Logo

kykNET NOU! nuut op die kassie

Nuus
23 Julie 2015
kykNET Musiek trek op 3 Augustus 2015 ’n nuwe baadjie aan met die geboorte van kykNET NOU! op DStv-kanaal 146.
kykNET NOU_Logo
kykNET Musiek trek van volgende maand af ’n nuwe baadjie aan as kykNET NOU!, en maak op 3 Augustus sy buiging op DStv-kanaal 146.

Karen Meiring, M-Net se direkteur van Afrikaanse kanale, beskryf kykNET NOU! as ’n opwindende vernuwing deur die kykNET-kanale om die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf te ondersteun en te dien in al sy vorme en fassette.

kykNET NOU! gaan vermaak in breë trekke verteenwoordig, wat alles van gesels- tot leefstyl- en musiekprogramme insluit.

“Ons beoog om ons kykers op hoogte te hou en hulle sosiale kalender behoorlik op te kikker met die nuutste inligting oor ons konserte-kringloop en solovertonings,” sê Meiring. “kykNET NOU! gaan veral ook baie aktief wees op ons digitale platforms. Kom vier dit NOU saam met ons.”

kykNET NOU! gaan beskikbaar wees op die DStv-familiepakket, DStv Compact en DStv Extra, en is jou enigste Afrikaanse musiek- en vermaakbestemming op TV, digitale platforms en by feeste.



Kyk net wat kan jy NOU kyk:

• Die GROOT Ontbyt gaan vanaf 10 Augustus regstreeks op weeksdae van 06:00 tot 08:00 uitgesaai word. Kykers sal daagliks nuus, sowel as weer-, verkeernuus en interessante stories van Johrné van Huysteen, Nadia Beukes en die res van die span vanuit GrootFM se ateljee in Pretoria ontvang.
Jou Show, met die skreeusnaakse Emo Adams en sy bekende gaste, is Maandae om 20:00 op die kassie. Reis na Gister, wat bekendes se grootwordplekke besoek, volg om 21:00.
#MyMusiek, Dinsdae om 20:00, gee kykers die geleentheid om hul top-8 Afrikaanse musiekvideo’s op die kassie te sien speel. Kykers kan hul speellys op ons sosiale media platforms indien.
• Dinsdae om 21:00 luister ons na ikoniese sangers en wat hulle inspireer in die pragtige Singstories.
Fiësta vier fees op Woensdae om 19:30, en om 20:30 reis ons saam met Gerrie Pretorius in Leef jou Reis. Dit word gevolg deur lekker boeremusiek in Varstrap om 21:00.
• Op Donderdae om 19:30 is dit digiTAAL, want disitaal waarin ons nou kuier. Kyk saam na die afgelope week se top-inhoud op ons sosiale media platforms.
• Donderdae om 22:00 vermaak ons naguile met die hoogs aangeskrewe eerste seisoen van Die Republiek van Zoid Afrika.
• Vrydae om 20:00 is die gespreksprogram Flits aan die beurt, en word ons op hoogte gebring van wat nou nuut is in die vermaaklikheidsbedryf.
• Saterdae #LekkerTV en Jukebox ons oudergewoonte saam.
• Sondae om 18:30 maak ons ’n draai op rooi tapyte landswyd in Bravo!.
JAM! kry ’n nuwe baadjie op Sondae om 19:30.
Sing in Harmonie, ons koorkompetisie vir laerskole, woed voort en jy kan na die groot finaal op Sondag 30 Augustus uitsien.
• Vir die MK-aanhangers is daar ’n hele uur volgestop met MK-skatte, Vrydae en Saterdae om middernag.

Boonop gaan konserte binnekort regstreeks op kykNET NOU! uitgesaai word en word nóg meer beplan om ’n TV-kanaal daar te stel met ’n plaaslike geur en kleur soos nog nooit tevore nie.

Vrae en antwoorde:

Hoekom word dit gedoen?
Om ons bestaande aanbod te verryk deur ’n stewige dosis vermaak by ons musiekspyskaart te voeg.

Wie sal die kanaal geniet?
Die hele gesin – van bitter jonk tot jonk van gees.

Wanneer is die kanaal op die kassie?
Vanaf 3 Augustus 2015 op DStv-kanaal 146.