Logo

Nuwe seisoene van gewilde kykNET-reekse terug in April

Nuus
19 Maart 2024
Van luukse vuurwaens en onderhoude met bekendes tot braai en feesvier. In April is van kykNET se gewildste leefstylprogramme terug met splinternuwe seisoene.
AFP



La’t wiel
vier binnekort ’n groot mylpaal wanneer die 30ste seisoen van hierdie gewilde motorprogram Dinsdag 2 April om 17:30 op kykNET begin. Dis boonop dié program se 21ste verjaarsdag. Die reeks se deurwinterde aanbieders, Hannes Visser en Waldo van der Waal, gaan oudergewoonte ’n groot verskeidenheid spogwiele toetsbestuur en stories vertel wat motorgeesdriftiges baie sal geniet. Die La’t wiel-span skuif agter die stuur van ’n string interessante karre in, insluitend ’n paar elektriese modelle en van die vinnigste BMW’s wat nog ooit gemaak is. Chinese motors, wat uiteindelik begin om hul merk in die plaaslike mark te maak, kom onder die loep – onder meer die GWM se indrukwekkende Tank 300. Die span maak ook ’n draai by die Beijing-motorskou en sit natuurlik voet in die hoek wanneer hulle ’n opwindend kykie in die wêreld van motorsport gee.

La’t wiel begin op Dinsdag 2 April om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).



Fiësta, wat al meer as 20 jaar op die lug is, reis weer die land vol agter feeste, skoue en ander byeenkomste aan – dié keer ook met twee nuwe aanbieders. Lundi Khoisan en Wicus Pretorius is steeds voor die kameras, en nou sluit Elsa Esterhuizen en Rumacques Gelderbloem by hulle aan. Die nuwe seisoen skop glansryk af met die swierige kykNET Fiësta-toekenningsgeleentheid wat onlangs in Kaapstad plaasgevind het. Daar word ook besoek afgelê aan die Ramadan & Lifestyle Expo, die KKNK, die Afrikaans Oppi Platteland-musiekfees in Malmesbury en die Stilbaai-boekefees.

Fiësta is vanaf 7 April in ’n nuwe tydgleuf op Sondae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).



Jan Braai vir erfenis neem die Ontspan-toer kuslangs in die Kaap vir die nuwe seisoen. Hulle spring weg in Seepunt en Kampsbaai, maak ’n draai in Houtbaai, Noordhoek en Kommetjie en reis dan tot in Kleinmond, Onrus en Hermanus.

Jan Braai vir erfenis begin op Saterdag 6 April om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).



Safari-roetes is terug vir ’n tweede seisoen en gaan weer wys waar jou 4x4 jou oral kan neem. In die nuwe seisoen ry die span, onder meer, die ou ossewa-roetes van die Wes- en Suid-Kaap, onder leiding van die gids Nico Hesterman, en hulle sleep só hul karavane tot by van die land se mooiste kampeerplekke.

Safari-roetes begin op Maandag 8 April om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).



Hannes aan huis se tiende seisoen is hier, en die sjarmante Hannes van Wyk wys weer waarom hy so ’n innemende én gedugte gesprekvoerder is. Hy huiwer nooit om reguit vrae te vra nie. Van die gaste in hierdie seisoen is die musiekvervaardiger Boet Pretorius, wat legendes soos Gé Korsten, Min Shaw en Carike Keuzenkamp op hulle pad na bekendheid gehelp het, die pianis Charl du Plessis, die filantroop Carolyn Steyn, die musiekpromotor Lydia Winchester, die sangeres Karin Hougaard, en Phoebe Gerwel, stigterslid van die Jakes Gerwel-stigting en beskermvrou van die Suidoosterfees.

Hannes aan huis begin op Dinsdag 2 April om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).



Wanderlus se derde seisoen neem kykers op ’n nuwe opwindende reis deur Suid-Afrika. Die avontuurlustige egpaar Hennie en Nicole Bosman delf weer diep in die hart van Suid-Afrika se skoonheid, avontuur en kultuur. Kykers kan uitsien na onvergeetlike oomblikke soos die verkenning van die indrukwekkende Victoria-watervalle, lugballonvaarte, reise van die Drakensberge tot Dullstroom en kampeer onder die sterre.

Wanderlus begin Saterdag 6 April om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).



Lottoland: Help ’n dorp gaan ook in die tweede seisoen ’n reuse-verskil in dorpe dwarsoor die land maak. Saam met Leah, wat weer die program aanbied, gaan die span wys hoe gewone mense moue oprol om ’n verskil in gemeenskappe te maak. Van die dorpe wat in die nuwe seisoen gehelp word, sluit in Prins Albert, Citrusdal, Nieuwoudtville, Vosburg, Williston, Fouriesburg en Vaalwater.

Lottoland: Help ’n dorp begin op 10 April om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).



Spasie se derde seisoen gaan nogmaals wys hoe klein spasies in wonderwonings verander kan word en hoekom al meer mense afskaal en kleiner begin lewe. In elkeen van die dertien episodes ontmoet kykers iemand wat op slim maniere kleiner leef. Daar sal oorgenoeg inspirasie wees, want die reeks wys hoe elke projek van begin tot einde deurgevoer word.

Spasie begin op 5 April om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).