Logo

Poppie Nongena laat gehoor in trane

Nuus
24 Januarie 2020
Poppie Nongena, die rolprent gebaseer op die bekroonde roman van Elsa Joubert, sal vanaf 31 Januarie in teaters landswyd vertoon word. Besprekings is nou oop!
Poppie Nongena Article

Johannesburg, 25 Januarie 2020: Besprekings vir die erfenisrolprent Poppie Nongena, wat landswyd in teaters te sien sal wees vanaf 31 Januarie 2020, het geopen. Die rolprent het die gehoor behoorlik betower tydens die amptelike première verlede week in Johannesburg, en het gelei tot ‘n spontane applous na afloop daarvan. Talle fliekgangers was in trane oor die spel én die emosie wat op die silwerdoek uitgebeeld is. 

“Visueel pragtig, ‘n storie wat op ‘n kragtige en delikate manier vertel is, en ongelooflike spel deur Clementine Mosimane” – Vuyiswa Mutshekwane

“’n Verbysterende mooi rolprent!” – Trevor Crighton

“Hierdie rolprent is die definisie van die kuns van storie-vertel wat na ‘n volgende vlak gelig is” – Mapepeza Media

“Die beste Suid-Afrikaanse rolprent wat ek nog gesien het” – Oliver Dickson

Die rolprent is gebaseer op ‘n ware verhaal wat vertel is in die roman Die swerfjare van Poppie Nongena, ‘n boek wat beskou word as een van die beste romans uit Afrika in die twintigste eeu.

Clementime Mosimane (Soul CityThe Wild) vertolk die rol van Poppie, teenoor Anna-Mart van der Merwe (Die Storie van Klara ViljeeKanarie), veteraan-akteurs Chris Gxalaba (Long walk to freedom, The Crown, ER, Mandelaen De Klerk), Rolanda Marais (Trackers, Wolwedans in die Skemer, Binnelanders, Out on a Limb), Dawid Minaar (Torings, Fiela se Kind, Nag van die 19de, 7de Laan, Amalia) en Lida Botha (Invictus, Susters, Windprint, Pad na jou Hart, Die Boekklub, Hollywood in my Huis).  Nomsa Nene, wat die rol van Poppie vertolk het in die destydse internasionale verhoogproduksie Poppie, speel Poppie se ma in die rolprentweergawe. 

Poppie Nongena vertel die verhaal van ‘n Afrikaanssprekende isiXhosa vrou en ma. Haar lewe draai om pogings om stabiliteit vir haar gesin te verseker nadat owerhede haar tot ‘n onwettige inwoner van haar eie land verklaar het. Die rolprent beeld haar stryd uit om toestemming te kry om te mag bly, die rondtrekkery tussen verskillende huise, aansoeke vir permitte en verlengings van permitte en hoe sy op elke moontlike manier probeer het om net by haar kinders te mag bly. 

Poppie is deurentyd in die spervuur, vasgevang tussen haar kinders se behoeftes, haar man se siekte, die gemeenskap se woede en onderdrukkende wette, en word uiteindelik tot oorgawe gedwing net toe die 1976-onluste uitbreek. 

Die bekroonde dramaturg en draaiboekskrywer Christiaan Olwagen was die regisseur en Vicci Turpin die kinematograaf. Olwagen se vorige werk sluit die hoogs aangeskrewe Johnny is nie dood nie, Die Seemeeu en Kanarie in 

Die rolprent se invalshoek is baie persoonlik. “Hoewel dit handel oor ‘n lewe van stryd, is dit vol humor, hoop, teerheid en vermaaklike insigte. Dit bied ‘n blik op ‘n tyd in die geskiedenis waaruit almal van ons baie kan leer,” sê die vervaardiger Helena Spring. “Poppie se uiters persoonlike ervarings, haar diepgewortelde liefde vir haar man, haar liefde vir haar kinders en haar formidabele innerlike krag sal oud en jonk inspireer. Sy put betekenis en inspirasie uit die moeilikste oomblikke van haar lewe.” Spring het onlangs onderneem om die rolprent te gebruik om ‘n verskil in die lot van vroue te maak.  “Ek sal 10% van die vervaardiger se winste uit die rolprent skenk aan organisasies wat hulle beywer om geslagsgeweld in Suid-Afrika te beëindig,” het sy gesê.

“Poppie Nongena se storie is ‘n kragtige verhaal wat ‘n interessante blik plaas op medemenslikheid in ‘n onmenslike stelsel” het Karen Meiring, M-Net: Direkteur kykNET-kanale, gesê.

Poppie Nongena is moontlik gemaak deur die ondersteuning van kykNET, M-Net, Die Departement van Handel en Nywerheid en Arco Venture Capital.

Kliek hier om te bespreek om dié film te sien.