Beurtkrag het ’n deel van Suid-Afrikaners se lewe geword. Maar dis nie net die kragnetwerk wat jaar in en jaar uit moeilikheid gee nie. Daar is ook plekke waar watervoorsiening ’n nagmerrie is. ’n Groeiende groep mense probeer om so na aan die natuur moontlik te lewe en so min as moontlik op elektrisiteit- of watervoorsiening van die staat aangewese te wees.
In Gee my krag, wat op Donderdag 5 Oktober om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin, steek die aanbieder Konrad Raubenheimer kers op by Suid-Afrikaners wat hulle rug op netwerkafhanklikheid gedraai het. Van hulle het dit veel verder gevoer as net sonpanele en watertenks en het ook bou- en ontwerpprojekte aangepak om meer onafhanklik te wees.
Neem byvoorbeeld vir Willie Schmidt. Hy is ’n eksentrieke kunstenaar en uitvinder wat sy eie windturbines gebou het om sy huis van krag te voorsien. Of prof. Dieter Holm, ’n professor in argitektuur en sonkragpionier wat in 1974 die eerste huis in Afrika gebou het wat totaal onafhanklik van die kragnetwerk – off the grid – was. Vandag woon drie generasies van sy familie op een eiendom waar al die huise, ’n lodge én hulle besigheid se elektrisiteit deur sonkrag voorsien word.
Dan is daar ook Gerhardt Koch wat saam met sy gesin op die eindtye wag en ’n volledig selfonderhoudende huis met sy eie hande gebou het, en Ross en Kath Evers wat ’n huis uit ’n ou damwal op ’n plaas geskep het en reeds 20 jaar onafhanklik van enige netwerke lewe.
In elke episode word daar gekyk na mense se vindingrykheid en word ondersoek ingestel na elkeen se unieke aanslag en benadering tot ’n volhoubare leefstyl, hernubare energie en innoverende tegnologie.
Konrad is nie net die aanbieder van Gee my krag nie, hy is ook die tegniese vervaardiger. Sy vrou, Danielle McDonald, is die vervaardiger en produksiebestuurder, en Wim Steytler is die regisseur.
Konrad het al in uiteenlopende rigtings gewerk – van rekenaars tot eiendomme, en hy het ook al sy lyf beleggingsbankier en wynmaker gehou. Hy is lief vir reis en die buitelewe en het al in verskeie lande gewoon. Konrad se ouers is beide in die akademie. Sy pa en broer is albei professors, maar gee eerder vir Konrad die oop pad as die lesinglokaal. Ander kykNET-projekte waaraan hy ’n aandeel het, sluit in Hokaai, my meisie! en die dokumentêre program oor Ysland, Ver in die wêreld.
- Gee my krag begin op Donderdag 5 Oktober om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).
