Logo
Plaasjapie
web uni tv guide

Plaasjapie

144RealiteitPG13 L

Plaasjapie-wenner deel sy gunsteling kykgenot op kykNET

Nuus
13 Oktober 2022
Dian Louw, Plaasjapie-wenner, onthul hy het 'n DVD-reeks gekoop van sy gunsteling komedie-reeks vir sy kinders sodat hulle sy humorsin kan verstaan. Lees meer.
Dian Louw Plaasjapie wenner

Vertel jou gunsteling televisie-programme 'n bietjie oor wie jy is? 

Dian Louw, die eerste wenner van die Plaasjapie-reeks, bieg hy het die reeks Hotel oor en oor gekyk en het uiteindelik die DVD-reeks gekoop sodat sy kinders sy humorsin kan verstaan.

In die onderhoud met kykNET vertel hy ook waarom hy tv-programme soos Devilsdorp geniet het, wie sy gunsteling TV-aanbieders is, en waarom sekere TV-programme vir hom spesiaal is. Hier is sy weeklikse TV-gids wat sy gunsteling televisie-programme deurgee.

Maandae tot Donderdae

Diepe Waters het my in die eerste paar minute aangegryp met die verdrinking van iemand- en ek kyk elke dag vir leidrade! Dis 'n klomp goeie akteurs saam en ek hou van die swem konsep omrede ek self geswem het, maar ook oor dit vars is en ek weet die Swarts-familie gaan sorg vir baie drama om nie eers al die Afrikaanse ouers langs die swembad te noem nie wat almal hulle drome deur hul kinders probeer uitleef. Ek kan ook sien daar gaan 'n hele paar kwessies aangespreek word soos Karla se eetversteuring wat begin kop uit steek. En ek is dankbaar Sanet is nie my skoonsuster nie😜 en ek hoop Tsepho swem stof in almal se oë wat hom so onderskat. #underdog

Maandae

Devilsdorp: Sjoe, my vrou kon dit nie klaar kyk nie oor sy voel dis te erg; maar ek het die storie in die nuus gevolg en het sielkunde 3 agter my naam so ek hou maar van 'n ‘true crime’ verhaal wat ek mense kan probeer diagnoseer met my bietjie kennis, maar ook kan verstaan hoekom mense sekere goed doen. Dis wel nie 'n goedvoel-program wat ek gekyk het voor ek gaan slaap nie, maar die storie-vertelling van Jana Marx was boeiend.

Dinsdae

Dinsdagaande om 20h00 is ook uitgebook vir al die spanning en drama; van saam raai wie het in die nuutste seisoen Spoorloos verdwyn tot wie is verantwoordelik vir die verdwyning (Hannes van Wyk het nie 'n goeie rekord in ons huishouding nie - al het hy as Prof in die nuutste seisoen homself so bietjie redeem - gaan ek hom seker weer verdink). Dit is dan ook vervang met al Schalkie se manewales in Fraksie en ek moet sê ek weet nie of ek vir Schalk met my miljoen sal vertrou nie - hy is net té wys! Maar ek geniet die karakters en die drama verskriklik baie; my vrou wou dit eers nie saam my kyk nie, maar toe sy sien hoe Nina vir Schalk in die swemband stamp met hulle dogter se 16de (verjaarsdagpartytjie) toe is sy gehook en toe begin ons weer by episode een, dat sy darem agter die kap van al die drama kom.

Woensdae

Kyk wie praat is een van gunsteling programme wat ek oor en oor kyk, want die klein klitse is net te ougat - van Kieran wat sê hy dink ‘ontkiem’ is seker sy ‘auntie Kim’ tot Zoey wat sê meeste mense verwys na dit as ‘n ‘oogappel’ maar sy en haar ma noem dit sommer 'n ‘karkatjie’. Ek en my vrou lag te lekker vir hulle onskuld en raai saam met die deelnemers of ons dink die klits gaan weet of nie. Ek moet dan seker bysê ek wen my vrou elke week vêr - ja ons hou telling😉

Prontuit hou ek dop waaroor Kabous gesels; en ek het die episode oor pleegsorg en aanneming baie geniet veral oor dit iets is wat my baie na aan die hart lê.

