Logo

Linda Kriel: Só verloor jy daai boep!

Nuus
28 Desember 2017
Dis maklik en eenvoudig, én doenbaar vir jou en jou pasmaat – in die gemak van jou eie huis! Volg Linda Kriel se wenke vir daai perfekte somerlyfie.
Linda-Kriel

Kry daai Lyf  is terug vir ’n tweede seisoen, en in die nuutste aflewering wys Linda Kriel jou hoe maklik dit is om jou liggaam in topvorm te hou.

Dié fiksheid-ghoeroe bewys in elke episode dat jy nie in die stad, in die Virgin Active se kelder, hoef te woon om daardie lyf waarvan jy nog altyd droom te kry nie. Ons het by haar gaan inloer om uit te vind hoe jy in die gemak van jou eie plaashuis fiks en gesond kan bly:

1.  Wat is jou raad aan mans wat wil ontslae raak van hul bierboep?
My wenke om van jou bierboep ontslae te raak:

  • Doen kardiovaskulêre oefeninge. Soos stap, draf of fietsry.
  • Doen maagspieroefeninge.
  • Eet en drink minder.
  • Maak my detokswater en hou dit altyd in die yskas (sien hier onder).

Sny die volgende in skyfies in ’n groot houer met 1,5 tot 2 liter water:

  • Halwe komkommer – bevat anti-inflamatoriese eienskappe.
  • Halwe suurlemoen – help jou om van gifstowwe ontslae te raak.
  • Halwe pomelo – daar word beweer dat pomelo help met vetverbranding. Jy kan ook ander vrugte gebruik soos aarbeie, lemoene, bloubessies.
  • ‘n Handvol kruisementblare – help met vertering.

2.  Hoe brand jy daai vakansievet en hoe motiveer jy jouself om dit te verloor?
Wees baie aktief dié somervakansie, want ’n mens is geneig om meer te eet en drink. Hoe meer jy eet hoe meer aktief moet jy wees. Dan behoort jy nie gewig op te tel nie. Hier is ’n paar oefeninge wat jy kan doen:

  • Gaan stap op die plaas met gewigte, of as jy nie gewigte het nie, gebruik blikkieskos of waterbottels en doen armoefeninge terwyl jy stap. 
     
  • Gebruik swaar plaasvoorwerpe as weerstand wanneer jy jou spiere wil opknap en vet verbrand. Doen hierdie vir jou boude en bobene: Plaas ’n sak mielies/kas tamaties op ’n los huismatjie en sleep dit deur die huis, sodat jy agteruit loop met jou bene amper 90 ° gebuig. Stap 20 sekondes agteruit. Rus en herhaal nog 3 tot 5 keer. Dit sal ook jou harttempo laat styg en sodoende baie ekstra kilojoules verbrand.
     
  • Om jou bo-arms op te knap, kan jy jou handoek gebruik. Staan gemaklik en hou ‘n handdoek agter jou rug vas, met jou regterhand net bokant jou kop en jou linkerhand min of meer waar jou sitvlak begin. Albei arms is gebuig en die elmboë wys na buite. Trek nou met jou regterarm boontoe totdat jou arm reguit is. Gebruik die handdoek en jou linkerarm as weerstand deur effens aan die handdoek te rem. Doen nou die teenoorgestelde: strek jou linkerarm reguit na onder en buig jou regterarm. Probeer doen 3 stelle van 15 en ruil dan jou arms om.
     
  • As jy 'n trappie êrens by jou huis het kan jy baie oefeninge daarop doen. Stap of draf op en af van die trappie vir 1 minuut om jou harttempo te laat styg, voordat jy jou armoefeninge - met die blikkieskos doen vir 'n minuut. Doen direk daarna 'n oefening vir jou bobene, deur op die trappie te staan en dan met die linkerbeen agtertoe af te hurk. Kom op en hurk dan agtertoe met die regterbeen. Doen dit vir 1 minuut. Herhaal al drie oefeninge 3 keer. 

