Logo

SAARKIE sing oor Dullstroom

Nuus
08 Desember 2015
Die rockgroep SAARKIE het gedurende Oktober 2014 hul eerste enkelsnit, “Dullstroom”, vanaf hulle splinternuwe en derde album, Reisiger, bekend gestel en het pas die musiekvideo uitgereik.
SAARKIE
Die rockgroep SAARKIE het gedurende Oktober 2014 hul eerste enkelsnit, “Dullstroom”, vanaf hulle splinternuwe en derde album, Reisiger, bekend gestel en het pas die musiekvideo uitgereik. Die album is vroeg in 2015 uitgereik en is vervaardig deur Sean Manley en Zanda Greeff. Dit bestaan uit 12 liedjies en sluit “Afrikaland”, “Freefalling”, “Vroue van Afrika”, “Reisiger”, “Chuck Norris”, “Trust”, “One Love”, “Dullstroom”, “My jeug” en “Nader aan my” in.

“Dullstroom” gaan oor die onvergeetlike herinneringe wat in daardie klein dorpie in Mpumalanga gemaak is. Dit vertel van die beeldskone natuur, die doodse stilte in die winternagte, die kuier en lag by die plaaslike brouery en die munte op die treinspoor; elke gedeelde oomblik wat jy ryg deur jou hart en nooit wil laat gaan nie.

Adèle Fouché is die hoofsanger, en speel kitaar en mondfluitjie. Lila Botha speel dromme en is ook agtergrondstem. Lourene Mostert speel die baskitaar, klawerboard en is ook agtergrondstem. Beide Adèle en Lila is van Boksburg afkomstig en sedert kleuterskool al vriendinne. Hulle is saam na Laerskool Baanbreker en vandaar saam na Dr. EG Jansen. Lourene is van Centurion, het eers op Messina gewoon, maar toe behoorlik haar wortels in Centurion gevestig.

Oor hul nuwe album sê hulle: “Ons as SAARKIE is baie trots en opgewonde om terug te kan kyk na die harde werk en moeite wat almal ingesit het om van ons derde album, Reisiger, ’n sukses te maak. Dit was ’n ongelooflike ervaring en ’n leerskool wat ons deur diep waters gevat het, maar ook gemotiveer het om hard te werk en dinge op te offer vir wat jy in die lewe wil hê.

“Ons toer gereeld deur die land en sien soms die interessantste dorpies en mense. Wanneer ons nie op die pad was nie, het ons ‘liedjieskryf-wegbreke’ gehad na plekke soos Botswana en Mosambiek of sommer net ’n lekker kamp langs ’n dam. Ons album gaan oor die reise van die lewe asook die reise na die plekke wat soveel stories en herinneringe in ons harte ingekerf het.

“Om ’n suksesvolle album te maak in hierdie kompeterende industrie is baie uitdagend, maar ons het elke dag tree-vir-tree die struikelblokke oorkom en die inspirasie gekry om te skryf oor ons ervarings. Dit is so lekker om ons passie te kan uitleef en dit in ons liedjies met die mense te deel. Die skryf van die album het baie tyd en moeite gekos en almal wat bygedra het, het met hart en siel aan die album gewerk. Ons is baie dankbaar vir die ongelooflike span wat agter ons staan.”

Kyk die musiekvideo vir SAARKIE se “Dullstroom” hieronder: