Logo

Insig: Zille se vroeë uittrede

Nuus
14 April 2015
Die moontlike redes vir Helen Zille se vroeë uittrede as DA-leier is vandeesweek onder die soeklig geplaas.
Waldimar_Insig

Die moontlike redes vir Helen Zille se vroeë uittrede as DA-leier is vandeesweek onder die soeklig geplaas.

Dr. Piet Croucamp, politieke ontleder aan die Universiteit van Johannesburg, was in die ateljee om hieroor te gesels. Op die aanbieder Waldimar Pelser se vraag oor Zille se skielike aankondiging, het Croucamp gesê hy is nie verras nie. Hy het vertel Zille het vroeër in sy teenwoordigheid gesels oor daardie “groot oomblik” wanneer die DA ’n swart leier kry. Die vraag was dus net wanneer.

Hy reken dis belangrik dat die party effens na links beweeg en meer sosiaal-demokraties moet wees. “Ek dink nie sy kon nou met selfvertroue weer vir daardie posisie geveg het én dan nog argumenteer dat die DA meer swart moet wees nie,” het Croucamp gesê.

Oor Mmusi Maimane en Patricia de Lille, albei kandidate vir die Wes-Kaapse leierspos, het Croucamp gesê De Lille het die meeste ervaring. Hy het egter gesê dit sal die DA se poging om swart stemme te werf in die wiele ry.

Croucamp het gesê Maimane is dalk ’n goeie spreker, maar nie ’n sterk leier nie. “De Lille is die enigste swaargewig.”

Die swart middelklas is die enigste groep wat eintlik nog polities “oorgekoop” kan word, het Croucamp gesê. “Hulle sal eenvoudig swart leiers moet kry.”

Zille het die DA in ’n sosiaal-demokratiese party verander en dís haar nalatenskap, het Croucamp gesê.

Ook in die ateljee was Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, om oor die skending van standbeelde regoor die land te gesels. Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse onderwysunie, en prof. Jannie Rossouw, ekonoom by Wits, het meer oor die sukkelende loon-onderhandelinge in die staatsdiens vertel en die senior politieke joernalis Carien du Plessis het oor Robert Mugabe se besoek aan die land gesels.

“Zuma en Mugabe is nie vriende nie, maar daar is ekonomiese faktore wat hulle nader aan mekaar dryf,” het Du Plessis gesê.