Logo

Bun Booyens: Nuwe bloed by MegaBoere

Nuus
21 September 2016
Vir die nuwe seisoen van MegaBoere skuif Bun Booyens voor die kamera in. Hy gesels met ons in die jongste uitgawe van Digityd.
Bun Booyens Digityd

Die eerste twee seisoene van MegaBoere was een van die gewildste programme op die kassie. Vir die derde seisoen skuif die oud-tydskrif- en -koerantredakteur Bun Booyens voor die kamera in. Hy vertel meer oor homself.

Sy CV is indrukwekkend. Drie grade, die laaste ’n M.Phil. in joernalistiek wat hy cum laude verwerf het – ’n jaar in Antartika, stigtersredakteur van die reistydskrif Weg!, en twee toekennings in 2006 as Redakteur van die Jaar.

Vertel ons van jou kinderdae en skool- en universiteitsjare.

Ek is op Oudtshoorn gebore, maar vandat ek my verstand het, het ons op Stellenbosch gewoon. My pa was ’n geskiedenisprofessor, en toe ek vyf jaar oud was het hy ook die koshuisvader van een van die studentekoshuise geword. Dit was waarskynlik dié voorreg van my lewe, want daar was altyd iets aan die gang.

Skool was lekker en ek was met als iewers in die bondel. Vandag is baie van my klasmaats steeds vriende en ons sien mekaar gereeld. Ek het destyds al in die joernalistiek belang gestel en vir die skoolkoerant gewerk. Ek het vir die laer spanne rugby gespeel, maar het meestal landloop gedoen – ek geniet dit my lewe lank om te draf, maar mag dit nou nie meer doen nie, weens ’n motorfietsongeluk ’n paar jaar gelede. Universtiteit was ook heerlik en ek moes waarskynlik ’n bietjie harder geswot en minder gereis het, maar ek het darem betyds graad gevang.

MegaBoere benader nuwe horisonne

Jy’s ’n joernalis in murg en been…

Ek het by die destydse SAUK in Johannesburg by televisienuus begin as ’n videoredigeerder, maar toe terug Kaap toe gekom en by Die Burger begin werk as verslaggewer – die eerste van drie skofte by die koerant. Ek het tussendeur ’n paar ander dinge gedoen: by die Wêreld-natuurfonds van Suid-Afrika gewerk en klas gegee by Maties se joernalistiekdepartement. Die opwindendste hoofstuk was waarskynlik toe ons die reistydskrif Weg! in 2004 begin het. Dit was nogal intens, maar die span mense daar – die skrywers, fotograwe, kunstenaars en uitgewers – was van die talentvolste en mees gemotiveerde mense met wie ek nog kon saamwerk.

Die afgelope ses jaar was ek weer by Die Burger as redakteur en dit was ’n voorreg om saam met hierdie wonderlike koerant en sy lesersgemeenskap sy eeufees te bereik. Koerantmense bly ook van die interessantste karakters wat jy kan hoop om teë te kom.

Nou wag daar op jou plase, boere en trekkers…

Suid-Afrikaners is verbonde aan die grond – die bodem – meer as enige ander nasie wat ek al teëgekom het, maar om te boer is een van die moeilikste bedrywe waarin jy jouself kan begeef, omdat jy uitgelewer is aan soveel veranderlikes wat buite jou beheer is: die weer, die wisselkoers, die mark, die politiek…

Die boere wat ek ken is ondernemende mense: tegnologies is hulle gewoonlik ’n tree of drie voor dorpenaars. Hulle is prakties, weet hoe om te woeker en kyk verder as môre vooruit.

Hierdie artikel is ’n uittreksel uit kykNET se digitale tydskrif, Digityd. Lees die volledige artikel hier.

MegaBoere se derde seisoen begin op 5 Oktober 2016 om 20:00 op kykNET. Lees meer hier.