Logo

Kanarie vlieg na die VSA

Nuus
05 Junie 2019
Lees meer.
Screenshot 2019-06-06 at 15.45.20

Die Christiaan Olwagen-film Kanarie gaan vanaf Vrydag, 7 Junie in Los Angeles se Leammle Glendale-teater verskyn, wat gevolg sal word deur die vrystelling van die film op DVD en VOD-platfoms vanaf 18 Junie. Dié fliek speel af in 1985 tydens Apartheid en is gebaseer op ’n ware liefdesverhaal wat fokus op selfaanvaarding. Dié vrystelling, deur Breaking Glass Pictures, is goed gepas met die viering van Pride-maand in die VSA.

Richard Ross van Breaking Glass Pictures beskryf die film as “innemend en opreg”. Hy verduidelik: “Hierdie verhaal neem ons terug na die 80’s, toe ’n groep verlore siele die stem van Boy George gebruik het as ’n simbool vir hoop om vir ons leiding te bied. Met besonderse vertonings en uitstekende skryfwerk is Kanarie beslis ’n onvergeetlike toevoeging tot die fees.”

In Suid-Afrika het dié film verwagtinge oortref. Die ervare film-resensent Leon van Nierop het die film beskryf as “braaf en uniek”, en bygevoeg dat dit nie misgeloop kan word nie. 

Volgens Marianne Tham is Kanarie ’n “sagte meesterstuk” wat kykers dwing om vrae te vra oor onder meer rassisme, wit manlike magsmisbruik, homofobie, selfhaat, aanvaarding, seksisme, vrouehaat, geloof en oorlog.

Dié film spog ook met 17 toekennings vanaf verskeie film feeste regoor die wêreld. Kanarie het onder meer toekennings gewen vir beste LGBTQ-film by die Cape Town International Film Market & Festival. Dit het ook die toekenning vir beste verhaal by die Chicago Reeling-filmfees sowel as beste vollengte film by die Roze Filmdagen-fees in Amsterdam ingepalm.

Mede-vervaardiger Roelof Storm sowel as die regisseur, Christian Olwagen, gaan tydens hierdie vrystelling in die VSA wees om die film en Suid-Afrika te verteenwoordig. Jaco Smit, direkteur van Marche Media, het gesê: “Ons is baie trots op hierdie mylpaal-prestasie vir ons klein Suid-Afrikaanse film en is opgewonde om groter gehore te bereik oorsee. 

Dit is duidelik dat dié storie die perke van taal en kultuur oortree en spreek tot die mensdom waarmee ons almal verband hou,” het hy verder gesê.

As jy jouself in Los Angeles vind, kan jy hier jou kaartjies bespreek. Jy kan ook die film volg op Facebook, Twitter en Instagram deur die hutsmerk #Kanarie te gebruik.