Logo

kykNET Silwerskermfees loods opwindende ontwikkelingsprojek vir mini-dokumentêre

Nuus
01 Julie 2022
Is jy 'n dokumentêre filmmaker?
Silwerskermfees Doccie Comp New

Dokumentêre was die afgelope paar jaar aan die snykant van filmvervaardiging. Dié genre maak ’n geweldige bydrae tot ons verstaan van ingewikkelde werklikhede en verskaf sowel leergeleenthede as vermaak. Groeiende kykersgetalle wys dokumentêre films en TV-reekse raak wêreldwyd al hoe gewilder.

Dokumentêre was egter nog altyd ’n belangrike pilaar van filmproduksie en lank reeds deel van groot kompetisies soos die Oscars®, BAFTA’s en Emmys. Die kykNET Silwerskermfees is dus trots om ’n nuwe kompetisiekategorie aan te kondig – dokumentêre kortfilm. Soos met die gevestigde kortfilmkategorie sal daar ’n ontwikkelingsprojek vir mini-dokumentêre wees wat aspirantfilmmakers in Suid-Afrika die geleentheid gee om ’n kort dokumentêre film van tussen 20 en 30 minute te ontwikkel en met behulp van ’n span mentors te vervaardig.

Alle passievolle dokumentêrefilmmakers van môre wat egte Suid-Afrikaanse stories kreatief wil vertel, kan nou inskryf: 

Die kykNET Silwerskermfees is ’n toonaangewende Suid-Afrikaanse en Afrikaanse filmfees wat reeds vir ’n dekade lank die plaaslike filmbedryf ondersteun, bemagtig en ontwikkel. Die gewilde kortfilmkategorie, wat ook van stapel gestuur is as ’n ontwikkelingsprojek vir ontluikende talent om kortfilms in verskillende genres met finansiële bystand en mentorskap te vervaardig, het ’n lanseerplatform vir baie plaaslike televisie- en filmmakers geword.

Aspirantdokumentêrefilmmakers het tot 31 Julie om middernag om te registreer en hul konsep in te skryf op die Silwerskermfeeswebwerf: https://silwerskermfees.co.za.

’n Keurpaneel sal die 30 topkonsepte uit hierdie inskrywings vir die volgende ronde aanwys. Daarna sal 7 tot 10 konsepte uiteindelik gekies word vir vervaardiging en finansiering met mentorskap en ’n begroting van tussen R150 000 en R250 000.

Deelnemers moet Suid-Afrikaanse burgers wees of permanent in Suid-Afrika bly. Alle deelnemers jonger as 18 jaar moet skriftelike toestemming van ’n ouer of voog kry vir inskrywing, en hul ouers of voogde moet hulle in die aansoekproses ondersteun.

Die Silwerskermfees fokus op Afrikaanse produksies, maar inskrywings in enige ander amptelike Suid-Afrikaanse taal sal ook oorweeg word. Dit word aanbeveel dat 60% van die finale produk in Afrikaans moet wees en ’n minimum van 50% word vereis.

Alle verdere navrae kan na [email protected] gestuur word en meer inligting is beskikbaar by https://silwerskermfees.co.za.