Logo

Koekedoor: Julle vra, ons antwoord

Nuus
09 Mei 2016
Die Koekedoor-span beantwoord ’n paar kykersvrae oor die nuwe seisoen.
Koekedoor FAQ

Die Koekedoor-span beantwoord ’n paar kykersvrae oor die nuwe seisoen.

Hoe het dié bakkers Koekedore geword?

Voor die oudisies (wat in Augustus 2015 in Kaapstad, Bloemfontein en Johannesburg gehou is) het ons duisende inskrywings ontvang. Die aansoekvorms het ’n bakopdrag ingesluit (stel ’n gebak-spyskaart vir ’n verlowingstee in ’n ou gerestoureerde plaasskuur saam). Hulle moes verbeeldingryke idees voorstel.

Uit die honderde der honderde oudisiekoeke spog dié tien met die deurslaggewende iets ekstra wat in die smaakgeheue bly talm.

Errieda du Toit, die inhoudsvervaardiger: kos van die reeks en skrywer van die bakboek wat net ná die reeks verskyn, was deel van die oudisie-proepaneel. Só ook die beoordelaars Mari-Louis Guy, Elizabeth Cloete en Tiaan Langenegger.

Die toptien se oudisiekoeke is so uiteenlopend soos die mense wat dit gebak het – elkeen met sy eie storie. Dit het ook baie gemeen: Elkeen het nostalgie as ’n bestanddeel en elkeen is gebak met drome in die oë. Elkeen het ons span koekfoendies só beïndruk, dat dit van die bakker ’n Koekedoor gemaak het.

Die opdrag was vir almal dieselfde: Bring ’n koek vir tee in ’n lentetuin. Die koeke was ’n Kirstenbosch in volkleur, ’n fyntuin van geure en blombeddings vol prag en plesierigheid. Dis ook opvallend dat die koeke die trefkrag en tendens van die vorige seisoen toon om ou tegnieke te herontdek. Nostalgie bly die grootste inspirasie, met familieresepte en ou gunstelinge as vertrekpunt vir nuwe idees.

So tussen die proe deur is die kandidate ook deur die regisseur Sanet Olivier en vervaardiger Paul Venter ondervra.

’n Kombuistoets (slegs 25% van die oudisiegangers kon deurdring) het gevolg en die bakkers moes ’n rol skilferkorsdeeg met min bestanddele in iets pronkerig omskep het. Die laaste ronde – slegs vir ’n klein groepie bakkers beskore – was ’n filmtoets, om te kyk hoe elkeen voor die kamera optree en hoe hulle hulself uitdruk.

Vanjaar se tien deelnemers is uit dié groep gekies.

Watter oonde gebruik die deelnemers in die Koekedoor-stoor?

Smeg-stowe word gebruik wat met gasplate werk en elektriese oonde. Model: SMEG SSA91MFP.

Waar kom Koekedoor se openingslied vandaan?

Dié lied is spesiaal vir die reeks gekomponeer deur Frequency Farm Studios– die seuns van die bekende konsertpromotor Attie van Wyk, wat op sy dag deel was van Ballyhoo (wat die gewilde “Man on the Moon” uitgereik het).

Waar is Koekedoor verfilm?

Die tweede seisoen is weer op die historiese Twee Jonge Gezellen-landgoed buite Tulbagh verfilm, in die Koekedoor-stoor, wat ongetwyfeld die bestoegeruste bakkombuis in die land is, met toerusting en bestanddele waarvan tuisbakkers net kan droom.

Hoe werk elke week se episode?

Die Tuisgebak-uitdagings gee die bakkers die kans om elke episode af te skop met ’n familieresep. Hierdie uitdaging plaas hulle nie onder soveel druk nie en gee kykers die geleentheid om weer kennis te maak met ons eie bakkultuur – iets wat Tannie Elizabeth besonder na aan die hart lê.

Vir elke Fyngebak-uitdaging het Mari-Louis ’n unieke gebak ontwerp wat die bakkers se tegniese vermoëns onder taai tyddruk op die proef stel. Die bakker, wat die resep nog nooit onder oë gehad het nie en ook nie weet hoe die eindproduk moet lyk nie, moet fyn beplan en vinnig besluite neem.

Vir die Pronkgebak-uitdagings moet deelnemers groot kan droom en spoggerig kan doen. Volgens Tiaan Langenegger toets hierdie uitdagings die koekedore se vermoë om hul kreatiewe denke en bakvaardighede saam in te span, buite die koekpan te dink en met spoggerig bakwerk ’n eie stempel af te druk.

