Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

'n Witwarm Junie voor die kassie

Nuus
01 Junie 2021
Een van die kouer maande in die jaar gaan jou witwarm maak voor die kassie. Vergeet maar van ’n pot vol winter, want in jou gunsteling kykNET-sepies gaan daar binnekort dinge gebeur wat jou na jou asem sal laat snak.
Untitled design

Getroud met rugby
Nesie ontdek haar roeping. Amanda is ontsteld nadat ’n suggestiewe foto van Reitz en Ryno gepubliseer word. Sy voel bedreig deur hulle vriendskap.

Renate vind uit sy is in Engeland verwek en besluit om daarheen te reis sodat sy kan uitvind wie sy regtig is.

Almal sukkel om met Buks en Nesie huis te hou nadat ’n gebarste pyp hulle dakloos laat.

Simon en Renate vra vir Lulu om hulle kind se peetma te wees, maar is dan woedend wanneer hulle uitvind sy het iemand anders gevra om haar baba se peetouers te wees.

Virginia moet keer of Yvonne neem Simon en Renate se huis heeltemal oor.

Kristien besef sy het sterk gevoelens vir ’n sekere man.

JJ is terug en probeer om vir Bart, van alle mense, af te pers. Jana vind ’n nuwe, verslawende stokperdjie.

Fafa verjaar en hou ’n rocker-partytjie in Pottie’s. Die partytjie inspireer hom om iets te doen wat Maryke ontstel.

Getroud met rugby is weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Suidooster
Gebroke harte is aan die orde van die dag in Junie in Suidooster wanneer Imraan en Kaashifa se huwelik in duide stort. Ook Zoë sukkel om sin te maak van ’n groot onthulling wat haar huwelik in troebel water laat beland het.

Tog lyk dit of die liefde dalk gaan blom vir Rhafiek, wat uiteindelik probeer aanbeweeg van Carmen. Daar is potensiaal vir ’n verhouding met ’n meisie wat definitief die wenkbroue gaan laat lig. En uiteindelik lyk dit asof Tyron en Lee-Ann reg is om die volgende groot stap in hul verhouding te neem. Hoor ons trouklokke lui?

Daar is twee nuwe intrekkers in Ruiterbosch, Susan en Elana, wat hulle sommer gou in hul nuwe woonbuurt tuismaak. Dié twee het groot planne vir die nuwe hoofstuk in hul lewens en maak ’n kuierplek oop, maar dit blyk ook dat Susan en Justin ’n verlede het wat dalk net dinge mag kompliseer.

’n Skokkende gebeurtenis speel af in Ruiterbosch met Bridgette wat beheer oor haar lewe verloor danksy Nazeem en Tim se gekonkel. Kort voor lank bevind Ruiterbosch se ystervrou haar in ’n lewensgevaarlike situasie.

Sy en haar gesin mag dalk nooit weer dieselfde wees nie, maar dit lyk of die Jacobs-troon uiteindelik binne Nazeem se bereik is.

Suidooster is weeksdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en kykNET & kie (DStv-kanaal 145).

Binnelanders
Die splinternuwe seisoen van Binnelanders skop op Maandag 7 Junie af en kykers word aangeraai om solank hulle PVR’s te stel sodat hulle nie ’n sekonde van die drama misloop nie.

Verskeie bekendes is in dié seisoen as gasspelers deel van die aksie: Robbie Wessels, Beáte Opperman, Tiaan Rautenbach, Ronel Kriel, Wilson Dunster en Gerald Steyn is die akteurs wat hierdie maand hulle stemme kom dik maak in die gange van die bekendste kliniek in Pretoria – en hulle gaan elkeen op hul eie manier kykers se bloeddruk opjaag.

Louis ontferm hom oor ’n boemelaar, maar besef nie dat Elvis nie heeltemal ’n onbekende is nie. Wanneer Okkie vir Elvis raakloop, spat die vonke. As Louis geweet het wie dié hawelose eintlik is, wonder 'n mens of hy steeds so ver uit sy pad sou gaan om ’n helpende hand te verleen.

Wanneer die antwoord op Ruan se internetgebruik gevind word, is dit amper klaar te laat om nog vrae te stel. Daar is wel iets wat Steve en Elana vir hom en Vicky móét vra, maar hulle is nie seker of dit die regte tyd is nie.

Helena Bester (Ronel Kriel) verras die kleinkinders, maar sy is nie die enigste Bester wat skielik in Pretoria verskyn nie: George (Tiaan Rautenbach) en Nellie (Beáte Opperman) volg kort op haar hakke. Helena se motiewe is suiwer, maar dieselfde kan nie gesê word van die ander twee Besters nie.

Daar is verskeie brandende vrae – vra maar net vir Conrad. Op Elana se vrae is daar vinnige antwoorde, maar die antwoord waarna hy smag, is meer ingewikkeld: Kan en moet ’n mens vergewe? Want “vergewe” beteken ook dat 'n mens moet “vergeet” en vir iemand met ’n geheue soos ’n olifant is dit bitter moeilik.

Iemand wat beslis nie weet wat op hom wag nie, is Uys Wagner – die nuwe, aantreklike rooikoplocum. Wie sou nou kon dink dat die wêreld so kan gons wanneer dié mannetjie sy eerste treë in die gange van Binneland-kliniek gee? As dit nie Tertius en Annelize is wat haaks raak oor sy aanstelling nie, is dit ’n ander rooikop wat summier alles van hom wil weet. En wanneer sy nie al die feite uit hom kry voor die einde van sy eerste week nie, formuleer sy sommer haar eie teorieë. Maar hoeveel daarvan kan toegeskryf word aan Binneland Stereo, en hoeveel daarvan is gegrond op die waarheid? Die enigste mense wat weet wat regtig gebeur het, is Uys en Annelize, en nie een van hulle twee praat uit nie. Dis dalk hoekom die man hom so min steur aan reëls en regulasies en waarom hy so lief is vir sports.

Faf Gosslin het sy bek gereeld in die verlede gerek, maar nou wil hy skielik daad by die woord voeg. Hy kan egter nie sy planne sonder die hulp van sy voshaardogter uitvoer nie. Maya bly lief vir haar pa, al het hy ook hoe ongenaakbaar en wreed in die verlede opgetree. Iemand wat haar natuurlik nie deur ’n wolf in skaapsklere laat flous nie, is Tracy. Maar hoe moet sy hierdie saak oplos as niemand na haar wil luister nie? Dit is dalk tyd om die groot kannon te gebruik, maar aangesien daar reeds ’n skermutseling of twee was, gaan wedersydse twyfel beslis ’n invloed op ’n gedeelde bekommernis hê.

Binnelanders is weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Onthou om weeksaande in te skakel vir jou gunsteling kykNET-sepie en ons saam te gesels op Facebook, Twitter en Instagram deur die hutsmerke #kykNETGMR, #Suidooster en #Binnelanders te gebruik.