Logo
CW Slim BB BSV S15 Redelivery
web uni tv guide

Boer Soek 'n Vrou

144Realiteit13 L

Die boere en die liefde: Hoe gaan dit nou? – Boer soek ’n vrou

Nuus
14 April 2023
Lees meer.
Boer soek 'n vrou

Die reünie-episode van Boer soek ’n vrou is in November 2022 opgeneem en soos almal weet kan heelwat in ’n paar maande gebeur, veral wanneer dit by jong liefde kom. Ons het by die vyf boere van Boer soek ’n vrou se vyftiende seisoen gaan uitvind hoe dit nou gaan.

Het jy liefde gevind?

Francois: Ek het inderdaad liefde gevind! Iemand wat ek eerlik mee kan wees en wat my deur goeie en slegte tye kan bystaan en ek ook vir haar. Ek sou nie vir Vanessa andersins ontmoet het nie. Dis alles te danke aan Boer soek ’n vrou.

Louis B: Ja, ek het ’n baie spesiale meisie gekry en ek en Rachie is baie gelukkig.

Philru: Ek het nog nie liefde gevind nie, nee, maar is baie positief oor die liefde in die toekoms.

Louis M: Vir my is liefde nie iets wat oornag of met ’n paar geselsies gevind kan word nie. Soms is dit iets wat tyd vat om op ’n gesonde basis te begin en dan te groei. Daarom gaan ek nie oorhaastige besluite neem nie. Ek het iemand oulik ontmoet en ons leer mekaar nog ken. Sover lyk dit baie goed. Ek wil nie weer ’n fout maak nie. Ek is ernstig en wil graag settle met ’n oulike meisie aan my sy wat saam met my die lewe sal aanpak.

Hennie: Ja, ek en Eloïse is nog saam. Ek raak by die dag meer verlief.

Wat het jy die meeste van Boer soek ’n vrou geniet?

Francois: Die plaas- en vakansieweke was vir my besonders lekker. Om my passie vir my werk met die dames te kon deel en dan die aktiwiteite en tyd saam met my pasmaat by die vakansieweek.

Louis B: Die mense wat ek ontmoet het. Die lekker kuier en lag. Om die geleentheid te kry om baie meisies se persoonlikhede te sien. Dit was iets heeltemal nuuts vir my.

Philru: Die nuwe mense wat ek leer ken het, die ervarings wat ons beleef het en die feit dat ek deur die proses baie oor myself geleer het.

Louis M: Beslis die avontuur. Ek het baie goeie mense van regoor Suid-Afrika ontmoet en veral die tye saam met die ander boere in die reeks staan uit. Ek was bevoorreg om hegte vriendskappe met Louis B en Hennie te kon smee.

Hennie: Die hele proses. Die nuwe mense wat jy leer ken, nie noodwendig net die vroue nie, maar ook die mense agter die skerms wat jou so op jou gemak laat voel en jou in jou element uitbeeld. Hulle doen regtig moeite om vir jou die beste uit die hele ervaring te gee.

Is daar iets wat jy anders sou doen?

Francois: Nie noodwendig nie. Alles het uitgedraai soos wat ek gehoop het en ek is gelukkiger as ooit.

Louis B: Nee, niks wat ek nou aan kan dink nie.

Philru: Ek sou dinge bietjie meer deurdink het en dinge dalk ’n bietjie anders benader het.

Louis M: Ek is ’n ongelooflike reguit mens en is baie trots daarop dat ek nie agteraf is of doekies omdraai nie. Wat ek wel geleer het op ’n program soos Boer soek ’n vrou, is om  honderd persent eerlik en opreg te wees, kan in ’n negatiewe lig deur kykers gesien word omdat hulle slegs vyf minute se opnames uit ’n hele dag sien. Indien jy honderd persent reguit en opreg is, moet mens aanvaar dat daar moontlik verkeerde sieninge kan wees. Dinge moet dus dalk bietjie sagter gestel word.

Hennie: Daar is regtig niks wat ek anders sou doen nie. Ek het dit gesien as ’n platform om iemand te ontmoet en dit het vir my gewerk.

Wat is jou raad aan boere wat vir die volgende reeks wil inskryf?

Francois: Skryf slegs in as jy gereed is om ’n ernstige pad met ’n moontlike pasmaat te stap en liefde te vind. Kyk na die innerlike meer as die uiterlike. Neem die proses ernstig op want mense se gevoelens is op die spel.

Louis B: As jy doodseker is dat jy reg is om na iemand se hart te kyk, doen dit. As jy regtig op soek is na jou lewensmaat en haar nog net nie kon kry nie, dan sal dit werk. Bid oor dit voor jy dit doen anders sal dit nie werk nie. Laastens sal ek sê bly nederig en werk aan jou swak punte. Dit is nie wie jy is nie, dit is wie jy kies om te wees.

Philru: Maak seker jy weet wat jy wil hê en wees bereid om jouself te toets. Moenie dit net doen om dit te doen nie. Dit vat baie uit jou en ook die vroue wat vir jou gaan inskryf.

Louis M: Wees oopkop as jy vir die reeks inskryf. Dit kan regtig baie mooi uitdraai indien jy die regte persoon ontmoet. Ek was ongelukkig nie so gelukkig om iemand op die reeks te ontmoet nie, maar ek is doodseker as dit vir jou werk, moet jy nie vir ander mense luister of jou steur aan wat hulle sê nie. Mense weet nie altyd wat agter die skerms aangaan nie. Dit is jou lewe en jou geluk en jy is die enigste persoon wat dit ’n realiteit kan maak. Baie sterkte aan elke boer en elke dame wat gaan inskryf. Niemand van ons is gemaak om alleen te wees nie en ons almal verdien geluk. Ek wil dankie sê vir Boer soek ’n vrou vir die ongelooflike geleentheid. Ek het dit baie geniet.

Hennie: Jy moet reg wees en eg aan jouself en wie jy is wees. Jy gaan baie van jouself leer.

Klik hier vir nóg eksklusiewe inhoud.