Wat wen die wenner? En is daar darem ook ’n prys vir die naaswenner?

Koekedoor is die land se grootste amateur-bakkompetisie. Die wenner gaan huis toe met R200 000 kontant, ’n nuwe Suzuki Ciaz-sedanmotor en ’n begeerlike kookboekkontrak met Human & Rousseau. Rolkem Akademie en Capsicum Culinary Studio borg ook ’n suikerkuns-kursus van R50 000 vir die wenner.

Die naaswenner kry R50 000 kontant van Safari Dried Fruit, en Kenwood-toerusting ter waarde van R20 000, asook ’n suikerkursus ter waarde van R35 000. Pryse wat in ander episodes losgebak word, is Kenwood-toerusting, ’n gasstoof geskenk deur Olive Pride, houtware van My Butchers Block, Lekkeslaap-geskenkbewyse, ’n eetstel van Mervyn Gers Ceramics en ’n kunswerk van Alex Hamilton. Pick n Pay is die hoofborg. Lees meer.

Hoekom noem die beoordelaars aan die begin van die program vir die deelnemers dat niemand huis toe gaan nie?

Ons wil graag aan die begin al vir hulle sê daar is niks om te verloor nie, maar álles om te wen! Dit beteken hulle maak ’n kopskuif sodat hulle regtig lekker kreatief en groot kan gaan, eerder as om veilig speel. ’n Mens bak anders as jy bak om ’n prys te wen (as wanneer jy bak om nie uit te val nie).

Hoekom dra die deelnemers nie haardoekies nie?

Koekedoor is vir amateurbakkers en mense soos jou ma en ouma wat kan bak dat die biesies bewe. Ons probeer ook om, so ver as moontlik, die omstandighede so amateur en huislik te hou as wat ons kan – en niemand bak met ’n haardoekie in sy/haar eie kombuis nie! Ons het wel vir die deelnemers gereeld gevra om hulle hare weg te bind en ook seker te maak om nie aan hul hare (en dan aan hul gebak) te raak nie.

Sjoe, daar is mooi ligte in die stoor! Kan ek dit iewers koop?

Baie van die items, soos die ligte, is pasgemaak deur Koekedoor se kunsdepartement, en is ongelukkig nie iewers anders beskikbaar of te koop nie.

’n Bakster wat op Koekedoor-vlak bak en nog nooit met ’n elektroniese skaal gewerk het nie…?

Toerusting bepaal beslis nie hoe knap ’n bakker is nie. Koekedoor is juis vir amateurbakkers, en nie almal het toegang tot die jongste tegnologie nie.

Maar van die Koekedore het dan hul eie ondernemings – hoe is hulle dan amateurbakkers?

Die klem is op ’n “professionele kombuis”, nie bloot ’n kommersiële onderneming nie. Nie een van die Koekedore het al onder ’n professionele sjef of in ’n patisserie of bakkers-afdeling gewerk vir opleiding nie. Hulle is dus nie professioneel gekwalifiseerd nie. In die keuringsproses kyk ons ook na elke geval in die besonder op meriete en weeg elke faktor. Ons doen ook deeglike onderhoude om alles in ag te neem.

Hoe smelt ek sjokolade om in vorms te gooi? Myne is taai.

Kanya (Koekedoor-deelnemer), bekend vir haar sjokoladewerk, antwoord:

Die antwoord is nie sommer net kort en eenvoudig nie, want die probleem kan veroorsaak word deur talle faktore.

Ek werk net met koevertuur-sjokolade en hier is die belangrikste punte:

– Sjokolade moet stadig gesmelt word teen 49-50 grade Celcius. As jy dit te warm smelt, gaan jy die sjokodale brand.
– Sjokolade moet getemper word – dit is ’n eenvoudige proses waar stabiele kakaobotter-kristalle/sjokolade weer terug geplaas word by die gesmelte sjokolade en die temperatuur dan weer na 29-31 grade Celcius gebring word, afhangend van die tipe sjokolade.
– Enige vorm kan gebruik word. Ek gebruik stabiele vorms van harde akriel uit België.
– Moet nooit iets spuit in die vorm nie. Die feit dat jou sjokolade vassit is te wyte aan swak getemperde sjokolade.
– Vorms kan nadat dit gevul is vir ’n paar minute in die yskas gehou word sodat die sjokolade goed kan set en krimp.

Kyk Koekedoor, Donderdae om 20:30 op kykNET.