Logo

Kokkedoortjie: Twee kokke, drie disse, een wenner

Nuus
28 Junie 2017
’n Driegang-maaltyd was dié week op die heel laaste spyskaart.
Kok Finale Disse Bill

Edwin se drie disse

Edwin en Christi, die top-twee Kokkedoortjies, moes in die naelbyt-finaal ’n driegang-spyskaart beplan, kook en opdis.

Die voorgereg kon ’n slaai of warm groentegereg insluit. Vir die tweede gereg was die klem op ’n “hoofgereg met ’n sous”, maar die Kokkedoortjies kon natuurlik ander elemente bywerk. In die nagereg moes die kokke seker maak sjokolade kraai koning.

Christi het besluit op ’n aarbei-en-bokmelkkaas-slaai, hoender-roulade met spinasie en feta en risotto met donkersjokolade.

Christi se aarbei-en-bokmelkkaas-slaai

Die beoordelaars was gaande oor die vinaigrette wat hy saam met sy slaai bedien het. Die peper en balsamiese asyn is ’n wen-kombinasie, maar Christi kon dalk bietjie minder asyn gebruik het, was die beoordelaars se terugvoer.

Christi se hoender-roulade met spinasie en feta

Hoewel Christi se roulade heerlik geproe het, sou die beoordelaars graag wou hê hy moes die hoender goudbruin in ’n pan gebraai het voor dit in die oond gegaan het. Hulle sou ook meer sous verkies het.

Christi se risotto-en-perske-nagereg

Volgens beoordelaar Nic van Wyk was Christi se risotto-nagereg heerlik omdat dit nie te soet was nie, maar die risotto was nie heeltemal gaar nie. Beoordelaar Mari-Louis Guy het verder gesê die beoordelaars was op soek na ’n “ridder in die sjokolade”, so sy het gehoop hy sou die nagereg “omdraai”, sodat die perske en risotto onder is en die sjokolade bo (sodat dit daarin kon smelt).

Edwin het ’n tuna-en-avokado-slaai, Cordon Bleu (steak met kaas en ham binne-in) met sampioensous en ’n sjokoladebruintjie-kersiepoeding voorberei.

Edwin se tuna-en-avokado-slaai

Mari-Louis het gesê Edwin kon dalk die avokado afgeskil het en meer modern voorgesit het, maar het nogtans gedink dit was ’n heerlike bistro-dis.

Edwin se Cordon Bleu met sampioensous

Sy het gedink sy Cordon Bleu se balvorm was ’n “fantastiese idee”. Die beoordelaars was verder dol oor die sampioensous, hoewel Nic gedink het hy kon die sampioene met ’n handmenger geblits het om die geure selfs meer uit te bring.

Edwin se sjokoladebruintjie-kersiepoeding

Volgens Mari-Louis was Edwin se nagereg ’n “heerlike kombinasie” tussen ’n sjokoladebruintjie en ’n gestoomde poeding. Die beoordelaars het gedink sjokolade het ongetwyfeld koning gekraai in dié dis, maar Nic sou nie net kersies ín die bruintjie gesit het nie, maar vars kersies as garnering gebruik het.

Edwin se bistro-spyskaart het aan hom die titel besorg! Lees die beoordelaars se kommentaar hier.

Kokkedoortjie se finaal is op 28 Junie 2017 uitgesaai. Herhalings word Donderdae om 15:00, Vrydae om 11:00, Saterdae om 14:00, Maandae om 16:00 en Woensdae om 13:30 uitgesaai. Gesels saam op Facebook en Twitter (gebruik die hutsmerk #Kokkedoortjie) en hou ons Instagram-blad dop!