Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Orgaanoorplanting: Jy kan tot 57 mense help – Binnelanders

Nuus
13 Julie 2021
In ’n dramatiese wending het Elana se gesondheid ’n ernstige knou gekry en moet haar broer, George (Tiaan Rautenbach), besluit of hy vir haar ’n nier gaan skenk, maar sy vrou wil ‘n stokkie daarvoor steek.
ep22 3

Orgaanoorplanting kan in twee kategorieë opgedeel word: organe en weefsel. Onder organe wat oorgeplant kan word, is die hart, lewer, pankreas, niere en longe. Onder weefsel wat oorgeplant word is die kornea (horingvlies) van die oë, vel, been, tendons (senings) en hartkleppe. Een persoon se hart, lewer en pankreas kan tot drie lewens red en jou niere en longe kan tot vier persone red. Jou weefsel kan tot 50 persone help.

Skenkers kan eweneens in twee kategorieë gedeel word – lewende skenkers en oorlede skenkers. Lewende skenkers kan vel, weefsel, bloed of organe of gedeeltes van organe (soos byvoorbeeld een nier of ‘n deel van die lewer) skenk. Oorlede skenkers wat breindood verklaar is, se organe kan aan die lewe gehou word totdat dit ge-oes word.

Orgaanoorplanting: ‘n Tydlyn

  • 1905: Eduard Zirm, ‘n Oostenrykse oogkundige, doen die eerste kornea-oorplanting en herstel die sig van ‘n man wat blind geword het ná ‘n ongeluk.
  • 1912: Die Fransman Alexis Carrell ontvang die Nobelprys vir sy werk. Hy het ondermeer metodes ontwikkel om bloedvate te heg en het suksesvolle nieroorplantings op honde gedoen.
  • 1936: ‘n Dokter van Oekraïne, Yurri Voronoy, plant ‘n menslike nier oor. Die ontvanger sterf kort daarna as gevolg van verwerping.
  • 1954: In die laat 1940’s en vroeë 1950’s het ‘n groep dokters in Boston in Amerika ‘n reeks nierweefseloorplantings gedoen. In 1954 het hulle ‘n nier van een tweelingbroer na die ander oorgeplant wat suksesvol was.
  • 1960’s: Die eerste long-, pankreas- en leweroorplantings vind plaas.
  • 1967: Prof. Christiaan Barnard maak wêreldwyd geskiedenis to hy ‘n hartoorplanting in Kaapstad uitvoer en Louis Washkansky word die eerste pasiënt wat die operasie oorleef.
  • 2008: Dr. Elmi Muller en haar span word baanbrekers toe hulle ‘n nier van ‘n persoon wat HIV-positief is suksesvol oorplant in ‘n ander persoon wat HIV-positief is.
  • 2010: Spaanse dokters word die eerstes in die wêreld om ‘n totale gesigoorplanting te doen.
  • 2014: ‘n Span uroloë en chirurge by die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad maak geskiedenis toe hulle die eerstes word om ‘n penis oor te plant. Die ontvanger was ‘n 21-jarige man wat sy penis tydens ‘n inisiasie-prosedure verloor het.
  • 2016: ‘n Vrou wat sonder ‘n baarmoeder gebore is, kry suksesvol een in ‘n oorplantingsoperasie. Sy het later ook suksesvol swanger geraak.

Orgaanoorplanting in Suid-Afrika
Die Orgaanstigting van Suid-Afrika (Organ Donor Foundation of South Africa) is ’n nie-winsgewende organiasie wat in 1988 gestig is om die ernstige tekort aan orgaan- en weefselskenkers aan te spreek.

Om ’n orgaanskenker te word, kan jy registreer op hulle weblad – www.odf.org.za – of hulle tolvrye nommer – 0800 22 66 11 – skakel. Hulle sal dan vir jou ’n kaart stuur wat jy moet invul en in jou beursie moet hou. Hulle sal ook vir jou plakkers stuur wat jy op jou ID-dokument en bestuurslisensie moet plak. Dit is baie belangrik dat jy dit met jou familie en naastes bespreek sodat hulle weet dat jy as orgaanskenker geregistreer het. Ouers moet geskrewe toestemming gee vir hulle babas, kleuters en tieners onder 18 om orgaanskenkers te word.

Daar is geen kostes aan verbonde om as skenker te registreer nie. Wanneer jy sterf en jou organe word ge-oes, is daar ook geen kostes vir jou naasbestaandes nie. Daar is egter geen betaling vir die organe nie aangesien dit ontwettig is om in organe handel te dryf.

In 2020 is daar berig dat daar ongeveer 4300 volwassenes en kinders in Suid-Afrika is wat op oorplantings wag wat hulle lewens kon red. Net sowat 600 oorplantings word jaarliks plaaslik gedoen. Slegs 0,2 persent van Suid-Afrikaners is orgaanskenkers.

Bekendes wat orgaanoorplantings gekry het

  • Die Amerikaanse akteur Mandy Patinkin (Homeland) het twee kornea-oorplantings in onderskeidelik 1997 en 1998 gekry.
  • Die filmregisseur Robert Altman het in 2005 toe hy ‘n Oscar-toekennings vir sy lewensbydrae gekry het, erken dat hy elf jaar tevore ‘n hartoorplanting gehad het.
  • Dick Cheney, vise-president van Amerika van 2001 tot 2009, het in 2012 ‘n hartoorplanting gehad.
  • Die akteur en komediant George Lopez het in April 2005 ‘n skenker-nier van sy vrou Ann gekry.
  • Sarah Hyland, bekend as Haley in Modern Family, is as kind met nier-displasie gediagnoseer. Sy het in 2012 ’n nier van haar pa ontvang, maar die nier het na ’n paar jaar opgehou werk en sy het toe ’n tweede oorplanting in 2017 gehad. Haar jonger broer Ian was die skenker.
  • Tina Turner het in 2014 ’n nier van haar man, Erwin Bach, ontvang.
  • Larry Hagman, oftewel JR Ewing van Dallas, het in 1995 ‘n leweroorplanting gekry. Hy is in 2012 in die ouderdom van 81 oorlede.

Besoek hierdie webblaaie indien jy meer wil uitvind of as ‘n skenker wil registreer:
www.odf.org.za
https://burncare.co.za/national-skin-bank-south-africa/
https://dkms-africa.org
https://sabmr.co.za

Gesels saam op Facebook, Twitter en Instagram en onthou om weeksaande om 19:30 in te skakel vir die jongste drama en intrige wat in die gange van Binnelanders uitspeel.