Logo
Slim Billboard Desktop 1600x160
web uni tv guide

Nêrens, Noord-Kaap

144Drama

Lof vir nuwe reeks – Nêrens, Noord-Kaap

Nuus
02 September 2021
Nêrens, Noord-Kaap saai elke Dinsdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit en is ook op DStv Catch up beskikbaar.
DSC06259

Die eerste episode is uitgesaai en lede van die media het reeds ’n voorskou van die eerste drie episodes van Nêrens, Noord-Kaap gehad. Die konsensus is dat hierdie ’n besondere reeks is wat diep onder kykers se velle gaan kruip. Ook van die spelers stem saam dat hierdie een van die hoogtepunte van hulle loopbane is.

Daar is – met goeie rede – groot opgewondenheid oor Nêrens, Noord-Kaap. Die reeks was eers ’n baie suksesvolle verhoogproduksie en onder leiding van die skrywer Nico Scheepers het dit nou ‘n volwaardige TV-reeks van dertien episodes geword.

Laetitia Pople het op Netwerk 24 geskryf: “Hier waar ek nou sit, kriewel my kopvel van opwinding. Ek kan nie wag om weer by Nêrens aan te ry nie”. En later: “Dit is ‘n reeks waarna mens kan uitsien. As die eerste twee episodes die toon aangee, kan jy net gehalte vorentoe verwag”.

In ’n onderhoud met Elretha Britz, ook op Netwerk 24, sê Frank Opperman (wat die rol van die patriarg Lourens Adendorff speel): “Dis nooit lekker om na jouself te kyk nie, maar ek wil dit tog sien, want in dié stadium is die rol een van die hoogtepunte van my loopbaan”.

In ‘n onderhoud met Rian van Heerden op Jacaranda FM sê Frank: “Dis een van die mooiste reekse in jare”.

Die resensies wat oor die reeks gedoen is, beskryf die essensie van die reeks perfek. Thinus Ferreira skryf op sy blog, TV with Thinus, die volgende: “With a distinctive visual style and with a story told through characters as well as through images, the TV version of Nêrens, Noord-Kaap is a richly textured, well-executed audio-visual drama on kykNET - ripe for post-graduate dissertation of just how far the traditional Afrikaans "farm novel" story has progressed within a new medium as a cinematic experience.”

Floris Groenewald skryf op The Flow: “Nêrens, Noord-Kaap is ’n topgehalte TV-drama wat so mooi is soos ’n film, en so hartroerend soos ’n toneelstuk”.

Herman Eloff van Channel 24 gee die reeks vyf sterre en skryf: “Nêrens, Noord-Kaap is a triumphant showcase of the best that local TV has to offer. It’s neatly polished and well put together, from its talented cast, engrossing script, to its visual presentation. You’ll want to savour every bite of it, and it deserves nothing less.”

Ook kykNET-kykers kon ná die eerste episode nie uitgepraat raak nie.

“Ek as Nederlander wat self in die Noord-Kaap bly om by my Suid-Afrikaanse man te wees – nogal in Nieuwoudtville waar dit geskiet is – voel hierdie storie baie na aan my hart!,” het Yara Peters op kykNET se Facebook-blad geskryf.

“Met die eerste episode al soveel emosie,” skryf Cathy Ferreira. “Oe, hierdie gaan so goed wees. ‘Gaan steel iemand anders se siel.’ So baie diep woorde. Mooi, mooi, mooi. Weer een goeie drama!”

“Ek tjank nou snot en trane ná Andries daai blikke gepak het,” het Heidi Dignas laat weet waarop Pieter van Rooyen geantwoord het: “Ons sit ook hier met blikke op die kombuiskaste wat elkeen sy eie storie het”.

“Uitstekende toneelspel van die akteurs,” skryf Martie van Rooyen Thiart. “Sjoe, baie diepte in hierdie storie. Klaar betower deur die egtheid van die verhaal. Kan nie wag vir wat gaan volg nie. Dankie, kykNET, vir die fantastiese drama’s vir ons wat op afgeleë dorpies woon en nie teaters kan bywoon nie.”

Een dink is seker: As die reaksie op die eerste episode van kykers só is, dan moet hulle hulle regmaak vir ’n uitsonderlike reis vir die volgende twaalf weke. Want dié wat al die tweede en derde episode gesien het weet – hier kom ’n ding.

Nêrens, Noord-Kaap saai elke Dinsdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit en is ook op DStv Catch up beskikbaar.