Logo

Johan wil hart oopmaak – Boer Soek ’n Vrou 11

Nuus
14 Oktober 2018
Hy wil nie té vinnig verlief raak nie, maar Boer Johan het baie om te gee.
BSV-11-Johan

Ná matriek het hy eers ’n draai in Amerika gaan maak, vertel Johan (30), wat naby Reivilo in Noordwes met beeste boer. Van daar af het hy vir sy pa geld gestuur om namens hom ’n stukkie veld en ’n paar beeste in Suid-Afrika te koop.

Die boer het teruggekeer om saam met sy pa te boer, maar het kort daarna voor die uitdaging gestaan van sake alleen bestuur. Sy pa is sowat twee jaar terug oorlede.

Vandag is Johan behoorlik aan die gang en opgewonde oor die vooruitsigte wat die boerdery inhou, maar wil graag ’n maat aan sy sy hê.

Wanneer plaaslewe hom nie te besig hou nie, is hy ’n mikrotuig-vlieënier en neem hy aan skietkompetisies deel. Oor naweke is daar altyd ’n braai of ’n troue om by te woon, wat help om die stilte uit te doof.

“Ek het ’n hart vol liefde,” sê die boer, wat net “liefde en geluk” in ’n verhouding wil hê. “As ander kyk . . . ek wil hê hulle moet jaloers wees, só goed gaan dit!”

Hy meen hy is romanties, en is op soek na ’n vriendelike, spontane vrou met wie hy ’n spesiale konneksie deel. Een van die grootste lesse wat hy uit vorige verhoudings geleer het is om sy hart nie dadelik teenoor iemand anders oop te maak nie.

Johan en nege ander boere se soeke na liefde begin op 18 Oktober 2018, en kykers kan elke Donderdag om 20:00 inskakel om die reis te volg. Gesels ook saam op Facebook, Twitter en Instagram.

Ons wil graag van jou hoor! Lug jou mening elke week op ons webblad en, wie weet, jy en jou vriende kan dalk ’n middagete met aanbieder Leah losslaan!