Logo
Kokkedoor Vuur & Vlam
web uni tv guide

Kokkedoor: Vuur en Vlam

144Realiteit13 L

’n Dekade van Kokkedoor word op ’n nuwe avontuur met ’n nuwe voorskoot gevier... of is dit nou ge-vuur?

Nuus
03 Julie 2023
Vir 2023 trek die reeks ’n splinternuwe braaivoorskoot aan met Kokkedoor Vuur & Vlam wat op Donderdag 27 Julie om 20:00 begin.
Kokkedoor Article Image

In 2013 het kykNET-kykers vir die eerste keer met Kokkedoor kennis gemaak en dit was van die begin af duidelik dat dit ’n aptytwekkende kos-werklikheidsreeks sou wees.

Die eerste seisoen se wenners, Tiaan Langenegger en Mynhardt Joubert het huishoudelike name geraak, terwyl talle van die ander deelnemers in die daaropvolgende reekse ook soos huisvriende vir kykers geword het.

Oor die jare is die tafel vir nóg familielede van die reeks gedek met onder meer Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie wat geurryke vermaak en inspirasie aan oud en jonk verskaf het.

En vir 2023 trek die reeks ’n splinternuwe braaivoorskoot aan met Kokkedoor Vuur & Vlam wat op Donderdag 27 Julie om 20:00 begin.

Dié keer gaan deelnemers alles oor vlamme, op die kole, binne-in die as of op die rooster moet voorberei terwyl hulle kosghoeroes Bertus Basson en Kobus Botha met hul braai-vaardighede moet beïndruk. 

Een van Suid-Afrika se voorste koskenners, Errieda du Toit, is van die eerste episode by die reeks as inhoudsvervaardiger betrokke. Oor die jare het Errieda, self ’n gerekende kosskrywer, agter die skerms saam met die vervaardigers, Homebrew Films, gewoeker om liplekker-kosvermaak van internasionale gehalte in Afrikaans vir kykers te bied.

Errieda vertel meer oor die sukses van die reeks.

1. Die eerste Kokkedoor-reeks het kykers dadelik gaande gehad. Wat is die wenresep van die reeks?

Die program beeld die spesiale verhouding uit wat ons met kos het op ’n baie besondere manier uit. Kykers leer ken die deelnemers op ’n persoonlike en intieme manier en loop saam met hulle die ontdekkingsreis deur hul disse.

Langs die pad moet gunstelinge gegroet word en kykers begin dan om die oorblywende spanne te ondersteun. Aan die einde van die dag gaan dit hoofsaaklik oor die kameraadskap wat rondom kos ontwikkel. 

Die reeks is diep gewortel in herinneringe en ons kos-erfenis, maar dit fokus nie net op die verlede nie. Dit wys dat tradisie en onthoukos hande kan vat met vernuwende kinkelkos – die een styl is nie in kompetisie met die ander nie.

Onthoukokke (kokke sonder formele opleiding) se entoesiasme en huiskombuis-ervaring speel net so ’n belangrike rol as Kinkelkokke met hul kwalifikasies, professionele ervaring en moderne tegnieke. 

2. As jy een persoonlike hoogtepunt of uitskiet-oomblik uit die vorige reekse moet kies, wat sal dit wees en hoekom? 

So heerlik en bevredigend soos wat die produksiekant was – die unieke Kokkedoor-stoor, die platteland, die spens met sy kosrykdom, die energie en die oomblik wat die wenspan aangewys word, was daar self nog ’n groter lekkerte – en dit was die oudisies reg deur die land.

Die oomblik wanneer jy iemand nuut ontmoet en dadelik nostalgiekos as jou aanknopingspunt het, bly mens altyd by. Die oudisiegeregte is altyd deurspek met mense se wonderlike herinneringe van kos, en ek kon daarin deel.

Dit het my altyd so trots op ons Suid-Afrikaanse koskultuur laat voel en dat ek nêrens anders in die wêreld wou wees nie. 

En natuurlik, die oomblik toe ek vir Tannie Poppie Coetzer met haar oudisie ontmoet het, het ek geweet: die hele land gaan verlief raak op hierdie tannie . . . die land se ouma. 

