Logo
Fraksie Slim BB
web uni tv guide

Fraksie

144Drama13 VL

Fraksie: Hierdie was my hoogtepunt

Nuus
04 Januarie 2023
Akteurs en vervaardigers van die dramareeks Fraksie onthul hulle spesiale oomblikke agter-die-skerms, sowel as voor die kamera.
Fraksie

Fraksie het kykers die afgelope sewentien weke vasgenael gehou en heelwat gesprekke tot gevolg gehad. Van die betrokkenes, voor én agter die skerm, vertel wat hulle hoogtepunte was.

“Wanneer Louis Pretorius en Albert Snyman ’n reeks skep, moet jy weet hulle skep karakters waar akteurs hulself pens en pootjies kan ingooi. En hulle het wat wonderlik was om te sien. Die werk wat elke speler gedoen het en hoe hulle die lae van hulle karakters ontgin het, het my aangegryp. Dan was Sunel Haasbroek, die kameraregisseur, en die tegniese span wonderlik. Hulle het werklik vir die spelers ’n veilige ruimte geskep waarin hulle hul beste werk kon lewer.” – Nina Swart, regisseur

“Vir my is die uiteindelike hoogtepunt hoe al die verskillende departemente – van die skryfproses tot verfilming en uiteindelik na-produksie – almal saamgespan het om Fraksie te maak. Almal het geglo in die storie en hulle absolute beste gegee om ’n eindproduk daar te stel wat ek as een van ons produksiehoogtepunte tel.” – Louis Pretorius, hoofskrywer en uitvoerende vervaardiger

“Die hele proses was ’n hoogtepunt omdat dit so ’n groot voorreg is om ’n reeks vir die kykNET-gehoor te maak. Maar ek kan wel iets vertel wat buitengewoon was en wat my donners trots gemaak het – en ook lekker laat lag het. Ek is ’n groot rugbyliefhebber en het met die sewestoernooi in Kaapstad op my selfoon na die wedstryd tussen die Blitsbokke en Samoa gekyk. Die volgende oomblik begin die Engelse advertensie vir Fraksie speel en my kop het omtrent ontplof. Ek kon nie glo een van ons programme word tydens so belangrike wedstryd geadverteer nie. My gedagtes het begin raas en ek het gewonder of daar êrens Springbokke of oud-Springbokke is wat die advertensie sien en dalk die reeks sal kyk. Op daardie oomblik begin my foon lui en dis my skoonma. Ek sê toe dadelik ek het die advertensie gesien, maar sy het eintlik gebel om te sê die ref is pateties!” – Albert Snyman, uitvoerende vervaardiger en storieontwikkelaar

“My persoonlike hoogtepunt was die verfilming van die trio-toneel tussen Jana, Schalk en Tim aan die einde van episode 17, die finale episode.” – Trix Vivier (Jana)

“Was beslis, en dit klink eenvouding, maar dit was die spelers en die span agter die skerms waarmee ons gewerk het. Dit is min dat jy met ’n span spelers werk waar almal goed oor die weg kom, ook met die crew. Dit was altyd lig op stel, ’n vreugde. Selfs met donker tonele was daar lig. Dit help veral as jy ’n komplekse karakter soos myne speel. Jy stap van ’n toneel af en loop in Duane en Melt vas wat grappies maak of iemand vra of hulle saam met jou deur jou lyne kan gaan of Sunel vra of alles OK is. Dit was ’n voorreg.” – Edwin van der Walt (Schalk)

“Daar was ’n intense periode van drie weke waar ons al die tonele in die kantore moes skiet. Dit was lang dae. Tussen alles deur het Nina aan my en Edwin ’n aanbod gemaak wat ons nie voor nee kon sê nie: Sy bied ons die geleentheid om elke twee tonele, waarin ons nie speel nie, te direct. Hoe kon ons nee sê? Die rush daardie dag op stel sal ek nie gou vergeet nie. Nina het katvoet in die agtergrond gebly terwyl ons die voortou vir ’n rukkie moes neem. My senuwees was aan skerwe. Ek het my heel eerste smakie gekry en ek was hooked. Ek wou bietjie oordramaties wees en het later nie genoeg tyd gehad nie. Sy moes toe noodgedwonge oorneem en groot besluit maak. Sy’t haar werk op die spel geplaas om vir my ’n onvergeetlike ervaring te bied. Dit was sekerlik my hoogtepunt op stel.