Dankie, Lottoland is vir my hart. Ek het uit en uit 'n gee-hart en het self vir nege jaar by 'n skool vir minder bevoorregte kinders gewerk en saam oumensies wat nie families het nie kaart gespeel op Vrydae so dis my goedvoel program wat altyd sorg vir trane. Dis net lekker om te sien hoe ander geseën word vir die seëning wat hulle is! Definitief my inspirasie program!

Donderdae

Plaasjapie het ek verskriklik baie geniet om te sien wat al die stadsjapies op die plaas aanvang. Dit was sommer net lekker lig, maar het regte mense gewys. Dit was ook oulike uitdagings en al die deelnemers was amazing mense, maar ek het veral baie aanklank gevind by die wenner 😜. Ek sien uit vir nog baie seisoene!

Wie’s Nuus saam Mia Spies: As Mia dit nie gesê het nie, het dit nie gebeur nie. Ek het altyd na Waldimar Pelser op kykNET Verslag gekyk, maar my weeklikse nuus het nou spasie gemaak vir Mia.

Saterdae

Met Ontbytsake geniet ek Dawie Roodt se ekonomiese kennis en verslag verskriklik baie en Eloise Cupido is een van my gunsteling mense van Belboks se dae af en hulle dinamika en interessante onderhoudvoering is ook net lekker vars. Ek is bly Leon Gropp het sy snor afgeskeer en ek geniet ook die kosmaak en positiwiteit wat die program uitstraal.

Ek geniet nogals die Saterdagaande films en het Dina Dagbreek, Vredesduiwe en Miss Delivery ook geniet. Vir die Voëls is ook een van my gunsteling flieks (ek het die DVD ook om dit eendag vir my kinders te wys).

Sondae

Bravo! Hierdie is my Sondagaand terugsit en opvang met alles en almal in die glanswêreld. Ek geniet net hoe hulle mens so blik gee op wat nuut is asook die relevante manier wat hulle hul gaste uitbeeld. Puik aanbieders!

Kwêla is van kleins af 'n treffer toe dit nog Coenie se bank was. Ek geniet hoe Hannes en die veldaanbieders hulle gaste benader, maar die kykers video’s sal altyd 'n gunsteling bly - ons lag altyd en bewonder die natuur skoonheid.

Ek is maar stout vir bietjie Nataniël, so enige iets wat hy aanpak is vir my 'n treffer. Ek sien uit wat hy en sy broer in hul nuutste program gaan kook asook al Nataniël se gesegdes (ek lees ook al sy boeke). Hy kan maar net 'n storie soos min vertel en sy eenvoudige koekieresepte move my!

Programme waarna hy uitsien

Ek sien ook uit om Die Real Housewives van Pretoria te ontmoet; om die mense agter die drama te ontmoet - ek glo hoop en vertrou hulle het darem almal bietjie diepte en karakter en dat hulle nie net wêrelds leef nie - maar vir dit sal ek maar moet sien!

Die Groenste Vingers - wat 'n oulike konsep! Hierdie mense is kreatief, dramaties en hulle dink uit die boks! Ek is mal oor die beoordelaars (Leon en Franz) en kan nie wag om te sien watter uitdagings hulle in die tweede seisoen uitdink nie! Ek het gehoor daar gaan tot 'n plaasjapie 'n verskyning maak.

Wie word 'n miljoenêr is ook 'n gunsteling bloot oor ek van algemene kennis hou - alhoewel ek heelwat by Riaan leer (of gou kan google).

Wat hy mis op die kassie

Elders, wat 'n vars en oulike program is - ek hou van die konsep om saam met iemand vir 'n wyle te stap en hulle storie te hoor terwyl mens die mooi van ons land aanskou. In die nuutste seisoen het Karen Meiring se gesprek asook Thuli Madonsela s’n uitgestaan.

Fynskrif, die Boekklub, Troukoors, Zoid Afrika en Dinge van 'n kind is ook stories/programme wat uitgestaan het. Ek het ook Hotel oor en oor gekyk en het op die ou einde die DVD-reeks gekoop sodat my kinders my humorsin kan verstaan!