Logo
HP BB wies nuus
web uni tv guide

Wie's Nuus

144NuusPG13

kykNET bou voort aan aktuele aanbod met Wie’s Nuus?

Nuus
01 Junie 2022
Lees meer.
Wies nuus

Kykers kan op hoogte bly van die jongste nuusgebeure, aktuele kwessies, welstand en entrepreneurskap-tendense op kykNET, DStv-kanaal 144.

Dit is nog altyd belangrik vir kykNET om kykers ophoogte en ingelig te hou. Die regstreekse aktuele aanbod skop elke weeksdag reeds om 05:30 af met GROOTplaas, wat op landbou fokus. Hierop volg Die GROOT Ontbyt, met byna ’n uur se nuus, koerantbesprekings, sportnuus en die weer, asook leefstyl. In spitskyktyd saans bring eNuus kykers sewe dae per week op die hoogte van unieke plaaslike asook nasionale en internasionale nuus.

kykNET is ’n verskeidenheidskanaal met programme in omtrent elke genre vir televisieliefhebbers waarvan aktualiteitsprogramme met hul regstreekse programmering ’n belangrike deel vorm. 

Daarom is ons trots om ’n splinternuwe nuusprogram, Wie’s Nuus? met Netwerk24, aan te kondig.

Vanaf 21 Julie 2022 kan kykers uitsien na Wie’s Nuus? met Netwerk24 wat Donderdag om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal) uitgesaai sal word. Dié verskeidenheid nuusprogram van 26 episodes sal fokus op die nuusmaker wat die opskrifte haal. Die aanbieder is Mia Spies. Wie’s Nuus? sal die storie agter die storie vertel, agtergrond skets, en joernaliste van Netwerk24 en ook van ander gesaghebbende publikasies en nuusdienste betrek wat naby aan die groot nuusgebeure beweeg.

“Ek is verskriklik opgewonde oor Wie’s Nuus?, omdat daar nog nooit só iets in Afrikaans was nie. Ek nooi elke week die kykers in my leefkamer in waar ek saam met Netwerk24 joernaliste en kenners ’n nuusmaker onder ’n vergrootglas plaas. Ons ontleed en bespreek die persoon wie almal daardie week aan die gons het,” sê Mia Spies, aanbieder van Wie’s Nuus?

 “Dis vars, modern, en gemaklik maar het steeds gravitas en geloofwaardigheid. Ek glo dit is ’n nuwe hoofstuk vir aktuele Afrikaanse televisie."

Mia is ’n gevestigde verslaggewer, nuusleser, aanbieder en vervaardiger. Sy voltooi haar meestersgraad in joernalistiek by die Universiteit van Stellenbosch waarna sy by Eyewitness News as verslaggewer en nuusleser werk. Kykers sien haar ook tans weekliks as lid van die verslagspan by KN Verslag. Sy ontvang in 2021 die Kokertoekenning vir haar bydrae tot die Afrikaanse medialandskap.

Waldimar Pelser, direkteur van kykNET- kanale by MultiChoice, het gesê Wie’s Nuus? word in Julie ’n belangrike deel van kykNET se aktuele aanbod. “Van vroegoggend op Die Groot Ontbyt tot by eNuus om 19:00 en ons vlagskip-aktuele programme daarná bied kykNET programme wat ons kykersgemeenskap inlig en perspektief gee op sake van die dag. Ons is opgewonde oor wat die sterk joernalistieke span by Wie’s Nuus? gaan bydra tot ons kykers se begrip van landsake.”

Die groei in kykersgetalle van aktualiteitsprogramme het kykNET ook genoop om meer gunstiger tydsgleuwe te oorweeg vir twee gewilde aktualiteitsprogramme wat vanaf Julie 2022 in werking sal tree.

KN Verslag in Gesprek met Lourensa Eckard sal vanaf 3 Julie om 20:30 op Maandae uitgesaai word vanuit die ateljee in Johannesburg. Prontuit, met Kabous Meiring, skuif vanaf 4 Julie na Dinsdae om 21:00. Die nuwe tydsgleuwe beteken hierdie twee programme, wat sedert 2014 op die lug is, sal vir nog groter gehore beskikbaar wees.

KN Verslag sal in Junie tot ’n einde kom op kykNET (DStv-kanaal 144). Die aanbieder, Suzaan Steyn, sal steeds die ankeraanbieder wees van die gewilde mediese program Spreekkamer. Hierdie program is vir nog ’n seisoen van 13 episodes hernu, terwyl Winslyn, aangebied deur Divan Botha, wat oor die sakewêreld en entrepreneurskap, Dinsdae om 22:00 op die lug is.

kykNET&kie (DStv-kanaal 145) se vlagskip-program oor die sake van die dag Kô, Lat ons Praat, oftewel KLOP!, sal vanaf 3 Julie Sondagaande om 19:30 uitgesaai word.

Alle skeduleveranderinge sal vanaf Julie 2022 in werking tree en Wie’s Nuus? begin Donderdag 21 Julie op kykNET (DStv-kanaal 144).

Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram deur die hutsmerk #WiesNuus te gebruik. Skakel vanaf 21 Julie 2022, elke Donderdag om 21:00 in vir Wies Nuus?.