ons die tonele skiet, en ek die ontwurmings tool in die skaap se bek moet druk, besef ek ek het nooit seker gemaak of skape byt nie,” sê Shana Mans, bekend as die veearts Lorrie Willemse in kykNET se trefferreeks Nêrens, Noord-Kaap, en lag. “Een ding wat ek wel nou kan sê, is ek het die grootste skaap in die trop gevang en ek kán ’n skaap vang.”

Aan die einde van 2020 het sy verskeie oudisies gedoen, oudisies wat deesdae amper altyd tuis opgeneem word en dan na agente, vervaardigers en regisseurs gestuur word.
“Toe my agent in Februarie vanjaar bel om te sê ek het ’n rol in ’n dramareeks gekry, was ek aanvanklik nie seker watter een van die oudisies dit was nie, maar ek het die hele tyd gehoop: laat dit asseblief die veearts wees, laat dit asseblief die veearts wees. Dít is die tipe stories wat ek wil vertel.”

Shana se wortels lê in die Paarl en sy het saam met haar ouers, Riki en Izak, en twee jongers susters, Marné en Lora, op ’n kleinhoewe buite die dorp gewoon.

“My ouers was beide 21 jaar oud toe ek gebore is en die lewe was natuurlik een groot avontuur,” vertel Shana. “Hulle is al twee motorfietsryers en ek was nog klein toe ek al met ’n valhelm op die kop in ’n side car saam met hulle begin rondrits het.”

Later het sy self begin motorfiets ry en op skool het sy WP-kleure in uithouwedrenne gekry asook Boland-kleure in gimnastiek.

“Ek was seker agt jaar oud toe ek besluit het ek wil ’n aktrise word,” sê Shana. “Wanneer ons op ’n Vrydagmiddag kon kies watter fliek ons wil kyk, het ek altyd Peter Pan met Jeremy Sumpter in die naamrol gekies. Ek het gedink ek sou ’n baie goeie Wendy wees.”

Op hoërskool het sy drama as ekstra vak geneem en ná skool is sy na AFDA, die filmskool in Kaapstad, om produksie, kostuums en stilering te studeer. In die Desember-vakansie van haar eerste jaar het sy as ekstra op ’n TV-produksie gewerk.

“Ek was veronderstel om net een dag daar te wees, maar ek het op een van die karavane op stel se trap gaan sit en vir almal wat wou luister gesê ek wil asseblief meer werk hê.”

Sy het sonder betaling in die grimeerafdeling begin werk – “ek het basies grimeerborsels gewas” – en so stadig maar seker haar pad oopgewerk. Aan die einde van haar derde jaar het sy as vervaardiger en grimeerkunstenaar begin werk. Sy is daarna vir ’n jaar Duitsland toe. “Ek het dit gehaat. Ek het die son gemis,” sê sy.

Shana was 25 toe sy besef het die drang om aktrise te wees, is steeds daar.

“In 2018 het ek voltyds begin speel en ek het nog nie weer aan ’n grimeerborsel geraak nie,” sê sy.

Dit was ook in 2018 wat sy haar kêrel, die filmmaker Rob Smith, ontmoet het.
“Ek is New York toe om by ’n vriend te gaan kuier en op die vlug terug na Suid-Afrika het hierdie man in die ry voor my gesit. Ons het baie op die vlug gesels en toe ons land, het ons nommers geruil. Ek het egter vergeet wat hy gesê het sy naam is en hy is tot vandag toe Director Smith op my foon.”

Het die feit dat sy uit ’n gelukkige gesin kom – haar hele familie het bymekaar gekom om die eerste episode van Nêrens, Noord-Kaap te kyk - en in ’n liefdevolle verhouding is ’n invloed, op haar vertolking van Lorrie?
“Ja, ek dink so. Ons weet nie presies wat met Lorrie se pa gebeur het nie, maar in my kop was hy die ultimate dad; die perfekte pa. Dit is ook hoekom sy so lief is vir Frans. Sy sien watter man hy kan wees. Sy ken hom immers vandat hulle kinders was en het Frans geken voor hy sy ma verloor het. Lorrie is ’n fixer. Sy is lig in alles in en om haar.”

Sy en Geon Nel, wat die rol van Frans vertolk, het mekaar ’n paar keer ontmoet voor die hele rolverdeling bymekaar gekom het vir die sogenaamde read through, die dag wanneer die spelers bymekaar kom en deur die draaiboek lees sodat almal weet waarheen die storie gaan.

“Dit was nodig veral omdat Lorrie en Frans mekaar so goed ken. Hulle kan amper mekaar se sinne klaarmaak,” verduidelik Shana. “Ek het glad nie geintimideerd deur hom gevoel nie. Hy is so verwelkomend as speler en mens.”

Sy het vinnig besef Nêrens, Noord-Kaap is ’n baie spesiale produksie. “Ek het net geweet hier is magic dust deur hierdie blaaie gestrooi,” sê sy.

Met die deurlees van die draaiboek saam met die ander spelers, het sy vir ’n oomblik soos ’n buitestaander gevoel. “Maar ek het vir myself gesê: Ek is Shana en ek gaan my bes probeer.”

Sy beskryf Nêrens, Noord-Kaap as ’n “droomprojek”.

“Frank (Opperman) het vir my op ’n keer op Nieuwoudtville gesê ek moet dit waardeer want draaiboeke en produksies soos hierdie kom net elke dan en wan op jou pad.”

Sy kan nie uitgepraat raak oor die gasvryheid van die mense van Nieuwoudtville nie. “Alex Nel, wat die rol van Coenraad Fick speel, woon daar en het soos familie geword. Ek het elke dan en wan by sy familie gaan eet en hy het my sy fiets geleen sodat ek die Maartblomme buite die dorp kan gaan kyk.”

As daar ’n tweede reeks is, wat hoop sy vir Lorrie?
“Ek vertrou vir Nico (Scheepers, skrywer en mederegisseur van die reeks). Ek wil niks vooraf weet nie en dit uitvind soos dit kom.”

Gaan daar dalk ’n troue in die kerk op die plaas wees?
“Dalk, maar wie?” vra sy.

In haar vrye tyd sorg Shana dat sy so besig as moontlik bly. “Enigiets om weg te bly van my foon af. Dit kan so giftig wees om die hele tyd met dit in jou hand te sit,” sê sy. Sy neem onder meer pottebakkeryklasse, ry branderplank en neem aanlynklasse om verskillende aksente onder die knie te kry. “Ek doen ook paaldans. Om fiks te bly, nie vir Maverick’s nie,” sê sy vinnig met ’n glimlag. “Ek is baie lief vir tuinmaak en droom van ’n huis met ’n groot tuin eendag. Ek is eintlik maar ’n huishen, ’n skaam aktrise wat agter ander mense se woorde wegkruip.”

Sy droom ook van ’n loopbaan buite die grense van Suid-Afrika. “Ek het ’n agent in Los Angeles en doen oudisies vir daar en ek hoop ek kan eendag in ’n periode-drama in Europa speel. Intussen werk ek in Kaapstad op soveel moontlik advertensies, baie vir die internasionale mark, doen stemwerk en hoop dat ek só genoeg geld kan verdien sodat ek kan uithou vir meer rolle soos dié van Lorrie. Ek wil net nooit die ‘poppie’ wees nie.”