Logo
Diepe waters
web uni tv guide

Diepe Waters

144Telenovela13 VL

Roeline geniet dit vreeslik om “mevrou dominee” in "Diepe waters" te speel

Nuus
09 Mei 2024
Haar karakter is die predikantsvrou wat reg staan om te veg vir haar rol en haar gemeente.
Roeline Daneel

Roeline Daneel, bekend vir haar rolle in FraksieBinnelanders en Fynskrif en die wenner van die beste aktrise in ’n kortfilm vir As by verlede jaar se Silwerskermfees, maak ’n draai in Diepe waters waarin sy die rol van die preutse predikantsvrou Ria speel.

Gemeentes se dalende getalle is ’n kwessie waarmee verskeie kerke sit, en dit word vandeesweek in Diepe waters aangespreek wanneer Sanet (Nadia Valvekens) en haar predikant-verloofde Ben (Eric Bouwer) uitvind dat hulle gemeente, Boskruin, en ’n buurgemeente, Môreson, moet saamsmelt. Sanet, wat baie gretig is om die rol van “mevrou dominee” vol te staan, nooi die predikantspaar van Môreson vir ete, maar sy besef vinnig die ander “mevrou dominee” gaan nie sommer haar rol en hulle gemeente opgee nie.

Roeline, vertel ons meer van jou karakter. 

Ria se man, Izak, gespeel deur Francois Coetzee, is die predikant by Môreson. Haar en Sanet se paaie kruis wanneer hulle beide moet veg vir die voortbestaan van hul onderskeie gemeentes en die loopbane van die mans in hulle lewens. Ria kom as redelik hardvogtig en koud voor, maar agter die skanse skuil ’n vrou en ma wat lief is vir haar naastes en ’n paar geheime van haar eie het.

Wat het jy die meeste daarvan geniet om “mevrou dominee” te speel? 

Ek is mal oor die rol! Ek het my doodgelag vir die oorlog tussen Ria en Sanet en die vieslike goed wat hulle mekaar toesnou terwyl hulle met teekoppies in die hand sit. Alles omtrent Ria is effens in die oortreffende trap. So, ek kon my teateragtergrond lekker gebruik om haar in te kleur.

Pak jy ’n rol anders aan as dit ’n dramareeks, fliek, sepie of telenovela is? 

Nie regtig nie. Mens berei so deeglik moontlik voor, probeer die karakter so goed moontlik verstaan, en aan die einde hoop jy dit kom oor. Daar is natuurlik stilistiese verskille tussen die verskeie genres, maar die kern bly dieselfde.

Jy en Nadia het al in ’n radiodrama teenoor mekaar gespeel. Is hierdie die eerste keer voor die kameras? 

Dis die eerste keer wat ek en Nadia op ’n TV-stel ontmoet, ja. Dit was so ’n voorreg om teenoor so ’n professionele aktrise te speel. Sy het hárd gewerk in die tyd wat ek daar was en het nooit ’n haar of ’n woord uit plek gehad nie. Mens kan sien sy is TV-fiks! Ons het tussen tonele ook vreeslik lekker gelag en gesels.

Wat is jou planne vir die res van die jaar? 

Ek vind nog my voete ná die geboorte van my tweede kind, Jan, einde verlede jaar. [Roeline en haar man, Werner Lotz, is ook ouers van die vierjarige Alexa.] Ek het al ’n paar klein TV- en filmrolle gehad en werk tans aan ’n radiodrama.

Diepe Waters is elke Maandag tot Donderdag om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144), asook op DStv Stream.