Logo
Taktiek S1 Slim BB
web uni tv guide

Taktiek

144Komedie13 L

Ontmoet die karakters van Taktiek – kykNET se nuwe komedie

Nuus
15 September 2023
kykNET se splinternuwe komedie, Taktiek, begin Maandag 2 Oktober om 20:00 en spog met van die grootste name in die lagbedryf.
Taktiek

Taktiek gaan oor ’n sekuriteitsmaatskappy in die veiligste dorp in die land en is vervaardig deur Nagvlug Films, wat ook vir die Safta-bekroonde trefferkomedie Hotel verantwoordelik was. Die reeks is geskryf deur Bennie Fourie, Ryan Metcalfe, Beer Adriaanse en Stiaan Smith.

Wie is wie in die reeks?

Bennie Fourie is Goose. Sy familie het na Nieu-Seeland geëmigreer, maar hy het gebly om die land veiliger te maak sodat hulle kan terugkom. Hy is bang vir niks behalwe emosie nie.

“Dis een van die voordele daarvan om een van die skrywers te wees van ’n reeks waarin jy speel – jy kan ’n karakter skryf wat jy graag wil speel,” sê Bennie. “Goose is hierdie ou wat ’n blinde selfvertroue in homself het en werklik glo dat hy die land gaan red sodat sy ouers kan terugkom. Hy het groot drome, maar is vasgevang in ’n klein dorpie; ’n geval van in die land van die blindes is eenoog koning.”



Schalk Bezuidenhout is Attie, en hy doen IT by Taktiek, maar het drome om ’n sekuriteitswag te word.

“Eerstens was die uitdaging van ’n nuwe karakter baie lekker,” sê Schalk. “Ek was Danny in Hotel vir vyf seisoene, en ek sou selfs meer seisoene wou doen, maar afwisseling is belangrik en hou dinge interessant. Attie en Danny kan nie meer verskil nie, en ek moes van voor begin met karakterontwikkeling. Dis ook vir my belangrik om vir die kyker met elke karakter iets nuuts te gee wat geheel en al verskil van wat hulle al voorheen van my gesien het. Ek is ’n enigste kind en het gedink dis sou lekker wees om nie net ’n boetie of sussie te hê nie, maar deel van ’n tweeling te wees.”



Mandri Sutherland is Attie se tweelingsuster, Mignon, ’n 50-jarige vasgevang in ’n 30-jarige se lyf. Die laaste ding wat sy moet doen, is kommunikasie, maar sy is die een wat al die oproepe hanteer...

“Snaaks genoeg is Mandri ook ’n enigste kind,” sê Schalk. “Ons het dit al twee geniet om die dinamika tussen boetie en sussie te ontdek.”



Keeno-Lee Hector is Willy Brown, Goose se beste vriend en ook ’n sekuriteitswag.

“Die karakter is so goed geskryf, en elke toneel was ’n plesier,” sê Keeno-Lee. “Bennie en Beer [Adriaanse, die mede-regisseur] het ook die veiligste kreatiewe atmosfeer geskep. Ons het die ruimte gehad om te speel, en baie van die tonele begin of eindig met skreeusnaakse, onvoorbereide dialoog. Maar die verhouding tussen Willy en Goose was vir my die mees bevredigende – almal het so ’n vriend nodig!”



James Borthwick is te sien as Venter, ’n knorrige oorlogsveteraan wat al lankal moes aftree, maar as sekuriteitswag werk om die pot aan die kook te hou.

“Die feit dat selfs ouer mense soos ek darem ’n ou werkie kan kry, is vir my die hoogtepunt,” sê James, ’n veteraanakteur en Safta-wenner vir sy rol as Ferdie in Hotel.



Deon Lotz is Jorrie, die skelm sakeman wat tjoekie toe gestuur word, en Marion Holm is Karen, Jorrie se eksvrou met ’n onbetaamlike liefde vir geld.

“Wat ek die meeste van Karen geniet, is dat sy so reguit sê wat sy wil en nie vir ’n oomblik dink dat sy dalk, net dalk, verkeerd kan wees nie,” sê Marion.  



Jorrie en Karen se dogter is Lisa (Leché Joubert) en in ’n sameloop van omstandighede, word sy die baas van Taktiek.

“Lisa is ’n warrelwind van emosie en is nie bang om dit te wys nie. Dit was so lekker om deur haar net te let go. Hierdie is my eerste komedie, en sy was die perfekte karakter,” sê Leché. “Op die oog af lyk sy soos jou tipiese neus-in-die-lug stadsmeisie, maar sy het ’n kinderlikheid aan haar wat nooit kans gekry het om uit te kom nie. Sy is besig om haar eie identiteit te skep en dit was ’n opwindende proses om daardie identiteit saam met die karakter te vind.”



Bronwyn (Melissa de Vries) werk by die plaaslike kroeg. Sy en Willy Brown was ’n paartjie, maar dinge was ingewikkeld en toe werk dit nie uit nie. Maar tog kruis hulle paadjies steeds gereeld en lyk dit asof daar dalk nog ’n vlam mag wees.

Melissa sê dit was baie lekker om haar karakter te speel. “Bronnie is bad-ass. Ek love haar sarkasme, en sy sê soms goed wat ek as Melissa nooit vir mense sal kan sê nie.”



Ander spelers wat in gasrolle te sien is, sluit in Ludwig Binge as Arend, Lise se skatryk verloofde wat haar verlaat omdat hy nie kans sien vir haar familie se skandes nie, Donnalee Roberts, Leandie du Randt, Devonecia Swartz, Antoinette Kellermann en André Weideman.

Taktiek begin op Maandag 2 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op Catch Up en DStv Stream beskikbaar wees.