Logo

Medihelp trapNET inskrywings sluit binnekort

Nuus
13 September 2019
Hier is hoe jy kan inskryf!
KYKNET TRAPNET LOGO New

(Centurion, 11 September 2019) Fietsry-liefhebbers wat aan die Medihelp trapNET op Sondag, 29 September 2019, wil deelneem moet opskud, want inskrywings sluit op Maandag, 16 September.

Dit is die tweede jaar dat dié 95 km-fietsresies na die stad Tshwane terugkeer. SuperSport Park sal weereens die begin- en eindpunt van dié 95 km-fietsresies wees.

Deelnemers kan uitsien na ’n nuwe roete met volle pad- en baansluitings – ’n belangrike komponent van enige groot padresies wat bydra tot die veiligheid van alle deelnemers.

Prysgeld van R65 000 is op die spel, en alle kategoriewenners sal ook pryse wen.  

Die Medihelp trapNET is ’n belangrike resies op die fietsrykalender vir diegene wat hul wegspringtye by ander prominente fietsrenne wil verbeter. Dit is die laaste fietsresies wat gebruik kan word om fietsryers se wegspringtye tydens die gewilde Ride Joburg te verbeter (inskrywings sluit 30 September). Dit is ook ’n amptelike keuringsresies vir die 2020 Cape Town Cycle Tour.

Resies Vir Die Kleinspan

Ouers word ook aangemoedig om hul kinders (ses jaar en onder) vir die trapNET Juniorresies in te skryf. Aanlyn-inskrywings sluit ook op 16 September.

Fietsryertjies kan die 1 km-roete oor teer, gras en gladde gruis op hul twee- of driewielfietsies aandurf. Stootfietse is ook welkom, en ouers mag hul kinders te voet vergesel. Die trapNET Juniorresies vind binne die veilige SuperSport Park-omgewing plaas.

Die fietsresies is ’n trotse ondersteuner van CHOC Childhood Cancer Foundation, die enigste organisasie in Suid-Afrika wat omvattende landwye ondersteuning bied vir kinders met kanker of lewensbedreigende bloedafwykings, en hul gesinne.

Besoek https://trapnet.co.za om vir die Medihelp trapNET in te skryf. Medihelp-lede kwalifiseer vir ’n gratis trapNET inskrywing. Besoek www.medihelp.co.za/showcase/events of stuur ’n e-pos aan [email protected] vir meer inligting. Deelnemers kan ook Facebook (https://www.facebook.com/trapnetcycling/) of Twitter (https://twitter.com/trapnetcycling) dophou vir trapNET-nuus.