Logo

kykNET Foxwood-Kunstefees: Een in sy soort

Nuus
12 Oktober 2015
Die kykNET Foxwood-Kunstefees ontplof op 13 Oktober 2015 in Houghton, Johannesburg onder meer met twee nuwe Afrikaanse toneelstukke.
ingrid_jonker
Die kykNET Foxwood-Kunstefees ontplof op 13 Oktober 2015 in Houghton, Johannesburg, met twee nuwe Afrikaanse toneelstukke, ’n fees propvol fynproewersdisse, Foxwood Vineyard se gesogte wyne, musiek, kuns, boeke en ikone in die tuin.  Tydens die opening word Foxwood House tot Africana-erfenisstigting verklaar deur Isabella Steyn, nasaat van oud-president MT Steyn.

Vanjaar se tema is Ingrid Jonker, die ewige rebel.  Vyftig jaar ná haar dood is haar gedig Die kind, wat deur oud-pres. Nelson Mandela in die Parlement voorgelees is, meer relevant as ooit. ’n Multimedia-program word oor Jonker aangebied deur die wêreldberoemde Jonker-kenner, Petrovna Metelerkamp.

Twee Afrikaanse toneelstukke debuteer: Deborah Steinmair se Plant vir my ʼn boom, André (’n toneelstuk oor Brink se liefdesverhouding met Ingrid Jonker) behoort ’n treffer te wees.  So ook Jan Groenewald se Pruimboom, oor molestering en vergelding.

34 fox6
Tinarie van Wyk-Loots, Erik Holm, Magdalene Minnaar, Neels van Jaarsveld, Amanda Strydom, Richard van der Westhuizen, Jitsvinger en meer tree op in ‘n verskeidenheid van trefferstukke.

34 fox5


Sandra Prinsloo vereer ikone soos Ton Vosloo, Neels Hansen, Milla Louw, Fanus Rautenbach, Elisabeth Eybers, Hermien Domisse en Beyers Naudé, Elize Botha en hartchirurg Chris Barnard met boomplantings en gedenkplate in die tuin by Foxwood House.  Dit gaan gepaard met opnames vir die opvolgreeks van Sandra op ’n drafstap op kykNET.
34 fox
34 fox2


Die kykNET Foxwood Fees se beskermheer, Ton Vosloo, open die fees amptelik Dinsdagmiddag om 14:30.  Sy handafdrukke sal geplaas word in Foxwood se Tuin van Roem. In sy eie woorde:

“Die Goudstad het  ’n erkende wêreldstad geword. Sy kosmopolitiese aard het sy dosyne kulture laat gedy. In hom het Afrikaans nes geskop en van ons land se grootste en bekendste skrywers, digters, dramaturge en skeppende geeste het in hom ’n tuiste gevind. Dit het aanleiding gegee tot trotse Afrikaanse opvoedkundige inrigtings soos Helpmekaar en Jan Cilliers wat die voedingsbron geword het van mense wat omgegee het vir hul taal en medemense van alle kleure. Nou is dit tyd dat Egoli die goud van sy kultuur veredel met ’n fees: ’n fees van erkenning van ons multikulturele opset waarin Afrikaans ’n sleutelrol speel. Die fees bind in en saam; dis nie ’n fees vir ’n bepaalde groep nie, dis ’n fees wat omarm en waarin die krag van Afrikaans in sy verskeidenheid kan blom.”

Marida Swanepoel is die voorsitter van die direksie en word bygestaan deur dr. Danny Titus, Sandra Prinsloo, Karen Meiring, Pieter de Vos, Jan Groenewald en die feesorganiseerder, Deborah Steinmair.  Die seremonies en aanbiedings word deur kykNET gedek.

Vir meer inligting en besprekings, besoek die Foxwoodfees Facebookblad.
34 fox3