“Storiegewys is dit kriewelrig-lekker om dit skuif in Tim se geaardheid te sien. Hoe hy begin ruggraat kry het teenoor Schalk, Henk en Jack en ook hoe hy, ten spyte van sy pa se afwesigheid in sy kinderdae, die beste moontlike man vir sy vrou en familie wil wees.

“Daar was ongelooflike goeie chemistry tussen die akteurs op stel en dis wonderlik om te sien hoe geloofwaardig die karakters dan op kamera oorkom. Kom ons hou duime vas die kykers wil ’n volgende seisoen hê.” – Marlo Minnaar (Tim)

“Die kameraderie wat hierdie crew gehad het. Dis nie ’n gegewe op elke stel nie, maar hierdie was werklik die mees effektiewe, goed-geïntegreerde en professionele span waarmee ek al gewerk het. En as mens lekker werk, geniet mens die proses. Die dae kan lank en die toestande kan moeilik wees, so dit help as mens lekker kan lag en weet daar is soveel vangnette in plek. Wat skietdae betref, is dit altyd lekker op die groot dae as die meeste van die rolverdeling daar is. Marí se sestiende, Nina Weet se bekendstelling, QPI se jaareinde. Dan sit mens ure rond en gesels dik stukke met vriende en kollegas wat mens dikwels jare laas gesien het.” – Roeline Daneel (Nina)

“Vir my was een van die hoogtepunte om saam met Nina as regisseur te werk. Ek het grootgeword met haar op TV en toe ek hoor dat ek saam met haar gaan werk, was ek baie opgewonde. Dit het regtig my lewe verander. Ek het soveel by haar geleer en daar is soveel waardevolle raad wat ek saam met my gaan neem.” – Duane Williams (Jack)

“Sjoe, dis nogal ’n moelike een en dis seker ’n massiewe cliché om te sê elke liewe oomblik was so te sê ’n hoogtepunt, maar ek sou sê die kollektiewe ervaring was ’n massiewe hoogtepunt. Van die kans om saam met ’n ongelooflike skryfspan te werk, tot die feit dat ek die rol van Henk gekry het en saam met ’n great klomp akteurs kon werk. En natuurlik is dit ook heerlik om te hoor hoeveel mense dit geniet het. Om te sien hoe iets van ’n idee tot ’n teks en dan van ’n teks tot ’n reeks groei, was ’n enorme hoogtepunt in my loopbaan.” – Melt Sieberhagen (Henk), draaiboekskrywer

“My persoonlike hoogtepunt was beslis om saam met so groot en net amazing cast en crew te werk. Daar was werklikwaar nie een dag wat ek nie lus was vir werk nie. Almal het net elke dag ’n positiewe energie stel toe gebring, almal het oor die weg gekom en mekaar gehelp.” – Alex van Dyk (Zac)

“Dis moeilik om uit te sonder, maar my hoogtepunt was beslis tot ons vir Elvis as die troubeampte op stel vir Henk en Susie se troue gehad het. Toe stap Nian en Anri, wat kontinuïteit op die reeks gedoen het, sommer ook in wit geklee by die gang af.” – Hendrik Nieuwoudt (JP)

Stroom Fraksie op DStv se Catch Up. Jy kan ook jou gunstelinge oomblikke van die reeks aanlyn deel op Facebook, Twitter of Instagram: Gebruik die hutsmerk, #Fraksie.