Logo

Neil Sandilands durf die Groot Niks aan

Nuus
02 Februarie 2022
Die Groot Niks met Neil Sandilands skop af op Saterdag 12 Februarie om 18:00, net op kykNET (DStv-kanaal 144).
Die groot niks – Presser

Die Namibwoestyn, waarvan groot dele sedert 2013 deur Unesco as ’n wêrelderfenisgebied verklaar is, is ’n natuurwonder. Die woord “namib” beteken in die Nama-taal “die groot niks”, maar in hierdie reusagtige woestyn is daar ’n magdom geheime en wonders opgesluit.

In die nuwe reeks Die Groot Niks word hierdie asemrowende gebied van nader bekyk deur die aanbieder Neil Sandilands. Neil is natuurlik bekend as akteur in plaaslike produksies soos Konings, Orion, Jakhalsdans en Die ballade van Robbie de Wee asook internasionale produksies soos Sweet Tooth, News of the World en The Flash.

Die span agter die skerms is Hannes Visser en Waldo van der Waal wat ook vir La’t Wiel verantwoordelik is. Veteraan TV-aanbieder en joernalis Ruda Landman is vir die stemwerk verantwoordelik.

In Die groot niks sal daar gekyk word na die Namib se asemrowende natuurskoon en die legendariese verhale van die voortgesette stryd tussen die mens en die natuur. Daar gaan veral gefokus word op die hart van die Namib – die stuk tussen Luderitz en Walvisbaai.

Die akteur en musikant, Neil Sandilands, het dié avontuur meegemaak as aanbieder. “Hierdie juweel het absoluut op die regte tyd in my lewe gebeur. Toe die vervaardigers, Waldo van der Waal en Hannes Visser, vir my vroeg in 2021 die konsep en titel aanstuur, was dit ’n maklike, besliste ‘ja’,” vertel hy.

“Ek het al twee reise deur Namibië onderneem en het elke keer in verwondering gestaan oor die magiese en uitdagende belewenis. Dit is tergelyk asemrowend en angswekkend. Om dié gebied tussen Lüderitz en Walvisbaai, in die oudste woestyn ter wêreld te verken, is ’n voorreg wat oor min wesens se paadjie kom.”

In die eerste episode word daar gekyk na die mens se drang om die natuur se rykdom te ontgin en hoe die natuur probeer om haar skatte te beskerm. In die tweede episode is bewyse van mynbedrywighede sowat 90 jaar gelede die fokus, en in die derde episode kom die Otavi, ’n stoomvaartuig wat in 1945 op die rotste geloop het, onder die soeklig.

Skakel elke Saterdag om 18:00 en durf #DieGrootNiks aan saam met Neil Sandilands, net op kykNET (DStv-kanaal 144).