Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Luandri “ontdooi” stadig net soos Karen – Binnelanders

Nuus
11 Junie 2021
Ons het Luandri Reynders leer ken as die verpleegster Karen Kriel in die immergewilde Binnelanders.
Karen

Sy is agtermekaar en baie ernstig en het met ‘n gebroke hart Pretoria toe getrek ná haar verhouding met Shaun vir die soveelste keer nie gewerk het nie. Ja, erken Luandri, daar is so hier en daar ooreenkomste tussen haar en haar karakter …

Waar lê jou wortels en hoe het jy in die vermaakwêreld beland?
Ek het groot geword en woon steeds in Pretoria. Dit is vir my ‘n bekende omgewing en ek hou van die saligheid van Pretoria. Ek is die enigste kind en het in 2014 aan Afrikaanse Hoër Meisieskool gematrikuleer. Ek het eers op die ouderdom van 17 meer in drama begin belangstel klas begin neem. My ouers (Louis en Deidre Reynders) was nie verbaas toe ek vir hulle sê ek wil ‘n akteur word nie. Ek dink hulle het geweet dit is wat ek gaan doen voor ek self geweet het. In 2015 het ek drama gaan studeer by PALI (Perforimg Arts Lifestyle Institute) onder leiding van Shareen Swart en Kaz MacFadden. Dit is ‘n drie jaar kurses wat ek in 2017 voltooi het.

Wat is die grootste ooreenkomste en die grootste verskille tussen jou en jou karakter? 
Ek glo daar is sekere aspekte van my en Karen wat ooreenstem. Ek is self ook ‘n introvert. Dit neem my ‘n tydjie om tussen nuwe mense te ontdooi. Ek dink Karen neem haarself hopeloos te ernstig op en sy vergeet dikwels dat sy ook net ‘n mens is wat soms nodig het om te ontspan en om foute te maak. Dit is waar ons bietjie verskil. Ek dink dit is baie belangrik om na jou emosionele welstand om te sien en wanneer dit voel of dinge teveel raak, moet jy vir jouself ‘n tydjie gee om te ontspan. Karen vertrou nie maklik mense nie, want sy het al te veel agtergekom hoe dit elke keer in haar gesig opblaas.

Sou jy as verpleegsuster kon werk?
Nee, beslis nie. Ek is hoopenloos te grillerig vir bloed. My ma is ’n geregistreerde suster. Ek het vreeslik baie respek vir die veld, maar dit is beslis nie in almal se skoene nie. 

Wat beteken familie vir jou?   
Familie vir my is ’n groep mense wat oneindig lief is vir mekaar. Hulle ondersteun jou in jou drome en doelwitte en is daar om jou op altyd op die regte pad te lei. 

Wat is die ding wat jou nog die meeste op ’n eerste afspraak beïndruk het? 
Iets wat my altyd beïndruk het, is die onverdeelde aandag wat iemand jou gee. Daar is net iets spesiaal as iemand ’n gesprek met jou voer en hulle laat jou voel soos die belangrikste persoon in die vertrek. 

Watter ikoniese filmrol sou jy graag wou speel? 
Ek so graag eendag die rol van Martha in Who’s afraid of Virginia Wolf wil speel. Elizabeth Taylor was vir my briljant in die 1966-weergawe van Edward Albee se toneelstuk. 

Wat die jou lewensleuse? 
Never forget who was with you from the start.

As jy kon uitblink in ’n sport, wat sou dit wees? 
Figuurskaats. Dit is vir my ’n vreeslike mooi sport. Dit lyk altyd so majestieus.

Wat is jou raad as Luandri aan jou karakter in verband met verhoudings?
Die raad wat ek vir Karen sou gee, is dat sy nie so vinnig moet val vir iemand nie. Karen kry baie vinnig gevoelens en dan weet sy nie wat om aan die situasie te doen nie.  Sy is ook dan te skrikerig om te sê hoe sy voel oor die persoon omdat sy bang is hulle voel nie dieslefde nie. Ek dink Karen moet bietjie let go en nie te veel in alles lees nie. 

Gesels saam op Facebook, Twitter en Instagram en onthou om weeksaande om 19:30 in te skakel vir die jongste drama en intrige wat in die gange van Binnelanders uitspeel.