Logo

Poppie swerf nou regoor die wêreld

Nuus
06 Oktober 2020
Suid-Afrikaanse rolprentgehore en -kritici was nie die enigstes wat uitgeboul is deur die verhaal van Poppie Nongena nie.
Poppie Nongena 1

Poppie Nongena, die rolprent gebaseer op wyle Elsa Joubert se aangrypende roman Die swerfjare van Poppie Nongena, betower nou ook gehore by Europese rolprentfeeste.

Die fliek, wat vyftien benoemings gehad het vir die Silwerskermrolprentfees, is uiteindelik met 12 toekennings bekroon vir onder andere  beste speelfilm, beste draaiboek, beste regisseur, beste aktrise, beste manlike byspeler, beste vroulike byspeler en beste kinematografie. Die bekroonde regisseur, Christiaan Olwagen, is wyd geloof vir die deernisvolle manier waarop hy Poppie se verhaal uitgebeeld het, en rolprentgangers was dit eens dat Clementine Mosimane as Poppie die ster van die rolprent is. Sy het nie net die Silwerskermtoekenning as beste aktrise gewen nie, maar ook ‘n SAFTA. Anna-Mart van der Merwe en Nomsa Nene is ook  albei by onderskeidelike geleenthede bekroon as beste vroulike byspeler. 

Mosimane, wat vertel dat sy van kleins af daarvan gedroom het om eendag die rol van Poppie te kan speel, sê Poppie se verhaal is die verhaal van alle Suid-Afrikaanse vroue wat al iets te bowe moes kom, en is steeds net so relevant as toe die roman in 1978 gepubliseer is.   

Die roman, wat in 13 tale vertaal is en internasionaal gereken word as een van die bestes nog uit Afrika, het Poppie reeds ‘n wêreldbekende karakter help maak, en nou kan oorsese gehore hul verlustig in die sterbelaaide rolprent gebaseer op die draaiboek van Olwagen en die bekroonde dramaturg Saartjie Botha. Die kinematograaf Vicci Turpin, wat met ‘n Silwerskermtoekenning bekroon is as beste kinematograaf vir Poppie Nongena, is boonop benoem in die debuutafdeling van die CamerImage Kinematografiefees in Pole    

Die lys van rolprentfeeste waar Poppie Nongena sedert die begin van September vertoon is, sluit van die grootste Europese rolprentfeeste in. Dit was reeds te sien by die Film by the Sea rolprent- en literatuurfees fees in Nederland en word tans vertoon by die die Hamburgse Rolprentfees. Hierna wag die Moskou Rolprentfees en die BRICS Rolprentfees, asook die B3 Biennale-fees in Frankfurt. Die Africa in Motion in UK-fees kom vroeg in November aan die beurt, met die New Vision-rolprentfees in Amsterdam – waar dit genomineer is as beste rolprent - middel Desember.

Die regisseur, Christiaan Olwagen, neem ook via die internet deel aan paneelbesprekings by sommige van hierdie feeste.

Suid-Afrikaners wat die rolprent misgeloop het, kan dit tans aanlyn kyk as deel van GRIFF (die Garden Route International Film Festival) waar dit ook by nege inryteaters te sien is. 

Helena Spring, die vervaardiger, is verheug oor die rolprent se buitelandse sukses, en vertel dat Elsa Joubert, wat in Junie op die ouderdom van 97 aan Covid oorlede is, baie tevrede  was met hoe Poppie se verhaal op die silwerdoek ontvou het. “Dis vir my ‘n groot eer om te kon help dat Poppie se storie vir ‘n nuwe generasie hier en internasionaal vertel kon word.”

Olwagen vertel dat sy lewe onherroeplik verander het met die lees van Poppie se verhaal. “Om dit na die silwerdoek te kon bring, was my grootste voorreg.”

Poppie Nongena is moontlik gemaak danksy die ondersteuning van KykNET, M-Net, Die Departement van Handel en Nywerheid, en Arco Venture Capital.