Logo
Arendsvlei S6
web uni tv guide

Arendsvlei

145Telenovela13

Maak my famous en nou Arendsvlei se Rodney: ‘Als het uitgewerk soos dit moes’ – Arendsvlei

Nuus
23 Oktober 2023
Rodney Goliath speel die rol van Gio wat onlangs saam met Emile en Tereska in die 'Vlei opgedaag het.
Rodney Goliath

In 2020 was ’n jong rapper van die Paarl, Rodney Goliath, op almal se lippe toe hy aan die tweede seisoen van Maak my famous deelgeneem het. Dis nou drie jaar later, en hy is weer terug op die kassie – dié keer in Arendsvlei.

Onder sy verhoognaam, Rotas the Rapper, het hy mense se harte aangeraak met sy lirieke en optrede, maar toe kom episode vyf van Maak my famous en die moeilike keuse: Neem verder deel aan die kompetisie, of sê ja vir R20 000 en stap weg.

Rodney, wat toe ’n eerstejaar-dramastudent aan die Universiteit Stellenbosch was, het besluit om die geld te neem en verder te gaan studeer. Hy is glad nie spyt oor dié keuse nie: “Al wat ek weet is, dit het uitgewerk soos dit moes. Ek glo vas dat ek tot alles in staat is deur die Here my God wat my die krag gee.”

Rodney het nou sy dramagraad behaal en speel die rol van Gio wat saam met Emile (Christian Bennett) en Tereska (Kayla Jansen), Gio se ma, in Arendsvlei opdaag. En ja, natuurlik is alles nie so maklik soos dit lyk nie. “Ek wil nie te veel weggee nie, maar ek kan sê Gio is ’n kalm ou onder druk. Ek wens soms ek het die geduld gehad wat hy het,” vertel Rodney.

Rodney het van kleins af geweet hy wil eendag stories vertel – of dit nou op die verhoog is of deur middel van musiek. “Op laerskool het ek al aan alles moontlik deelgeneem, maar op hoërskool was dit buitemuurs en te ver van ons huis af. Wat ek nou met drama doen en die rolle wat ek speel, is vir my ’n middel om ’n nuwe wêreld vir mense te skep,” sê hy.

Maar hy skuif glad nie sy musiek opsy nie. “Daar is ’n EP op pad en my YouTube-kanaal is nog aan die gang. Ek het ook begin vervaardig,” sê hy.

Sy YouTube-kanaal het bykans 24 000 intekenare en “Dankie vir die pyn”, een van die liedjies wat op Maak my famous was, is al meer as 1,1 miljoen keer gekyk.

Rodney het nog vele drome wat hy wil verwesenlik. Hy wil graag ’n gevestigde naam in die bedryf word. “Nie net op die verhoog of voor die kamera of met musiek nie – ek het ook my eie klerereeks – maar in alle aspekte van my lewe. Ek sal graag wil toer in Suid-Afrika en gaan binnekort Namibië toe,” vertel hy opgewonde.

  • Arendsvlei is Maandae tot Donderdae op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) om 19:30. Dié telenovela is ook beskikbaar op DStv Stream.