Logo

Maties-koor as Varsity Sing-kampioen gekroon

Nuus
14 Oktober 2016
Die Universiteit Stellenbosch (US) se koor is Donderdag ná ’n 90 minuut lange finaal in Johannesburg as wenner van kykNET se Varsity Sing-kompetisiereeks aangewys.
Die Universiteit Stellenbosch (US) se koor is Donderdag ná ’n 90 minuut lange finaal in Johannesburg as wenner van kykNET se Varsity Sing-kompetisiereeks aangewys. Nie net het Maties weggestap met prysgeld van R70 000 nie – hulle het ook die FNB Fan Favourite-toekenning (waarvoor die publiek moes stem) ontvang (die prysgeld is R50 000).

Die Universiteit van Johannesburg (UJ) se koor het die aand geopen met hul oorspronklike samestelling, “I Will Lift Up Mine Eyes”.

In die Eie Keuse-kategorie het Renette Bouwer en haar koor die gehoor vermaak met Deke Sharon se unieke verwerking van die treffer “Fever”. Onder die leiding van UJ se manlike solis, het die koor hul vingers geklap en die gehoor met hul opgewekte klanke bekoor. Die liedjie is afgesluit met lirieke van Ashanti – van die Disney-treffer Pocahontas – en UJ het getrou gebly aan die lirieke, “painting with all the colours of the wind”.

Hulle het afgesluit met ’n lewendige Afrika-medley, ’n Sidumo-verwerking.

Die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) se koor was volgende aan die beurt en het hul optrede afgeskop met “Alleluia”, deur die Amerikaanse komponis Jake Runestad, wat hul tegniese talent behoorlik afgewys het.

“Heimwee” is gekies in die Eie Keuse-kategorie en die soprane het veral dié kragtige lied met finesse versier.

NMMU het sterk geëindig met hul anti-rassisme-medley, ’n lied wat onder meer die kragtige woorde van Madiba bevat.

Maties was volgende en het begin met “The Conversion of Saul” deur Randall Stroope. Hierna het hulle oorgegaan na die strelende klanke van “Ave Maria”, in die Eie Keuse-kategorie, wat dié koor se diversiteit beklemtoon het.

Hulle het geëindig met die Afrikaanse treffer “Toe vind ek jou”, wat hulle vroeg in die kompetisie opgevoer en waarmee die koor kykers se harte gesteel het.



Die Universiteit van Pretoria (UP) was die laaste koor op die verhoog en het begin met “U Lig En U Waarheid”. Dié koor is ’n geoliede masjien onder die leierskap van Michael Barrett.

“Hare Se Re Bina” was hul tweede liedjie en hulle het lewendige Afrika-klanke deur die ouditorium laat vloei. “Great God Almighty”, deur Stacey Gibbs, was Tuks se Eie Keuse en het vir ’n epiese einde gesorg.

“FNB is baie trots om geassosieer te wees met Varsity Sing,” sê Mari van Niekerk, FNB se senior kommunikasie- en borgskapbestuurder. “Dis deel van ons borgskap-strategie om die Suid-Afrikaanse jeug te ontwikkel en nasiebou in ons land aan te moedig, so ons is baie opgewonde om nie net betrokke te wees in die sportkant van jeugontwikkeling nie, maar ook kultuur.”

Finale punteleer

Eerste: Maties

Tweede: UJ

Derde: Tuks

Vierde: NMMU

Klik hier vir eksklusiewe Varsity Sing-video’s.