3.  Is dit waar: couples who train together stay together?
Om saam met jou geliefde te oefen sorg vir ’n hegte band. Navorsing het bewys dat mens baie makliker by ’n oefenprogram hou wanneer jy saam met iemand oefen en wat is dan lekkerder as om saam met jou geliefde te oefen. Dit is baie motiverend, help met kommunikasie in die verhouding en kan groot pret wees. Heinz Winckler  en sy vrou Allette gaan te sien wees in die nuwe reeks van Kry Daai Lyf (op 22 Januarie) en hulle glo in die stelling couples who train together stay together.

4.  Kan jy dalk vir ons ’n oefenroetine vir paartjies op die plaas uitwerk en stipuleer hoe lank dit gaan neem?
Hier is die oefeninge wat ek vir Heinz en Alette Winckler gegee het om te doen. 

Linda se oefen-roetine vir paartjies:

Doen hierdie rondte-oefening (oefening 1 tot 4 ) drie tot 6 keer afhangend van fiksheidsvlak. Totale tyd 15 tot 30 minute. Opwarming: gaan stap vinnig vir 3 minute.

  1. Kyk na mekaar. Draf op die plek en lig jou voete voor jou op terwyl jy “voetjie-voetjie” speel: haar regtervoet raak sy linkervoet ensovoorts. Vir 4 tellings en dan spring albei in ’n squat. Dus: draf 1,2,3,4 en squat. Doen dit 30 sekondes.
     
  2. Staan rug teen rug en gee ’n gewig vir mekaar aan. (Op die plaas gebruik ’n sak 5 kg aartappels/mieliemeel.) Doen 15 regsom en 15 linksom .
     
  3. Paartjies-squat: staan regop en kyk vir mekaar. Hou hande vas met arms vorentoe uitgestrek. Albei squat diep deur die bene 90 ° te buig. Kom weer regop en herhaal. Doen 20 herhalings.
     
  4. Een draf met knieë hoog terwyl die ander een ’n statiese squat doen (squat en hou) en hande vorentoe uitgestrek hou sodat die een wat hardloop sy knieë raak teen die ander een se hande. (10 tellings elk. herhaal 3 keer.)

5.  Wat is jou raad vir iemand wat min energie het, veral iemand wat te min energie het om te oefen?

Oefen: 
Oefening verbeter mens se lewensgehalte. As jy oefen, slaap jy ook beter. As jy beter slaap het jy meer energie. Sorg dus dat jy begin met ’n gereelde oefenprogram, al het jy aanvanklik min energie.

Slaap: 
maak seker v dat jy 6 tot 8 ure slaap per nag. 

Eet gesond: 
Jy sal ’n groot verskil in jou energievlakke ervaar as jy suikers en verfynde stysel uitsny uit jou eetplan. Suiker en stysel sorg vir bloedsuikervlakskommelinge en dit maak mens baie moeg.

5.  Hoe gereeld moet jy spieropknappings met gewigte doen?
Hoe ouer ’n mens word hoe meer moet jy weerstandsoefeninge doen. ’n Mens se spierpersentasie daal met ouderdom. Spiere verbrand vet en dus tel mens gewig op soos jy ouer word omdat jy nie genoeg spiermassa het om dit te verbrand nie. Probeer ten minste 2 of 3 keer per week met gewigte oefen of gebruik jou liggaamsgewig vir weerstand – soos push-ups.

Die Kry Daai Lyf-eetplanne is nóú beskikbaar op Linda Kriel se webblad – kliek hier

 

Kry Daai Lyf skop 1 Januarie 2018 om 17:30 af op kykNET, DStv-kanaal 144. Gesels saam op sosiale media met die hutsmerk #KryDaaiLyf. Volg ook die Kry Daai Lyf-Facebookblad vir meer wenke en oefeninge.