Logo

Marx soek netbalspan – Boer Soek ’n Vrou 11

Nuus
14 Oktober 2018
Boer Marx is op soek na ’n boerevrou en ‘goeie mamma’.
BSV-11-Marx

Marx (24), ’n skaap- en beesboer van Barkly-Oos in die Oos-Kaap, is op soek na ’n maat wat mooier is van binne as buite.

Dié boer kom uit ’n familie wat die “waarde van harde werk verstaan”. Neem byvoorbeeld sy ma: Sy doen alles van skape vang tot vleis verwerk.

’n “Boerevrou is ’n ander spesie”, meen die boer, en dís wat hy hoop om uit die program te kry: ’n Vrou wat nie bang is om haar hande vuil te kry nie en eendag ’n goeie ma vir sy kinders sal wees. Hy soek ’n “hele netbalspan” – en darem ’n ou bulletjie. “Ek sal my dogtertjies baie mooi bederf met mooi rokkies en al daai goeters.”

Sy ideale maat is iemand wat kan lag, op dieselfde manier as hy na die wêreld kyk en vir wie aardse dinge minder belangrik is. Haar geloof moet sterk wees.

Hy beskryf homself as gelowig, “bietjie hardegat” en “partykeer te goedhartig”. Die boer is verder vriendelik en vol grappe, maar ’n “baie ernstige persoon as dit by die belangrike goed in die lewe kom.”

Sy grootste liefde is die plaas en Marx wil graag bou op wat sy oupa en pa reeds met die boerdery reggekry het.

Hy gebruik nie maklik die “L-bom” in ’n verhouding nie. “As ek dit sê, wil ek dit rêrig bedoel,” sê die boer.

“Ek sien uit na nuwe en opwindende goed in my lewe, en dus het ek myself verlede jaar belowe as ek enkellopend is en plaas toe kom gaan ek iets uit my gemaksone doen en die kans waag en inskryf vir Boer Soek ’n Vrou.”

Seisoen 11 is hier! Skakel vanaf 18 Oktober 2018 elke Donderdag om 20:00 op DStv-kanaal 144 in vir ’n nuwe episode van Boer Soek ’n Vrou. Ons is ook op Facebook, Twitter en Instagram.

Wil jy deel wees van ’n opwindende kykerservaring? Kliek dan hier om meer uit te vind!