Kykers was gaande oor die heerlike, eg Afrikaanse saamkook-en-geselsreeks wat Carmen Niehaus met die liplek-lekkerste kombinasies in die eerste seisoen van Lekker & goed op kykNET voorgesit het.
Dis nie om dowe neute dat die woord “lekker” so maklik van die Afrikaanse tong rol nie. Niks is mos lekkerder as lekker nie. En danksy Carmen se klem op gesonde kos, is dit boonop ’n goeie, heilsame lekker waarop die saamsmullers en kykers trakteer word.
Met haar jarelange ervaring as kosredakteur van Huisgenoot en meer as 25 kookboeke uit haar pen, was ’n tweede seisoen van Lekker & goed eenvoudig ’n moet.
Daar word nie aan die wenresep van die eerste seisoen getorring nie. Carmen kuier en kook weer aan die pragtige Weskus gesellig saam met bekendes wat boonop kosvriende is.
“Lekker & goed gaan oor lekker en goeie ervaringe. Die mooi van die Langebaanmeer skep net die regte atmosfeer vir aansit om ’n keurig gedekte tafel met goeie kos en wyn en saamkuier met lekker gaste. Daar word saam gekook in ’n pragtige kombuis gebaai in kleur en blomme met geselsies oor velerlei, maar veral oor gesonder (en lekker) eet terwyl die potte prut en daar geteug word aan Carmien Tea se geurige rooibostee en selfs ’n rooibosdrankie,” vertel Carmen.
Net soos ’n vars briesie wat oor die lieflike Langebaanmeer waai, sorg Carmen se gaste vir vrolikheid en inspirasie.
Vir 13 weke gaan Carmen saam met bekendes – waaronder Mila Guy, Danie du Toit (van Spoegwolf), Ewan Strydom, Ricky Schroeder en Rolanda Marais – die een watertanddis ná die ander voorberei.
’n Paar bobaaskokke van Kokkedoor-faam gaan ook gesig aan die Weskus kom wys. Dis nou mense soos Yolani Abrahams en Mari-Louis Guy, asook Klein Roosboom-wynplaas se Lorianne Heyns en Johan de Villiers, wat vir hulself naam gemaak het in Kokkedoor: Vuur & vlam.
Die kersie op die koek vir hierdie kosreeks is dat daar ook ’n gedugte span agter die skerms woeker, met Kokkedoor-regisseur Sanet Olivier wat die leisels vashou en Herman Lensing wat die kosvervaardiger en produksie-ontwerper is.
“Ek hoop kykers sal besef dat om gesonder te kook nie saai, vervelig of geurloos hoef te wees nie, maar inderdaad baie lekker, pragmooi en prettig kan wees,” is Carmen se groot wens. “ ’n Mens kan die reëls na goeddunke breek, en ek gee raad en wenke oor hoe om ’n heerlike, geurige bord kos te skep wat die komplimente laat inrol.”
Kykers kan uitsien na nog meer kleur wat die gees van Lekker & goed lig en ekstra prettig maak.
“Ons kook eerlik en mooi en sonder fieterjasies, met ’n huppel in ons gesonder stap. Kos is immers ook kuns,” sê Carmen.
Sy is veral trots op die gesonder deel.
“Ek knyp myself telkens om te besef dat my droom om kos gesonder, maar steeds smullekker te kan voorsit aan ons mense, uiteindelik waar geword het. Dis ’n opwindende reis waarvoor ek innig dankbaar is, en ek kan nie ophou kyk na al die mooi wat daar reg rondom my geskep word nie.”
Lekker & goed word vanaf Donderdag 15 April om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
