Logo

Louw Venter se Stam wen Beste SA Rolprent by DIFF

Nuus
22 September 2020
Stam is ’n getuigskrif van die evolusie van die Suid-Afrikaanse rolprentnarratief...
Screen Shot 2020 09 19 at 4

Die nuwe rolprent Stam, geskryf en geregisseer deur Louw Venter en vervaardig deur die span verantwoordelik vir Inxeba (Die Wond, 2017) en ‘This is not a Burial, It’s a Resurrection’ 2020, wat veelvuldige toekennings gewen het, het toekenning as Beste Suid-Afrikaanse Film by die Durban Internasionale Filmfees (DIFF) opgeraap. Dit is die derde keer dat die vervaardigers, Urucu, by dié fees ’n toekenning vir hulle werk ontvang, met regisseurs wat hulle vir die eerste keer in die regisseurstoel bevind.

Die rolprent het sy internasionale buiging as deel van ’n kompetisie by vanjaar se DIFF gemaak en het die jurielede beïndruk met sy lewensgetroue blik op die lewens van mense wat op die rand van die samelewing woon.

“As ’n buitestander het ek gevoel dat Stam die Suid-Afrikaanse sosiale tekstuur op ’n baie spesiale en boeiende manier uitbeeld en die verskillende lae van die bevolking wat langs mekaar woon weergee, en dit boonop laat lyk asof dit nie anders kan wees nie,” het jurielid Or Lee Tal van Israel gesê.

“Stam is ’n getuigskrif van die evolusie van die Suid-Afrikaanse rolprentnarratief, met sy brutale eerlikheid, pretensieloosheid en ’n vasberade smagting na die waarheid,” het Layla Swart, ’n plaaslike vervaardiger en jurielid gesê. “Dit kom van nêrens af nie en oorrompel jou volkome met sy opregtheid en suiwer aanslag.”

“Ons is verskriklik opgewonde om hierdie gesaghebbende toekenning te kon inpalm,” het die regisseur, Louw Venter, gesê. “Hierdie jaar se program was dinamies en divers en dit is vir ons ‘n groot eer dat Stam op hierdie manier erkenning ontvang. Dit is veral betekenisvol dat ’n rolprent in Afrikaans kan meeding by ’n fees wat regtig verteenwoordigend en onafhanklik is. Ons voel geëerd om by die globale kinomatiese gesprek ingesluit te word. Ons wil ook ons dankbaarheid betuig teenoor die organiseerder, die Universiteit van KwaZulu-Natal se Sentrum vir Kreatiewe Kuns, en al die organisasies en hul vennote, wat so hard gewerk het om DIFF te midde van hierdie vreemde en moeilike tye te laat plaasvind.”

Stam is ’n onvoorspelbare storie wat politieke korrektheid vermy terwyl dit die innerlike wêrelde van ’n groep mense verken wat niks meer verlang as om iewers te behoort nie. Dit is ook ’n koraalnarratief wat die verweefde lewens van vyf baie uiteenlopende karakters deur die loop van ’n paar uur in die middestad van Kaapstad volg. Die tema van menslike verbintenisse is die kern van hierdie rolprent. Stam ontgin die onsigbare kettings wat mense aan mekaar bind en wat veel verder as bekendheid, die ekonomie, geslag, ras of sosiale aansien strek. Kaapstad met sy besondere soort gebondenheid, verval, towerkrag, gentrifikasie, globalisering en herontwikkeling, speel ook ’n sentrale rol in die film.

Stam spog met ’n indrukwekkende rolverdeling wat gelei word deur Inge Beckmann (8, The Dark Tower, Troy: Fall of a City en Escape Room), Gideon Lombard (Suidooster, Lien se Lankstaanskoene, Black Sails en Twee Grade van Moord), Tarryn Wyngaard (Tess, Noem My Skollie en Arendsvlei) en Niza Jay (Inxeba en Validictory), met Armand Aucamp (Sterlopers, Ballade vir 'n Enkeling en Wat kook by Andre Aucamp), Nicola Hanekom (Sinbad, Song vir Katryn, Isidingo, Charlie Jade, Fishy Feshuns, Shado’s en Heartlines), Jill Levenberg (Noem my Skollie, Suidooster, Rugby Motors, Final Verdict, Stokvel en A Place Called Home) en Oscar Peterson (Vloeksteen, Die Byl, Traffic!, Suidooster, Die Boland Moorde, Swartwater, Sara se Geheim en Parlement Parlement) in ondersteunende rolle.

Mad Moth Communications / CK: 2010/070750/23
e-mail [email protected] / cell +27 83 629 2587 / fax +27 86 670 9359 34 Valley View / Haymeadow Crescent / Faerie Glen / Pretoria / 0081
P.O Box 651209 / Benmore / 2010 / South Africa
Sole member: David Alex Wilson

“Wat betref karakters, intrige en storievertelling staan Stam kop en skouers bo ander rolprente uit en verdien hy om te wen”, het Helen Kuun, besturende direkteur van Indigenous Film Distribution en die verspreider van Stam gesê.

Stam sal ook vanaf 21 September tot 1 Oktober op die KKNK (Klein Karoo Nasionale Kunstefees) se digitale platform vir vertonings beskikbaar wees. Vanaf 2 Oktober sal die rolprent ’n nuwe model van teatervrystelling op BoxOffice volg.

“Dit is opwindend om iets heeltemal nuuts te probeer en ons vennootskap met BoxOffice gee vir ons die geleentheid om Stam se kommersiële debuut in Suid-Afrika digitaal te maak,” het vervaardiger Elias Ribeiro van die produksiemaatskappy Urucu gesê. “Ons is oorweldig deur hoe goed die rolprent ontvang is, veral deur die Afrikaanssprekende gemeenskap, aangesien dit ons eerste werk in Afrikaans is. Ons sien daarna uit om die rolprent oraloor aan gehore beskikbaar te stel sodat mense dit in die veiligheid en gemak van hulle eie huise kan kyk. Nog ’n belangrike voordeel van hierdie vennootskap is dat die film ook in lande regoor Afrika beskikbaar gaan wees.”

Stam is met die ondersteuning van M-Net, kykNet, die Departement van Handel en Nywerheid van Suid- Afrika (SHN), die Nederlands Filmfonds, die Nederlands Film Incentive en die Nasionale Rolprent- en Videostigting vervaardig.

Indigenous Film Distribution: www.indigenousfilm.co.za

Medianavrae:
david alex wilson
Mad Moth Communications
Sel: +27 83 629 2587
e-pos: [email protected]