Logo

Ray Dylan se ‘Reg hier in die middel’ tref al die regte note

Nuus
02 Oktober 2015
Ray Dylan se nuutste album, ‘Reg hier in die middel’, is ’n samestelling van 13 snitte met ’n geur wat eg Dylan is.
Ray Dylan Album Cover
Ray Dylan se nuutste album, ‘Reg hier in die middel’, is ’n samestelling van 13 snitte met ’n geur wat eg Dylan is: ’n mengsel van pop, rock en selfs ’n bietjie country met sterk, kenmerkende kitaarlyne en harmonieë wat ekstra diepte en betowering aan elke snit verleen.

Dylan en sy span het penne saamgespan om ’n wye reeks gevoelens en oomblikke op papier en in musiek vas te lê: van verlies, verraad, ’n liefde wat nie bestem is om te werk nie en die “te laat doen en sê” van die regte dinge, tot lekker partytjie-naweke, die ontmoet van die een wat jou voete met die eerste oogopslag onder jou uitslaan en die vind van ’n pasmaat wat net vir jou gemaak is.

‘Reg hier in die middel’ sing van al die goed wat soos vuur in ’n man se hart brand – van snitte soos die titelsnit, “Ons skip sal kom” en “Ek sal jou moet laat gaan” tot liedjies soos “Warm girls en koue bier”, “In lewende lywe”, “Te goed om waar te wees” en “Loop soos heuning oor my”.



“Hierdie skoen gaan pas”, Dylan se duet met die gewilde nuweling, Brendan Peyper, staan ook uit as ’n prettige, voetstamp-treffer wat menige harte sommer in ’n japtrap sal verower!

Die album is ’n móét vir enige goeie musiekversameling en is nou landswyd beskikbaar.

34 ray dylan album cover