Logo
Mal Kamper
web uni tv guide

Mal Kamper

144ToerprogramPG13 L

Mal Kamper verken al die aspekte van kamp

Nuus
10 Desember 2021
Mal kamper begin op Saterdag 8 Januarie 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Mal Kamper

Dewald Visser, regisseur en aanbieder van Mal Kamper, is vanaf Saterdag 8 Januarie te sien in die splinternuwe reeks, Mal Kamper.

“Hierdie reeks gaan oor hoe mooi ons land met al sy wye oop spasies is en al die dinge wat jy kan doen wanneer jy weg is van die huis, die stad en sy liggies,” sê hy. “Ons gaan rustig raak in die natuur en deelneem aan ’n verskeidenheid buitelug avoture in die mooiste plekke.”

In Mal Kamper is daar nie sprake van sommer enige normale kampterrein nie. Dewald neem sy toegeruste Suzuki Jimny en sleepwa en gaan na die mees onherbersgame areas, gooi iets op die kole en laat die adrenalien vloei met ’n rits aktiwiteite. Dewald is ook ’n kranige bergfietsryer en hou onder meer van roei, bergklim en duik. So nou en dan waag hy selfs sy hand aan hengel.

Maar dit is nie altyd net wilde wragtig kamp nie. Dewald kyk ook na sogenaamde glamping en fasiliteite soos kampeerwaens, luukse tente, huisbote, berghutte en ander mooi plekke.

Is hierdie program net vir kampers?
“Beslis nie,” sê Dewald. “Ons wys meer as net kamp. Ons het iets vir 4x4-entoesiaste, stappers, bergfietsryers, hengelaars en natuurlik dié wat hou van gerieflik kamp.”

Volgens Dewald is daar drie dinge wat hy altyd pak wanneer hy gaan kamp. “’n Lekker kampstoel, genoeg droë hou en alles wat ek nodig het om kos te maak.”

Vir hom is elke kamp saam met sy vrou, Sylvia, en hondekinders spesiaal. “Kamp gaan vir ons oor meer as net sit by ’n tent aangesien ons altyd sorg dat al ons speelgoed soos fietse, drafskoene en visstokke ook gepak word. Ons is al twee lief vir kosmaak en vir ons gaan kamp dus ook oor ons tyd by die vuur of kospotte.”

Mal kamper begin op Saterdag 8 Januarie 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).