Logo

Koekedoor: Die sirkus kom dorp toe

Nuus
22 April 2016
Die Koekedore is hierdie week na ’n towerwêreld verplaas. Lees hier hoe dit verloop het, en wie se toertjies hulle bo laat uitkom het.

Die Koekedore is hierdie week na ’n towerwêreld verplaas. Drie uiteenlopende uitdagings moet voltooi word, en vandeesweek is dit fudge (tuisgebak), ’n prettige Funfetti-koek (fyngebak) en weelderige toffieappels (pronkgebak).

Die beoordelaars Mari-Louis Guy, Tiaan Langenegger en Elizabeth Cloete wag die deelnemers in met spookasem en gedraaide suikerlekkers. Gepas, want vandág reis almal terug na die speelplekke van hul kinderdae.

Pretparke en stowwerige sirkustente dien as inspirasie, en vandeesweek se tema laat Elizabeth terugdink aan die Boswell-sirkus en ’n tyd wat bestanddele soos witmeel en witsuiker onverkrygbaar was. As haar pa die dag by die huis gekom het met lekkers, “dan weet ons die sirkus is daar!” sê sy.

Dan spring die Koekedore weg met hul eerste uitdaging. Die beoordelaars is op soek na 24 perfekte blokkies. “Suiker is verskriklik onvoorspelbaar,” sê Wilandi.

Kry haar resep vir bruinsuiker-en-gemmer-fudge hier.

“Jy los hom nie; jy roer vir hom,” is Kanya se raad.

Anja tem die soet deur ongegeurde jogurt te gebruik. Sy voeg ook pekanneute by.

Suretha is nie tevrede nie. “Ek het nog nooit sulke lelike fudge gemaak nie. Nog nooit nie.”

34 koekedoor 2.8350


Suiker het dalk die oorhand gekry oor van die deelnemers, maar Mari-Louis se indrukwekkende mallemeulekoek, wat ook uit ’n swartbord-fopkoek bestaan, is ’n heerlike tameletjie.

Kry Mari-Louis se wenke vir swartbordkoek hier.

“Ek en eiers het mekaar nie verstaan vandag nie,” sê Kanya, wat telling van haar eierwitte verloor het. “Wen is nie iets waaraan ek nou dink nie.”

Die swart fondant het almal benoud, en daar word geknie, gerol, oorgetrek, gepleister en weer probeer.

Sanet gebruik gekleurde sjokolade om op haar fondant te “verf”, omdat dit meer soos bordkryt lyk.

“Welkom by die malhuis,” skryf Wessels op sy fondant, want “dit is hoe dit toe gevoel het.”

34 koekedoor 2.8930


Voor die pronkgebak-uitdaging aanbreek, sê Martie: “Ek weet ek is op dun ys.”

Toffieappels is die simbool van enige pretpark wat sy stroop werd is, meen Mari-Louis. Hulle is op soek na ses fabelagtige toffieappels, wat met suikerwerk versier is.

’n Toffieappel is ’n “skaam ding” en “iets wat nie wil blink nie”, sê Sanet.

Kry haar resep hier.

Die appels moet stadig in die suikerstroop gedraai word, sodat dit nie borrels maak nie, is Anja se wenk. Volgens Tiaan moet elke appel gepoets word, om seker te maak die suiker klou behoorlik daaraan vas.

Wessels se toffieappels pronk soos ’n pou. “An apple a day, and then the judges come and you pray,” sê hy. “Dís hoe dit gaan wees.”

34 koekedoor 2.9408

34 koekedoor 2.9442

34 koekedoor 2.9471



Saam met die pret, kom een Koekedoor se mallemeule-rit vandag tot ’n einde. Die beoordelaars is bekommerd oor Suretha en Martie se pogings, en Elmarie word die eerste deelnemer om die stoor te verlaat.

Sanet se sirkus-toertjies het die beoordelaars die meeste beïndruk, en vandag word sy as episode-wenner aangewys. Hulle was ook baie tevrede met Wilandi en Corli se pogings.

Kyk Koekedoor, Donderdae om 20:30.