Logo

Nataniël se ‘tweede lewe’ in die vreemde

Nuus
14 Augustus 2015
Nataniël en Erik le Roux is vanaf 13 Oktober 2015 in die kosreeks Edik van Nantes te sien.
Edik van Nantes

Nataniël en Erik le Roux is vanaf 13 Oktober in die kosreeks Edik van Nantes te sien.

Ná jare van twis in ’n Katolieke Frankyk, het Henry IV in 1598 die Edik Van Nantes onderteken om Prostetante geloofsvryheid te gee. In 1685 is hierdie edik deur Lodewyk XIV herroep en duisende Protestante moes uit Frankryk vlug. Só het die eerste Franse Hugenote in 1688 in Suid-Afrika arriveer. Onder hulle was Gabriel en Jean le Roux uit Blois, asook Jean le Roux uit Normandie, stamvaders van vandag se le Rouxs in Suid-Afrika.

Meer as 300 jaar later trou Nataniël se broer, Erik le Roux, (nou Erik van Nantes!) met ’n Franse meisie, Nathalie le Roux, afstammeling van die Katolieke le Rouxs van Nantes. Hy vestig homself en sy gesin in Nantes en word ’n Franse burger.

Met gereelde besoeke word Nantes uiteindelik ’n tweede tuiste vir Nataniël, en só begin die verhaal vir die TV-reeks Edik van Nantes.

Nantes is Frankryk se sewende grootste stad, ’n Middeleeuse stad met ’n jong bevolking. Daar is ’n groot universiteit en verskeie opleidingsentrums. Nantes is ’n stad van uiterstes – ’n industriële stad (Airbus word hier gebou), met ’n groot teenwoordigheid van kontemporêre kunstenaars en hulle werk; geen teken van die tipiese draaitjies, krulletjies en bossies laventel wat gewoonlik met Frankryk geassosieer word nie.

Net buite Nantes, op die le Roux-familieplaas, staan ’n historiese kliphuis, al vir dekades onbewoon. In dié reeks omskep Nataniël en Erik die huis uiteindelik in ’n vakansiehuis vir die hele familie, maak speelplek vir al die peetkinders en kleinkinders en rig ’n vrystaande kombuis in. Nataniël stroop Nantes se winkels en versier die huis met baldadige moderne kuns. Hulle kook geregte eie aan Nantes, familie-gunstelinge en skeppings met plaaslike organiese bestanddele. Hulle kry inspirasie by plaaslike kuns, asemrowende geboue, Nantes se beroemde marionetgeselskap en die vele bakkers en chocolatiers. Hulle vind ook uit waar hulle voorvaders vandaan kom, ondersoek die tradisionele kos van die Franse vlugtelinge en die groot invloed wat die Hugenote tot vandag het op Suid-Afrikaanse kos en kultuur.

Nataniël leer ook al die verrassende klein en vreemde gewoontes van ’n land wat ons dink ons ken, asook hoe opwindend maar moeilik dit is om ’n tweede lewe in die vreemde te begin.

Skreeusnaaks, beeldskoon, eksentriek en leersaam – hierdie is ’n unieke reeks van 13 episodes wat nie misgeloop mag word nie!

Edik van Nantes begin op 13 Oktober om 20:00.

Lees meer oor dié reeks in kykNET se digitale tydskrif, Digityd.