Logo

Koekedoor Episode 12: Die eier kraai koning

Nuus
29 Mei 2015
Die Koekedoor-kombuis sou nie sonder die nederige hoendereier kon klaarkom nie.
Ep 12 Opsomming
Die Koekedoor-kombuis sou nie sonder die nederige hoendereier kon klaarkom nie.

Die Koekedore het vandag drie kanse om ’n plekkie in die finaal los te slaan. Elke beoordelaar het op ’n bakkerstoets besluit en eerste aan die beurt is tannie Elizabeth. Meringue-roulade het sy eie vangplekke, sê sy.

“Ek gaan die hoender uit die eier ruk,” sê Martjie. Sy gebruik mielieblom en witasyn om haar meringue ’n sagter voorkoms te gee.

Mareli gebruik haar tannie Nettie se resep, en kap ’n kokosneut-dop só hard dat sap spat en die beoordelaars hande klap. Dis soos “om ’n hoender se kop af te kap”, sê sy.

Gerda is bekommerd wanneer sy haar roulade uitkeer, maar Mari-Louis stel haar gerus: ’n Roulade is bros buite en klam binne. Boonop is haar roulade ’n visuele treffer.

Daarna is dit tyd vir Mari-Louis se Meringue de Angel-koek. Die eierwit is dié gebak se vlerke, sê sy, en die Koekedore moet versigtig wees om nie die eierwitte te veel te klits nie.

Suikerbrood is nie ’n maklike ding nie, meen Mareli.

As die kompetisie nie vroeër al witwarm was nie, is dit nóú, en Gerda lees byna nie ’n belangrike bestanddeel in die resep raak nie. Mareli wonder weer hoe ’n engel se vlerke nou eintlik moet lyk.

“Hier baklei ons nie met mekaar nie,” sê Mareli. “Ons baklei met die koek.”

Mareli se koek is vir Mari-Louis die “Versace van koeke”, waar Martjie en Gerda se koeke dalk beter van buite as binne lyk.

Tiaan het op die Koekedore se finale uitdaging besluit: drywende eilande – meringue met eiervla, wat met praline of spinsuiker bedek is.

Mareli gee haar pronkgebak ’n Oosterse geur, en molekulêre gastronomie word ingespan om “viseiers” te maak. Martjie versier haar gereg met gesoute karamel-springmielies en amandel-“financier”, en die beoordelaars wonder hoekom Gerda pynappelringe braai.

Die beoordelaars dink Martjie se drywende eilande is speels en gesofistikeerd, en is verder beïndruk met Mareli se konsep. Gerda het growwe suikerwerk as garnering ingespan, terwyl die beoordelaars eintlik na spinsuiker op soek is.

Die Koekedoor wat vandag geslaag het om ode aan die eier te bring is Mareli.

“Ongelukkig moet ons een van ons beste vriendinne vandag groet,” sê Mari-Louis, en Gerda word die agtste Koekedoor om die stoor te verlaat. Haar oorlede ma sou baie trots gewees het op haar, sê Gerda. “Ek gaan trots huis toe.”



Besoek Koekedoor se webblad vir meer.