Logo

Met ShowMax word kykNET ’n ware wêreldburger

Nuus
10 Desember 2015
Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon kan nou ’n heerlike porsie tuisgebakte vermaak geniet met die uitbreiding van kykNET se voetspoor deur ShowMax.
kykNET ShowMax

Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon kan nou ’n heerlike porsie tuisgebakte vermaak geniet met die uitbreiding van kykNET se voetspoor deur die ShowMax video-op-aanvraag-platform, wat Afrikaanse inhoud sal verskaf aan sleutellande dwarsoor die wêreld.

ShowMax, die video-op-aanvraag-intekendiens wat gedurende Augustus in Suid-Afrika bekendgestel is, is flink besig om sy voetspoor te vergroot. Saam met kykNET Internasionaal, sal ShowMax vanaf 1 Desember 2015 eksklusief ongeveer 13 000 episodes van Afrikaanse TV-programme en flieks aan gehore in uitgesoekte lande in Noord-Amerika, Europa en Australasië deur middel van die internet beskikbaar stel. Hierdie inhoudskatalogus is ’n spyskaart wat 6 000 ure se Afrikaanse vermaak aanbied om van te kies.

Kykers in die VK, Australië, Kanada en Nieu-Seeland sal kan inteken op www.showmax.com en vir $ 8.99 (Amerikaanse dollar) per maand onbeperkte toegang geniet tot ou gunstelinge soos Molly en Wors, Song vir Katryn, Vallei van sluiers en Plek van die vleisvreters sowel as die jongste episodes van Kwêla, Binnelanders, Villa Rosa en Robinson. Die kersie op die koek is dat hierdie platform die inhoud binne slegs 24 uur na die Suid-Afrikaanse uitsending gereed sal hê.

Hier is die volledige lys van lande:

Andorra
Oostenryk
België
Denemarke
Finland
Frankryk
Duitsland
Griekeland
Ysland
Ierland
Italië
Liechtenstein
Luxemburg
Malta
Monaco
Noorweë
Portugal
San Marino
Spanje
Swede
Switserland
Australië
Kanada
Indonesië
Nederland
Nieu-Seeland
Verenigde Koninkryk
Verenigde State

Oor dié wêreldwye uitbreiding het Jeanne van Zyl, Hoof vir kykNET Internasionaal, die volgende te sê:

“Daar is groot hoeveelhede Afrikaanssprekendes wat buite Afrika woon en steeds in voeling wil bly met hulle taal en kultuur. kykNET Internasionaal maak dit nou maklik deur gebruik te maak van die ShowMax-platform.

“TV-programme en films is ’n wonderlike manier om die band met Afrikaans lewendig te hou en om te verseker dat oud en jonk in voeling bly met hulle wortels. Dis byvoorbeeld ’n heerlike manier om kinders bloot te stel aan ’n wêreld wat hulle nie direk ervaar het nie, of te jonk is om te onthou.

“Omdat ons inhoud beskikbaar stel binne 24 uur nadat dit in Suid-Afrika uitgesaai is, beteken dit ook dat ver van die huis af nie noodwendig beteken dat jy uit voeling of agter die klip is nie.”

Toegang tot kykNET-inhoud op ShowMax kan deur toepassings op slim-TV’s, via webblaaiers op rekenaars, en met Android- en IOS-toepassings op tablette en slimfone verkry word. Met ’n enkele intekening kan twee verskillende programme tegelyk op twee verskillende toestelle gekyk word.

Karen Meiring, Direkteur van Afrikaanse Kanale vir M-Net, sê: “Dit maak nie saak waar in die wêreld Suid-Afrikaners hulle bevind nie, hulle bly uiters lojaal en ondersteunend teenoor hul herkoms en erfenis. Ons is baie opgewonde om saam met ShowMax te kan werk daaraan om hierdie bande te koester en die beste Afrikaanse vermaak te lewer, vars van die huis af, na aanhangers dwarsoor die wêreld.”

Belangstellendes kan ShowMax gratis en sonder risiko vir ’n 7-dae-proeftydperk probeer. Sodra die registrasieproses afgehandel en die kliënt se PayPal-besonderhede ontvang is, is ShowMax se volle inhoud aan die gebruiker beskikbaar. Betaling word eers na die sewe dae verstryk het, afgetrek. Jy hoef jou nie “vas te teken” nie en daar’s geen vangplekke nie. Die gebruiker kan te eniger tyd gedurende daardie sewe dae kanselleer en sal dan niks hoef te betaal nie.

Meer oor ShowMax

Met ’n kombinasie van 12,000 ure se internasionale lokettreffers en reekse sowel as die beste plaaslike inhoud, lewer ShowMax ’n video-op-aanvraag-intekendiens wat werklik wêreldklas is. Met ’n katalogus waarin die wêreld se groot vervaardigingsateljees verteenwoordig is, bied ShowMax vir gebruikers die wydste verskeidenheid top-vermaak denkbaar.

ShowMax is beskikbaar op ’n wye reeks toestelle van slim TV’s en rekenaars tot slimfone en tablette. Om ShowMax te ervaar, besoek www.showmax.com.