Logo

‘Namibië: ’n Plek om dop te hou’ bekyk land van naby

Nuus
24 Augustus 2015
Namibië: ’n Plek om dop te hou, met Chris Chameleon en Daniella Deysel as aanbieders, begin op 6 September om 16:30.
In 1990 het Namibië onafhanklik geword.  Die destydse Suid-Afrikaanse regering het die Suidwesters grootliks aan hulle eie lot oorgelaat. Afrikaans het sy amptelike status verloor. Die staatsdiens het feitlik oornag verengels. Die Afrikaanssprekendes kon ook maar saam met daardie stroom gegaan het en só afstand van hulle taal en kultuur gedoen het, maar hulle het nie. Met visie, ambisie en selfsorg het hulle hulself aan hul skoenrieme opgetrek. Navorsing toon dat Afrikaanse skole, kapitaal, kultuurterreine, entrepreneurskap, landbou, radiostasies ná ’n kwarteeu van onafhanklikheid in Namibië, floreer. In Namibië: ’n Plek om dop te hou kyk ons hoe hulle dit reggekry het.

Kom reis saam met Chris Chameleon en Daniella Deysel deur Namibië om te sien hoe ver en diep Afrikaans se wortels daar groei.



Die mense van Namibië vertel van hulle toekomsverwagtinge en gee hulle antwoorde en oplossings op uitdagings. Van oud tot jonk: Onderwysers, kultuurleiers, jong mense, boere, jong entrepreneurs, sakemanne. Ons sien ook wat is die finansiële bydrae van Afrikaanssprekendes tot Namibië se ekonomie. Ons leer hoe Afrikaans sy staanplek gekry het, en deur wie, in Namibië. Ons besoek ook radiostasies, koerante en tydskrifte en hoor hoe gaan dit met Afrikaans in werkplekke en op straat.

Namibië: ’n Plek om dop te hou begin op 6 September om 16:30.