Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Meer drama as ooit tevore! – Binnelanders

Nuus
07 Junie 2021
Die geliefde karakters van Binnelanders gaan meer as ooit getoets word in die splinternuwe seisoen van die reeks wat Maandag, 7 Junie om 19:30 op kykNET (kanaal-144) begin.
Binnelanders BB

‘n Reeksmoord, ‘n blitstroue, die paniek van ‘n trio wat te alle koste moet sing, versteekte agendas, onverwagte tragedie en geheime liefdes is net ‘n voorsmakie van wat vir kykers voorlê wanneer die nuwe seisoen van die reeks afskop.


In Junie kom Ruan en Vicky se ouma Helena (Ronèl Kriel) besoek aflê. Kort op haar hakke volg haar seun George (Tian Rautenbach), en glad nie om dowe neute nie. Ook nie lank nie, of sy vroulief Nellie (Beate Opperman) daag ook op - en dan begin die poppe behoorlik dans.

Nuwe locum dr. Uys Wagner (Gerald Steyn) gaan verseker meer as een hart verower, terwyl Louis sy besluit om ene ‘Elvis’ (Robbie Wessels) te help dalk net mag berou. Maar spyt kom in vele gedaantes: Verstrooide oom Rodney (Wilson Dunster) laat ‘n ding gebeur waaroor sy gewete hom kwaai gaan opkeil – met goeie rede.  

Elise (Lindie Stander) kom in Julie soos ‘n vars briesie deur die hospitaalgange gewaai as sy ‘n lekker nuwe “job” losslaan by sakeman Mike Vorster (Sean Brebnor).

Neurotiese Annetjie van admin (Lorraine Burger) gaan dalk op Naomi se prokureur-niggie Joline (Rika Niewoudt) se knoppie moet druk – haar erge pyn op ‘n eienaardige plek is dan nie opgelos nie!

Augustus se winde van verandering waai sterk in Pretoria. Die Ferreiras kry nuwe bure – studente. Okkie gaan sy hande vol hê om Rex (Jacques Adriaanse), die mooie Chrisna (Liza du Plessis) en Wayne (Garion Dowds) se voortvarendheid te demp, met katastrofiese gevolge.

Tertius se pa Koos (Ryno Hattingh) en sy ‘houvrou’ Wendy (Henriëtta Gryffenberg) se lewe gaan soos hand-omkeer verander – en nie net omdat Koos se wettige vrou die lewe vir hulle uiters moeilik maak nie.

Die Kosters behoort teen die tyd te weet dat Delia (Odelle de Wet) nie ‘n katjie is om sonder handskoene aan te pak nie, veral nie as sy iets weet en weier om bekend te maak wat - of wie - dit is nie.

Getrou aan At Koster se aard: Wanneer die briljante werk van dr. Brandon Samuels (Zane Meas) onder die WGO se aandag kom, is At hulle lankal een stappie voor…

Die nuwe seisoen van Binnelanders begin Maandag, 7 Junie om 19:30 op kykNET, kanaal-144. Kykers word aangeraai om hulle PVRs vroegtydig in te stel ten einde nie 'n enkele sekonde van dié daaglikse drama mis te loop nie.