Logo

’n Nuwe aanbieder vir kykNET se Boer soek ’n vrou!

Nuus
27 Januarie 2016
kykNET se gewilde werklikheidsprogram Boer soek ’n vrou begin binnekort verfilm aan die 9de seisoen en spog met ’n splinternuwe aanbieder.
Minki Collage
kykNET se gewilde werklikheidsprogram Boer soek ’n vrou begin binnekort verfilm aan die 9de seisoen en spog met ’n splinternuwe aanbieder – Suid-Afrika se liefling, die voormalige internasionale model, Minki van der Westhuizen.

Nadia Beukes, wat die reeks vir twee seisoene aangebied het, begin op 4 April 2016 in die nuwe sepie, Getroud met rugby, waar sy die rol van Iva vertolk, en dit sal haar voltyds besig hou.

Wat is liefde? In dié video leer ons Minki van nader ken:



Toe Minki en haar man, Ernst Joubert, in 2010 biltong en braaivleis prysgegee het en verhuis het na St. Albans (net buite Londen), het hulle wel geweet dat hulle eendag sou terugkeer na die plek wat hulle huis noem, die Kaap.

Joubert het einde 2015 uitgetree as professionele rugbyspeler en die gesin is sedertdien terug in Suid-Afrika, waar hulle tans in Stellenbosch woon. Minki en Ernst is die trotse ouers van twee dogtertjies, Katerien (2) en Elise (16 maande).

Minki het op 5 Desember 2015 geland en op sosiale netwerke aangekondig: “Back on African soil”. Kort daarna het die vervaardiger van Boer soek ’n vrou, Elmarie Botha, haar gekontak om te hoor of sy sou belangstel om die program aan te bied. “Ek was aan die begin skrikkerig,” sê van der Westhuizen. “’n Werklikheids-TV-program is iets heeltemal nuuts vir my, maar ek sien baie uit om al die nuwe mense te ontmoet, die nuwe uitdaging aan te pak en deel te vorm van hierdie groot en suksesvolle produksie. Ek dink Boer soek ’n vrou is ’n wonderlike platform om nuwe mense te ontmoet en net dalk vind jy jou pot se deksel.”

34 minki collage 004 pre


In St. Albans was Minki ’n voltydse ma, maar sy is wêreldwyd bekend vir haar modelwerk en in Suid-Afrika was sy ’n aanbieder van ’n leefstylprogram, asook die gesig vir Arysta LifeScience – ’n onderneming wat ’n emulgeerbare sistemiese onkruiddoder vir die beheer van sekere grasse in bosbou en saadbeddens versprei.

Stephanus Rabie, voorheen vervaardiger en regisseur van Jan Braai vir Erfenis, sluit ook vanjaar by die Boer Soek ’n vrou-span aan as die nuwe regisseur.

34 stephanus rabie


“Dis ’n groot voorreg om die regie van só ’n groot produksie oor te neem,” sê Stephanus. Hy meen die program maak gebruik van ’n resep wat “werk”, en dat hy nie veel aan die struktuur wil verander nie. “Ek dink my grootste bydrae gaan kom uit ’n visuele oogpunt. Ek het ’n paar planne en tegnieke wat ons gaan gebruik om die program nuut en vars te laat lyk,” sê hy. “Ek sien ook baie uit om saam met Minki te werk. Sy straal ’n positiewe energie uit wat die boere en dames vinnig op hulle gemak gaan laat voel.”

Hou dié blad dop vir meer Boer soek ’n vrou-nuus.