Logo

Liefde in Lesotho – Boer Soek ’n Vrou 11

Nuus
03 Januarie 2019
’n Paar boereharte het warm geklop, ten spyte van die yskoue weer.
BSV-Lesotho

Winterwonderland! FOTO: Vanuit ’n episode van Boer Soek ’n Vrou 11

 

Ons boere en hul metgeselle is vir ’n vakansie weggevoer na ’n wit wonderwêreld – die Afriski-bergoord in Lesotho. Dis ’n idilliese prentjie: Ons buurland se skouspelagtige berghange en kniediep sneeu, afgerond deur die blou lug.

Ploeg op die plaas is anders as ploeg deur die sneeu en die boere se yskoue avontuur het begin met die besef dat ski-stewels ongemaklik dra en die spierwit skuinste glad nie vrygewig is nie. Só het hulle by tye soos sneeuballe by die wit helling afgerol, of soos Boer André dit stel: In “paaiemente” geval.

Maar selfs al het die bibber en koue geknaag, het ’n paar harte warm geklop.

Rèan en Rox-Zee

“Hulle twee is vir my die oulikste ooit!” het Toanette oor die Noord-Kaapse boer en sy Engelse nooi gesê. André het gelag: “Rèan en sy girl is hel vryerig! Hulle is op ’n ander planeet.”

Die boer, wat Rox-Zee op ’n stadium “wife” genoem het, het vertel hulle is nou al vier dae gekys, maar daar is al planne om verloof te raak. “Ons is nou gekys, maar ek like haar mos nou maar baie, so . . .”

Hy het oop en eerlik gepraat oor sy Rox-Zee: “Ons voel op dieselfde tye dieselfde.

“Ek dink ons het connect in die Kaap al. Selfs in die kombuis met daai klomp meisies . . . ek kon nie my oë van haar afhou nie.

“Ons verhouding is regtig iets mooi.”

Volgens Rox-Zee sal dit nie lank wees voor hulle afhaak nie. “Ek wil op die plaas by hom wees en aangaan met ons lewens. Dis opwindend!”

LEES OOK: Leah skryf oor haar gunsteling-vakansieplekke!

Cassie en Alyssa

Cassie en die blondine wat hy saamgenooi het was “all smiles”, maar hulle is nog nie amptelik in ’n verhouding nie. Dié boer is ’n waaghals, en Alyssa meen Cassie se spelerige sy is iets wat haar na hom aantrek.

Volgens Cassie is Alyssa meer as net ’n vriendin: “Ons is miskien so ’n level bo vriende”.

Nie een van die twee wil dinge aanjaag nie. “Om in ’n verhouding te wees beteken regtig iets. Dis nie net sommer speletjies nie . . .

“Ons altwee wil eers 100% seker wees,” het Alyssa verduidelik. “Ek hoop rêrig dat Cassie my dalk binnekort sal vra om sy meisie te wees.”

Cassie is bly hy leer Alyssa beter ken. “Al werk dit eendag nie . . . Ek sal niks verander nie.”

Toanette en Nardus

“Ek is baie bly oor my keuse sover,” het Boer Toanette gesê. Sy en Nardus wil eers aan hul vriendskap werk voor hulle saam toekomsplanne maak.

Hulle deel graag vir mekaar drukkies uit en geniet veral hul alleentyd saam. “Daar is niks snaakse geite of iets nie – dis net lekker,” het Toanette gesê. “Ek en Nardus is nog nie ’n couple nie. Ons is baie goeie vriende en daar is definitief iets tussen ons.

“Ons vat dit nog steeds baie stadig.”

Nardus is op dieselfde golflengte: “Ek het haar nog nie gevra om my meisie te wees nie. Ons het ’n goeie verhouding op dié stadium. Ek dink ek is al verlief. Ek hoop sy is darem al so ’n bietjie!” 

Duncan en Kelly

Boer Duncan en Kelly lyk vir die ander boere of hulle doodeenvoudig “by mekaar hoort”, maar hulle is versigtig om nie té hard op die petrolpedaal te druk nie.

“Ons verhouding is steeds op ’n positiewe plek,” het Duncan gesê. “Ons het definitief ’n konneksie.”

Kelly vertel Duncan het haar gevra om amptelik in ’n verhouding met hom te wees, maar dat hulle dié week besluit het om eers goeie vriende te word voor hulle ernstig raak. “Ek verkies dit so. Ek wil hê hy moet gemaklik voel. Ek wil nie iets aanjaag nie,” het sy gesê. 

Volgens Duncan is Kelly die vrou wat op die plaas vir hom die meeste uitgestaan het, maar hy kan nie met 100% sekerheid sê of sy die beste pasmaat vir hom is nie. “Dit sal wonderlik wees as ons dinge kan laat werk,” het hy gesê.

André

Boer André het in Lesotho opgedaag sonder die donkerkop wat hy op die plaas gekies het. “Ag, dingetjies het maar nie so lekker uitgewerk tussen my en Madelé nie,” het hy gesê. “Sy is ’n baie oulike girl. Ons is net twee wêrelde heeltemal weg van mekaar af. Ek dink ons persoonlikhede verskil baie.

“Toe ek met hierdie proses begin het, voel dit vir my, was ek in ’n mate onvolwasse in my hart. Die hele Boer Soek ’n Vrou-belewenis en -reis, voel ek, het my meer volwasse in my hart gemaak.

“Ek is seker daarvan dit sal in ’n volgende verhouding ongelooflik baie help en baie beteken.

“Alles het gebeur soos wat dit moes gebeur het. Ek is glad nie hartseer of spyt oor een besluit wat ek geneem het nie.”

Gesels saam op sosiale media deur die hutsmerk #BoerSoeknVrou te gebruik!