Logo
kN Digital Banners Template In die SopSlim Homepage 1600x160
web uni tv guide

In Die Sop

144RealiteitPG13 L

In Die Sop terug vir nóg 'n evolusie

Nuus
15 Maart 2022
In Die Sop: Restaurant Evolusie begin op Woensdag 27 April om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.
In die sop 2

Die glanssjef, Bertus Basson, dek binnekort die tafel vir die tweede seisoen van die gewilde restaurant-oormaakreeks, In die Sop: Restaurant Evolusie, wat van Woensdag 27 April op die kykNET-spyskaart is.

Bertus, wat ’n handvol sukesvolle restaurante in Stellenbosch, soos Overture, Spek en Bone, Die Vrije Burger, Geuwels en Clara’s Barn, besit, spring weer in om ander restaurante te help om te vernuwe en uitblinkers te word.

Twaalf Wes-Kaapse eetplekke, van Doringbaai tot Montagu, Gordonsbaai tot Swellendam, gaan baat vind by Bertus en die dekorkenner Misi Overturf se kennis en ervaring.

Soos tevore gaan daar in elke episode gewys word hoe ’n eetplek in drie dae ’n transformasie ondergaan.
Kykers gaan kan toekyk hoe daar nuwe lewe binne 72 uur in restaurante, wat wissel van alledaagse eetplekke tot fynproewer restaurante, geblaas word.

“Almal hou van ’n goedvoel-storie, waar iemand ’n tweede kans kry om vars te begin,” sê Bertus.
“En met In die Sop, gaan dit nie net oor die eindresultate nie, maar veral oor die verskil wat dit in al die betrokke partye se lewens maak.”

Bertus en sy span deskundiges kan enige iets verander – dit sluit die naam, dekor, uitrustings van die personeel, die spyskaart en die kombuisopset in.
Volgens hom poog hy en sy span om restauranteienaars met hul kennis en ervaring te bemagtig en te inspireer.

“Soos tevore is daar geen heilige koeie nie en ons woeker met die restaurante se kombuis, uitleg, meubels en disse, maar danksy die eerste seisoen het die nuwe deelnemenende restaurante ’n beter idee wat die resep behels.”

Die eerste reeks van In die Sop het veral gehelp om die gekose eetplekke, wat onder die streng inperkingsmaatreëls van die Covid-19-pandemie gebuk gegaan het, huishoudelike name te maak. Boonop het die reeks nie net nuwe klante gelok nie, maar self plaaslike toerisme bevorder.

“Dus is dit nie net die restauranteienaars wat voordeel uit hul deelname aan In die Sop trek nie, maar ook die groter gemeenskap,” sê Bertus. 

Die eerste seisoen kan op Showmax gestroom word. 

In Die Sop: Restaurant Evolusie begin Woensdag 27 April om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.