Logo

Koekedoor: Dis Kersfees!

Nuus
27 Mei 2016
Elke dag in die Koekedoor-stoor is ’n gróót dag, maar vandeesweek word die belangrikste dag gevier – Kersfees!
Koekedoor Kers 1

Elke dag in die Koekedoor-stoor is ’n gróót dag, maar vandeesweek word die belangrikste dag gevier – Kersfees!

“Koekedoor-Kersfees,” sê Corli. Meer as een Kersfees is mos nie oorbodig nie.

Mari-Louis se ouma het altyd ’n klein houertjie kondensmelk vir Kersvader gelos. Dan het jy gewéét dis Kersfees! Sy pik ’n traantjie weg wanneer sy aan haar kinders dink.

Kerfeesgees loop hoog, en die grootste geskenk wat die deelnemers vandag kan ontvang is die nuus dat niemand dié week die stoor gaan verlaat nie.

Op die spel vir die wenner is hout-kombuistoerusting ter waarde van R10 000 van My Butchers Block én Lekkeslaap-geskenkbewyse van R15 000.

Die tyd om Kersfees te hou is nóú en die Koekedore spring weg met hul eerste uitdaging: eetbare koekies vir geskenke of versiering.

“Dié koekies is moeilikheid soek,” sê Wessels. Die tuisgebak-uitdaging roep herinneringe op aan kleintyd op die plaas, koffiekoekies bak saam met Ouma en waatlemoen eet op die grasperk. Hy bak koffiekoekies en hawermoutstafies.

Kanya se skoonma “ís Kersfees”, sê sy. “Sy dra Kerfees-rokke, sy sit Kersfees in haar ore, sy dra Kersfees-borsspelde en ek dink sy sing ‘Jingle Bells’ omtrent die hele tyd. Sy is net Kersfees-moeder.”

Sy bak speserykoekies en Duitse koekies, ’n swart en wit gebak.

Sanet se ouma het Kerstyd ingelui met Kersliedjies op die klavier, en die kinders het altyd rondom haar gesit terwyl sy die klawers getokkel het en saamgesing. “Ons doen dit tot vandag toe nog.”

Koekies met witsjokolade-splinters, ’n taai koekie, is haar gunsteling, en sy voeg neute en kersies by. Sy bak ook haar ma se “crunchies”.

Tara bak die sjokolade-en-bessie-koekies wat gewoonlik deel is van die geskenkpakkies wat hulle jaarliks saam met Kersete geniet. Sy maak ook speserykoekies en ongebakte koekies met witsjokolade, neute en malva- en Turkse lekkers.

Corli kies bros klapperkoekies, soetkoekies en sjokoladekoekies. “Smake waarvan ek hou,” sê sy. Wilandi bak gemmerkoekies.















Halfpad deur die uitdaging raak die Koekedore die pad byster. Kanya noem dit “die Kersfees van hel”, want “die degies rus nog” en nie ’n enkele koekie is al in die oond nie. “Die pad is duister,” sê sy.

Iewers elders in die stoor slaan Corli ’n paar vlamme dood. “Okei, so nou het ek ’n vuur gemaak in die kombuis.”

Sanet sê: “Ek het van die begin af gesê ek is nie hier om vriende te maak nie. Ek is hier om koek te bak.”

Wilandi sê: “Nóú raak die kompetisie taai. Een voetjie verkeerd, en jy is weg.”

Die fyngebak-uitdaging nooi die ware Koekedore uit om na die partytjie toe te kom. Vandag word hul Kerskoek-repertoire uitgebrei met gevulde speculaaskoek en keurig-versierde lebkuchen, ’n soort speserykoekie, om aan hul Kersbome te hang.

Tannie Elizabeth en Tiaan gesels oor vrugtekoek en vernuwing.

Haar tannie was ’n ruk in Holland, vertel Kanya, en het haar bekend gestel aan speculaas.

Sy gaan moet “spekuleer oor die speculaas,” sê Sanet. Die Koekedore moet die speculaaskoek vul met die geurige vulsel, wat ’n hele rits speserye bevat, en marsepein-balletjies.

“Ek gee op,” sê Tara terwyl sy sukkel om haar speculaaskoek van die werksoppervlakte af te kry.

Wilandi sê die oomblik wat sy voel sy het beheer moet sy wéét: “Chaos is op pad. Gróót chaos is op pad.”

Vir die pronkgebak-uitdaging is die beoordelaars op soek na ’n vrede-op-aarde Kersboomkoek. Hulle put inspirasie uit die Yule-boomstompkoek (of Bûche de Noël). Dié koek se geskiedenis gaan terug na die Ystertydperk in Europa.

Sanet spring weg met ’n groentee-moskoek, gevul met sjokolade en gemmer. Wessels maak ’n somerbries-rol met suurlemoensmeer en pepermenttee-roomys. “My woud is ’n somerwoud,” sê hy.

Wilandi maak haar eie dukkah en “sjokoladegrond”. Tara maak “klippe” van fudge en malvalekkers. Corli kies appelliefies en sitrus-likeur.

Kanya kombineer die geure van sjokolade en salie. Sy vertel die antieke Asteke het sampioene geëet, en dít het hulle “op ’n stasie van ’n ander plasie geplaas.”

Dit dien dan ook vandag as inspirasie, en sy wil speel met die “magiese aspekte” van sampioene. Sy maak sjokolade-rolkoek en maak onder meer poeier van sampioene en dille.

Tannie Elizabeth meen die Koekedore het vandag ’n storm losgebak. Die deelnemers wat egter vandag steeds in die stoor gesukkel het, is Wilandi, Tara en Wessels. Sanet, Corli en Kanya het die beste gevaar en die Kerfees-koningin is Kanya.

Kyk Koekedoor, Donderdae om 20:30.