Logo

Nico Carstens: Ons groet ’n legende

Nuus
03 November 2016
Die musieklegende Nico Carstens is Dinsdagaand in die ouderdom van 90 oorlede.
Nico Carstens Oorlede

Die musieklegende Nico Carstens is Dinsdagaand in die ouderdom van 90 oorlede.

“Die impak van Nico Carstens en sy komposisies is onmeetbaar. Met sy trekklavier het hy die unieke klanke van  Suid-Afrika na wêreldverhoë geneem. Op eie bodem het hy interkulturele grense verskuif en musiek meer toeganklik vir almal gemaak. Hy was ’n formidabele musikant wat dit reggegkry het om verskeie musikante, divers in klank en agtergond, vir die eerste keer bymekaar te bring.

Dit is vir ons hartseer om van sy afsterwe te hoor, maar ons weet dat sy nalatenskap sal voortleef op musiekverhoë regoor die wêreld. Ons dink aan sy famile, mede-musikante en vriende in hierdie tyd,” sê Karen Meiring, M-Net: Direkteur kykNET-kanale.

Ter nagedagtenis aan Nico word die program Legendes van Afrikaanse Musiek Sondag 6 November om 20:00 op kykNET uitgesaai.

Die uur-program (vervaardig in 2014) omskryf die lewe van die legendariese Nico Carstens.  Hy het toe 88 geword en is sekerlik die enigste musikant in Suid-Afrika wat kan spog met die prestasie om al vir 70 jaar as professionele musikant die land te vermaak met sy eie komposisies waarvan daar meer as 2000 die lig gesien het.