Logo

Kersfeesfliek met warm hart en siel in Desember op kykNET – Desemberdiewe

Nuus
05 Desember 2022
“Nostalgiese, stoutgat-samesyn vir die hele gesin.”
Desemberdiewe Article Image

Wat is die Kersseisoen sonder ’n goedvoel-Kersfeesfliek? Hierdie Desember vier kykNET die feestyd met ’n speelfilm wat die feestyd deur die oë van kinders sien –  Desemberdiewe, ’n rolprent wat die hele familie saam kan geniet.

Carla Smith het Desemberdiewe geskryf en ook die regie behartig. Die rolverderdeling sluit verskeie bekende akteurs en drie opwindende jong nuwelinge in. Dit vertel die storie van die ondeunde 11-jarige Jó (Judi Hattingh) wat moet leer om soet te wees, selfs wanneer niemand daar is om te sien wat sy aanvang nie. Dis somer en Kersfees is om die draai. Jó en haar ma, Retha (Roeline Daneel), het onlangs na ’n klein dorpie getrek, maar Jo sal liewer op enige ander plek op aarde wees as daar.

Nadat sy leer van karma, besluit Jó dat om Kersfeesgeskenke van die rykes te steel en aan die kinders by die weeshuis uit te deel die ideale manier is om aan die universe te wys sy verdien beter behandeling. Sy ontmoet vir Lem (Juan-Christoff Smith) en Azul (Blake Pharo) en die aardige klein bende begin planne smee onder die waaksame oog van die plaaslike polisieman, Sersant Kleingeld (Marvin-Lee Beukes).

Loer hier na die amptelike lokprent: 

Temas van omgee, vriendskap en mededeelsaamheid, asook eensaamheid en swaarkry vorm deel van hierdie hartverwarmende vakansieprent. Hierdie idees word verken deur middel van die volwassenes en jeug se verskillende perspektiewe op Kersfees: nag vs. dag, wette vs. persoonlike moraliteit, verantwoordelikheid vs. sabotasie, en samehorigheid vs. isolasie.

June van Merch, Charlton George, Lida Botha en Faniswa Yisa speel ook in Desemberdiewe, wat op Saterdag 17 Desember om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) première.

“Ek en my lewensmaat, Beer Adriaanse, probeer maandeliks ’n sessie hê waar ons idees rondgooi en gate in mekaar se konsepte skiet,” verduidelik Carla oor hoe die saadjie vir Desemberdiewe geplant is. “Ons het gekyk na die idee van genre-films en aangesien Kersfees vir my familie baie na aan die hart is, was dit een van ons idees. My oupa en ouma woon in Wolseley en ons hou van kleintyd af Kersfees saam met al die niggies en nefies. Dis van my gunsteling-herinneringe aan my kinderdae: die breë, leë strate, die liggies, die somerson wat tot laat brand en die familie wat op die stoep sit en luister na die gemeenskap se Kerskoor wat van deur na deur beweeg. Ek is mal oor kinders en wou ook wys dat daar baie lekkerder dinge is as om op ’n foon te speel. Daardie kinderkreatiwiteit wat van werklike verveling kom, is een van die redes waarom ek die platteland so lief het.”

Desemberdiewe is grotendeels in McGregor verfilm en Jaco Nothnagel, die vervaardiger, sê dit was ’n lang proses om die drie jong spelers te kry. “Maar hulle is werklik ’n baie spesiale groep kinders,” sê hy.

Desemberdiewe
Desemberdiewe
Desemberdiewe
Desemberdiewe
Desemberdiewe
Desemberdiewe
Desemberdiewe
Desemberdiewe
Gallery

“Om goed voorbereid te wees en duidelik en gaaf met almal te kommunikeer is die enigste manier,” sê Carla oor haar aanslag as regisseur. “Om die stel ’n lekker plek vir kinders te maak, is maklik. Hulle het almal van die eerste dag maats geword en toe was die film eintlik die laaste ding waaraan hulle gedink het. Die uitdaging was om dit vir hulle pret te maak. Baie energie, grappies en lekkers was die antwoord. Maar ons het die mees professionele, lieflikste kinders ooit gehad en ek het my amper nooit oor hulle bekommer nie.”

As sy Desemberdiewe in een sin moet beskryf, wat sal dit wees?

“Nostalgiese, stoutgat-samesyn vir die hele gesin.”

*Skakel Saterdag 17 Desember 20:00 in op kykNET (DStv-kanaal 144) vir Desemberdiewe.