Logo
Straat S1 Slim BB
web uni tv guide

Straat

144Drama13 VL

Ken jy werklik jou bure?

Nuus
22 September 2023
In die nuwe kykNET dramareeks "Straat", gaan 'n fluitjieblaser onder getuienisbeskerming. Is hy veilig waar hy nou woon?
Straat cast

’n Nuwe dramareeks maak op 17 Oktober om 20:00 sy debuut op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks, met die bondige titel, Straat, spog met ’n uithaler-rolverdeling en ’n storie met genoeg kinkels om jou ernstig te laat wonder: Weet jy wat werklik in jou straat aangaan? Hoe goed ken jy jou bure?

In Aarbeistraat, ’n cul-de-sac in ’n middelklasbuurt wat op die oog af heel rustig lyk, het elkeen van die inwoners hulle eie storie.

Maar kom ons begin by die begin. Die aartskelm Anton Videns (Frank Opperman), grootbaas van ’n finansieringsmaatskappy, en sy vennote is diep in die moeilikheid. ’n Fluitjieblaser gaan in die hof teen hulle getuig, en hulle sal enigiets doen om dit te verhoed.

Die fluitjieblaser, wat ’n IT-boffin is, woon onder die skuilnaam Robert Muller (Nico Panagio) in Aarbeistraat waar hy onder getuienisbeskerming is.

Zelda Postma (Amalia Uys) woon ook in dié doodloopstraat. Sy is ’n vlymskerp prokureur wat die taak het om Robert veilig te hou met die hulp van Potifar Vorster (Morné Visser), of Pote, soos almal hom noem. Pote is ’n afgetrede polisieman, en hy en sy vrou, die verpleegster Lorrie (Marisa Drummond), is benewens Zelda die enigste mense in Aarbeistraat wat weet Robert is onder getuienisbeskerming.

Trix Louw (Hélène Truter) is ’n hartseer weduwee en eiendomsagent. Haar seun woon in Kanada, en dis net haar honde wat haar enige vreugde verskaf.

Hannes Brümmer is Maxwell Smit, die plaaslike apteker wat meer as net pille smous. Hy en sy floskoppie-vrou, Retha (Cintaine Schutte), woon naby Jakkie van Tonder (Leandie du Randt) en Hendrikkie Fourie (Arno Meyer). Jakkie, ’n weeskind, het haar eie onderneming wat mense met rekenaarstelsels by die huis help.

Nicole Holm is Vinkie Beerwinkel, ’n vrou met ’n oordonderende persoonlikheid wat alles sal doen om ’n sekuriteitsmuur om die hele Aarbeistraat te bou. Deon Coetzee is haar man, Basie, op wie se kop sy vierkantig sit. Wiseman Sithole en Edith Plaatjies is die Makebas, Xolani en Nyakallo, en Wilhelm van der Walt is Billy Vogel, ’n glibberige fotograaf wat enigiets sal doen vir geld.

Kate Normington, Josias Moleele en Kiroshan Naidoo speel Anton Videns se vennote. Kevin Smith, Melt Sieberhagen, Mandri Sutherland en Celeste Loots is in van die ander gasrolle te sien. 

Die regisseur is Morné du Toit wat bekend is vir flieks soos HoofmeisieNul is nie niks nie en Vuil wasgoed.

  • Straat begin op 17 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.