3. Wat dink jy het die Kokkedoor-reekse tot die Suid-Afrikaanse koskultuur bygedra? 

Dit het ’n baie groot trots in ons eie koserfenis aangewakker. Woorde soos onthoukos en kinkelkos het volksbesit geword. Mens moet onthou dat die koslandskap 10 jaar gelede baie anders gelyk het want inspirasie, koshelde en kos-trends het alles van oorsee afgekom.

Kos-televisie veral het swaar gesteun op buitelandse inhoud. MasterChef en Jamie Oliver was op almal se lippe. En hier kom Kokkedoor met 20 nuwe kosgesigte, ons praat ons eie kostaal, maak ons eie poedings, laat herleef padkos en wildspastei, kook bredies en toor met basaarkos!

Vandag is mense soos Mynhardt en Tiaan wat in die eerste reeks verskyn het, steeds op almal se lippe en boerekos het sexy geword. 

4. Hoe dink jy het die Kokkedoor-reekse die deelnemers se lewens verander?

Elkeen van hulle het deur ’n baie intense ervaring gegaan wat jy nie op enige ander manier kon beleef nie. Alles was daarop ingestel om die deelnemers suksesvol te maak.

Hulle kon die kameraadskap van ander kos-geesgenote ervaar, nuwe dinge probeer, avontuurlustig wees, hulself uitdaag en natuurlik ook beleef wat ’n groot televisie-produksie behels. Dit is alles faktore wat mense se horisonne verbreed.

Hulle het baie van hulself leer ken, want om jouself so bloot te stel aan baie spanningsvolle omstandighede laat jou besef hoe sterk jy eintlik is, en dat ’n mens tot soveel meer in staat is wanneer jy uit jou groef losbreek.

Mense wat inskryf vir so ’n kompetisie staan dikwels voor ’n kruispad; hulle wil iets doen vir hulself of hulle wil ‘n nuwe loopbaan aanpak – en dan bring hierdie ervaring vir hulle selfkennis wat hulle nooit kon voorsien nie.

Nie almal se lewe verander in die sin dat hulle kos-suksesstories word soos diegene wat hul eie restaurant oopmaak, televisiereekse doen of kookboeke publiseer nie, maar hulle kry weer die selfvertroue om ander dinge in hul lewe aan te pak, verhoudinge te hersien, lewensbesluite te neem of om van vooraf verlief te raak op kosmaak en om dit met ander te deel. 

5. Waarna kan kykers uitsien in Kokkedoor Vuur & Vlam

Kykers gaan die nuwe baadjie van Kokkedoor baie geniet. Daar is baie wat vir hulle bekend en geliefd gaan wees, soos die Kokkedoor-spens, die platteland, die spangees tussen die deelnemers, die pret en die pyn van wen en verloor.

Maar die gebruik van die oop vuur, knetterende vlamme, warm kole en rook bring ’n onvoorspelbaarheid en baie drama. Jy kan nie die vuur beheer met die druk van ’n knoppie nie en dit raak wárm in die kombuise, warmer as ooit vantevore.

 Die feit dat dit in Struisbaai – reg by die see – afspeel bring ook ’n nuwe dimensie na die skerm. Die natuur en sy elemente ontwikkel amper ’n karakter van sy eie. 

Die nuwe beoordelaars bring ook baie opwinding en persoonlikheid na die reeks: Bertus met sy finesse en fyn aanvoeling vir nostalgie – streng en regverdig; en dan is daar Kobus wat uit Frankryk by ons aangesluit het met sy vlymskerp kommentaar en geen-nonsens-houding wat kos van alle pretensie stroop. 

Daar is natuurlik ook die 20 nuwe deelnemers, elkeen met hul eie persoonlikheid, gewoontetjies, sêgoed, braaivaardighede, issues, dramas en drome! 

Kortom – Kokkedoor Vuur & Vlam gaan ’n vuurstryd wees soos min en die kyker totaal verras met al die nuwe maniere om ons geliefde vuur-erfenis te geniet.