web uni tv guide
web uni tv guide

Oppiestoep

144GeselsprogramPG13

Oppiestoep vier tien jaar van stories op kykNET

Nuus10 Februarie 2026
Die gewilde storievertel-reeks Oppiestoep bereik ’n belangrike mylpaal met die bekendstelling van Seisoen 10, wat op Vrydag, 27 Februarie om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) afskop.
Oppiestoep

In sy tiende jaar bly Oppiestoep getrou aan die wenresep wat die program so gewild maak: ’n ontspanne kuier waar stories eerlik, snaaks en soms hartroerend vertel word. Pietman Geldenhuys en Lyntjie Jaars is weer aan die stuur as aanbieders en neem die leiding in gesprekke met ’n verskeidenheid vertellers.

Die tiende seisoen is in die skoolsaal van die Hoër Landbouskool Boland buite Paarl opgeneem. Vir Lyntjie was die ligging spesiaal: “Dit was vir my ’n hoogtepunt dat ons by Pieta se hoërskool kon opneem. Om weer op te vang, ou vriende te sien en nuwes te maak, was hartverblywend.”

Die reeks sluit sowel bekende name as nuwe stemme in, insluitend:

  • Riaan Cruywagen
  • Mel die Storieverteller
  • Traver Brikkels
  • Hein Wagner

Pietman verklap dat kykers kan uitsien na nuwe staaltjies, maar ook na ’n terugblik op die afgelope dekade. “Ek sien veral uit na die opwindende nuwe storievertellers en die hoogtepunte van wat oor die jare vertel is. Dit was ook ’n groot voorreg om vir Riaan Cruywagen te sien skater,” sê Pietman.

Lyntjie voeg by dat die tiende verjaarsdag ’n tyd van refleksie is: “Dit is spesiaal om terug te kyk na die hoogtepunte oor die 10 jaar, en veral om eer te betoon aan die legendes wat ons reeds ontval het.”

Vir die eerste keer word die program vergesel deur die Oppiestoep Orkes, onder leiding van Schalk Joubert. Die musiek sorg vir die perfekte afronding van die nostalgiese en gesellige atmosfeer waarvoor die program bekend is.

In ’n vinnige wêreld bied Oppiestoep ’n noodsaaklike blaaskans. Pietman glo die program tref ’n snaar omdat dit universeel is: “Dit is iets waarmee almal kan vereenselwig; dit roer nostalgie by almal wat kyk. Min mense vertel deesdae vir mekaar stories omdat tyd so min geword het.”

Lyntjie beaam dit: “Daar is ’n spreekwoord wat sê ‘die lewe wil geleef wees’. Oppiestoep het die vermoë om jou te transporteer na daardie goeie plek waarna almal uitsien na ’n lang dag. Waar jy jou televisie aanskakel, terugsit, lag en geniet.”

Skakel in vir Oppiestoep vanaf Vrydag, 27 Februarie om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.